Showing posts with label Algoagemeenskapskerk. Show all posts
Showing posts with label Algoagemeenskapskerk. Show all posts

Tuesday, 4 June 2024

Dinsdag-denke: Alexander die Grote se begrafnisreëlings

‘n Waardevolle les kan geleer word by die laaste wense van Alexander die Grote. Op sy sterfbed het Alexander die Grote van sy weermag-generaals geroep en sy begrafnisreëlings met hulle bevestig.

1. Net die slimste en beroemste dokters moet my kis dra.

2. Die skatte wat ek bymekaar gemaak het, dis die goud en silwer en edelgesteentes en kontant moet agter die stoet op die grond versprei word op pad na die begraafplaas.

3. My hande moet los hang buite die kis vir almal om te sien.

Een van die generaals wat baie na aan Alexander die Grote was, het verstom geluister na hierdie man se laaste wense en nadat hy alles neergeskryf het, het hy nader aan die sterfbed beweeg en hom toe gevra of hy nie asseblief hierdie vreemde versoeke aan hulle wil verduideilik nie ... En dis wat Alexander die Grote vir hulle gesê het ...

1. Ek wil hê al hierdie groot en beroemde dokters moet my kis dra om aan almal te wys dat as die dood nader kom en dit jou tyd is om te gaan, is selfs die grootste en slimste en beroemste dokter magteloos.

2. Ek wil al my skatte versprei hê, sodat almal kan sien dat dit wat ons op aarde bymekaar gemaak het, na die dood hier op aarde bly. Jy kan niks saam met jou vat nie.

3. Ek wil hê my hande moet los hang sodat almal sal verstaan dat jy gebore word met leë hande, en wanneer jy sterf is jou hande ook leeg.

Jou kosbaarste besitting is uitgeput ... en dit is tyd. 

Ons neem niks na ons graf nie, ons kan altyd meer skatte bymekaar maak op aarde, maar nooit meer tyd nie. Wanneer ons iemand ‘n gedeelte van ons tyd gee dan gee ons ‘n gedeelte van ons lewe en ons sal dit nooit weer kan terugneem nie. Jou tyd is jou lewe.

Mag die Here jou genoeg tyd gee om hierdie kosbare geskenk te deel met jou gesin, jou geliefdes en jou vriende.

Gebruik elke minuut van jou tyd, dis kosbaar en dis deel van jou lewe.

Die lewensklok word net eenkeer opgewen. Niemand weet wanneer daardie wysers tot stilstand gaan kom nie. Sommige mense se wysers kom vroeër as ander tot stilstand. Gebruik van jou tyd om iets vir GOD of jou medemens te doen.

[Nog kosbare stories HIER]

Tuesday, 2 January 2024

Dinsdag-denke: Welgesteld vs arm

Eendag het ʼn welgestelde pa sy seun na die platteland gevat met die doel om sy seun te wys hoe arm mense lewe. 

Hulle het ʼn paar dae spandeer op ʼn plaas wat die pa beskou het as ʼn baie arm gesin. 

Op pad terug huis toe vra die pa vir sy seun: “En wat het jy alles geleer?” Die seun het gesê: “Dit was eenvoudig net wonderlik, Pa.” “Het jy toe gesien hoe arm mense lewe?” vra die pa “O ja,” antwoord die seun. “En wat het jy alles geleer?” vra die pa. Die seun het geantwoord: “Ek het gesien dat ons net een hond het, maar hulle het vier. Ons het ʼn swembad in die middel van ons tuin, maar hulle het ʼn hele rivier sonder ʼn einde. Ons het ingevoerde lampe in ons tuin, maar hulle het elke nag die helder sterre. Ons het ʼn patio in ons binnehof, maar hulle het ʼn hele horison sonder einde. Ons woon op ʼn erf in die stad. Hulle het landerye wat eindeloos uitstrek. Ons het bediendes om ons te bedien, maar hulle dien mekaar. Ons het mure rondom ons erf om ons te beskerm. Hulle het vriende wat hulle beskerm. Ons koop ons kos in die supermark. Hulle kweek hulle kos op hul eie grond”. 

