Tuesday 25 June 2024

Terugflits: Kimberley Jim en die perde

Dit kan 'n liegstorie ook wees, maar 'n man wat grys sou gewees het as hy nie bles was nie, vertel nou die dag in 'n vliegtuig 'n interessante storie.

Agt maande gelede, sê hy, staan een van sy kollegas, wat Kimberley Jim genoem word, een môre voor 'n plek waar mense geld op die perde verwed.

Kimberley Jim, wat dikwels wens hy kan vinnig ryk word, soos die delwers by Kimberley, vroetel in sy voorsakkie en haal R14 uit.

Hy staan nog so met die R14 en wonder of hy moet of liewer nie, toe staan 'n ou tannie van maklik 75 langs hom.

Sy wil haar nie met sy sake bemoei nie, sê sy, maar as hy die winste met haar deel, sal sy die geld gaan verwed volgens 'n stelsel wat sy van haar oorlede man geleer het.

Kimberley Jim is die soort mens wat grys tannies vertrou, met die gevolg dat hy die geld aan haar gee en 'n afspraak maak om haar die middag ná die wedrenne op dieselfde plek te kry.

Dit is toe dat hy sy eerste R350 000 gewen het.

Die ou vroutjie was sesuur daar met die wedkaartjie in haar hand en hulle het saam-saam die R700 000 gaan opeis.

Die volgende twee weke het Kimberley Jim haar elke wedrendag daar in die straat gaan soek, maar dit was eers in die derde week toe hy met R250 in sy hand voor die wedplek staan, dat sy skielik weer langs hom opduik.

Sy het R25 geneem en hom gedwing om die ander geld in sy sak te steek. Toe hulle dié middag sesuur weer voor die wedplek staan, was hulle elk R400 000 ryker. 

Na nog ses weke, sê die bleskop, was Kimberley Jim 'n man met byna R2 miljoen in die bank, maar met geen benul van wie die ou tannie is nie.

Al wat sy wou sê, is dat sy die Booysens-bus huis toe haal en nie saam met vreemde mans in motors ry nie.

Eers ná hul tweede groot geluk het hy sy vrou van die ou vrou se rol in sy geldwennery vertel. Hy het toe al vir sy vrou 'n nuwe motor gekoop en 'n stapel R50,00-note in haar handsak gedruk terwyl sy geslaap het.

Die meeste vroue sou dankbaar gewees het, maar Kimberley Jim s'n is 'n agterdogtige, jaloerse vrou. Sy glo nie die storie van die ou tannie en die weddenskappe nie.

Die volgende maand het sy elke wedrendag saam met Kimberley Jim voor die wedplek gaan staan, maar die ou vroutjie het nie een keer opgedaag nie. Kimberley Jim se vrou het hom begin wantrou.

Verlede week, toe sy vrou nié saamgaan nie, loop Kimberley Jim weer die ou tannie raak en sy gaan verwed R18 000 op die perde waarmee hulle elk oor die R200 000 wen.

Toe hulle dié aand groet en van mekaar wegstap, maak Kimberley Jim 'n draai en volg haar tot by die busterminus.

Hy klim vinnig voor haar in die Booysens-bus en gaan sit heel agter. Na 'n rukkie klim sy ook in en gaan sit omtrent in die middel. So ry hulle toe saam-saam Booysens toe.

Soos 'n regte speurder klim Kimberley Jim skelmpies by die bushalte af waar die ou tannie afklim en stap 'n hele ent agter haar straat af.

Uiteindelik gaan staan sy voor 'n geboutjie wat jare gelede 'n huis was, maar nou deur 'n loodgieter gebruik word. Sy sluit die deur oop en stap binne.

Kimberley Jim wag 'n paar minute en gaan klop toe aan. Hy klop en klop totdat sy vinger seer is, maar niemand kom maak oop nie.

Die volgende dag was Kimberley Jim vroeg by die geboutjie waar die loodgieter eers agtuur opgedaag het.

Toe Kimberley Jim hom oor die ou vroutjie uitvra, het die loodgieter gevra of hy koffie wil drink terwyl hy na die storie luister.

In Booyens weet almal van die ou tannie, het hy vertel. Sy het tot in 1952 in die huis gewoon wat nou die loodgieter se werkplek is.

Haar man is in 1950 aan myntering dood en sy het nie 'n sent geërf nie omdat hy alles op die perde uitgespeel het. Sy is twee jaar later in 'n armmansgraf begrawe.

Nou word vertel sy word nog soms in ons dorp, wat Johannesburg genoem word, gesien waar sy mans oorreed om haar met hul geld te laat perde speel.

Die mense vertel van mans wat al duisende rande gewen het, sê die loodgieter, maar daarna alles verloor het wat hulle ooit gehad het - huis, vrou, kinders, werk, motor en selfs hul verstand.   

- Gerhard Burger

[Die Taalgenoot - Kortom - Gerhard Burger - Mei 1992]

Wie van ons lesers kan hierdie storie onthou?? 
Laat weet gerus!!

No comments:

Post a Comment