Aftree-oord ... oudwordplek ... doodgaanplek? Dis wat ek gedink het toe ek en my man ouetehuis toe is. Dit was regtig vir my 'n krisis in my lewe. Ek het moedeloos, lusteloos en depressief geword. Waarom Here? Waarom moet ek afstand doen van soveel van my goed? Gaan my kinders vir my kom kuier of gaan ek nou vereensaam?
Maar toe het ek om my begin rondkyk en die mooi rondom my raakgesien. Nou weet ek om jonk te wees, het niks met jare te doen nie. Jonkwees is 'n gemoedstoestand, 'n wilsbesluit. Jare rimpel die vel, maar 'n gebrek aan hoop en entoesiasme laat rimpels in die gemoed.
So kyk ek na my buurman oorkant my ('n Altzheimer-geval), wat 'n paar keer op 'n dag met sy loopraam na sy voorhekkie loop, op en af in die pad kyk ... "Wanneer kom kuier my kinders dan?" Ek, daarenteen, kan in my kar klim en na my kinders en kleinkinders ry as ek na hulle verlang. Dankbaar!
'n Vriendin wat 'n geamputeerde been het, se dogter kom kuier elke middag vir haar en stoot haar deur die oord om na almal se pronktuine te kyk. Ek, weer, geniet my eie tuintjie met al sy kleure en geure waar ekself my vingers in die grond kan druk. Dankbaar!
'n Ander vriendin het 'n pragtige huis en tuin gehad. Nou lê sy in 'n kamer en staar om haar heen. Sy gryp elke besoeker se hand vas: "Moenie nou loop nie - bly hier by my." Ek kan vrylik rondbeweeg en gaan kuier wanneer en waar ek wil. Dankbaar!
Ek kan nog soveel vir ander beteken - drukkies uitdeel - vir sommige mense is dit die enigste drukkie wat hulle ooit kry. Ek kan vir ander bid. Dankbaar!
Dankbaar vir lewe, dankbaar vir liefde, dankbaar vir genade!
[Anoniem]
Koop gerus hierdie boekie God maak stukkende mense heel, 2018/2019, met stories van hoop by Dutoitspan Kerkkantoor - 053 842 1100 @ 'n bekostigbare R50,00.
No comments:
Post a Comment