Sunday 30 June 2024

Oomblik van stilte: Psalm 40:29

Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie.

God sien die moeite en ure wat jy insit elke dag, maar alles wat jy so sorgvuldig beplan, werk nie altyd uit nie en werk negatief op jou in. Weet verseker jy is nie die enigste een met wie dit gebeur nie. Dink daaraan dat al daardie probleme tot die eer van God uitwerk.

Die dissipels moes twee keer in storms vaar in die pikdonkerte van die nag. Dan het Jesus met die storms gepraat en die storms het gehoor gegee en het stil geword. Die dissipels het verwonderd aan Jesus eer gegee. Siekes en krankes het Hy genees al was hulle vir baie jare in die toestande, net sodat God verheerlik kon word. Dit is 'n uitgemaakte saak dat God jou wil versterk as jy vermoeid is, sodat die Vader verheerlik kan word.

Noudat jy dink dat jou reg, by God, verbygegaan het, toe jy gedink het jou weg is vir die Here verborge (sien vers 27), vra Hy jou: Weet jy dit nie en het jy nie gehoor ... Hy word nie moeg of mat nie. (vers 28).

O Here my God, U is 'n ewige God, die Skepper van die eindes van die aarde. Ek weet dit en ek het dit gehoor. As ek nie meer kragte oor het nie, vermenigvuldig U my sterkte. Ek sal nie moeg, of mat word as ek hardloop nie. Ek wag op U en vaar op met vleuels soos die arende oor my probleme. U, is my redding en krag en sterkte. My weg is nie vir U verborge nie en my reg gaan by U nie verby nie. Alles gebeur tot U heerlikheid en eer. Amen

(Lees gerus Jes. 40:27-31)

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

No comments:

Post a Comment