Die pa was eenvoudig net sprakeloos! En die seun het afgesluit: “Baie dankie dat Pa vir my geleer het hoe arm ons is.”

[Lees HIER verder.]

Tuesday, 26 December 2023

Dinsdag-denke: Die hemel se poskantoor

‘n Engel was besig om ‘n nuut gearriveerde Christen ‘n toer van die hemel te gee. Die twee het langs mekaar ingestap by ‘n groot poskantoor gevul met ander engele.

Die Engel het met die Christen gestop by die eerste afdeling: “Hierdie is die ontvangsafdeling. Hier word al die gebedsversoeke aan God ontvang.”

Die Christen het gesien dat hierdie afdeling baie besig is. Daar was engele besig om te sorteer deur blaaie en blaaie versoeke van mense regoor die wêreld.

Hulle het verder gestap en by die volgende afdeling gekom. Die Engel het aan die Christen vertel dat dit die Verpakkings- en Afleweringsafdeling is. “Hierdie is die seëninge van God in antwoord op die gebede en hier word dit verpak en afgesend aan dié wat daarvoor op die aarde gebid het.

Die Christen het gesien hoe besig dit daar is. Daar was baie engele wat in daardie vertrek gewerk het, besig om die talryke seëninge van God te verpak om afgelewer te word.

Uiteindelik, in die verste hoek was ‘n stil kamer waar hulle gestop het. Tot die Christen se verbasing, was daar net een engel en hy was besig om niks te doen.

“Hierdie kamer is die Dankie-sê-kamer,” het die Engel die Christen vertel.

“Hoe is dit dan dat hier niks aangaan nie?” het die Christen gevra.

“Dit is die hartseer ding,” het die Engel geantwoord.

“Nadat mense op die aarde die antwoorde op gebed en seëninge ontvang het waarvoor hulle gevra het, sê baie min van hulle dankie vir God.”

“Hoe wys ons dan ons dankbaarheid?” het die Christen gevra.

“Eenvoudig,” het die Engel geantwoord. “Jy sê net dankie, God.”

Tuesday, 12 December 2023

Dinsdag-denke: Skip van drome

Matt.9:13 “Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar die sondaars.”

Elke jaar gaan Kersfees gepaard met baie besluite. Waar gaan ons wees, wat gaan ons eet en wie gaan wat kry? Met Jingle Bells in jou ore breek die frustrasie van nog ‘n jaar se kersfeesinkopies aan. Jy en jou vrou is al klaar kwaad vir mekaar nog voor die eerste geskenk gekoop is.

Sy het bekend gestaan as die skip van drome. Sy was agthonderd en negentig voet lank. Veertienduisend mense het aan haar gebou. Die anker het vyftien en half ton geweeg en is deur twintig perde van die fabriek af tot by die skip getrek. Die binnekant van hierdie skip het tien maande geneem om te voltooi, altesaam ‘n paar miljoen ure se werk aan Louis Quinze, Klassieke Versailles en Victoriaanse versierings, Crown Berger skilderye, Franse kafees en Turkse baddens om maar net ‘n paar op te noem.

Sy is ook genoem: Die onsinkbare skip en in ‘n koerant van 1912 word berig dat selfs God haar nie kan sink nie.

Maar op Sondagaand 12 April 1912 sink die Titanic binne twee ure en neem 1500 lewens saam na haar watergraf.

Tydens hierdie twee ure het interessante verhale afgespeel. Daar was te min reddingsbote. Die rykes en vernames het gesorg dat hulle eerste plek kry. Later het die kaptein oor sy megafoon afgekondig dat net vrouens met babatjies plek op die reddingsbote mag kry. ‘n Man met ‘n babatjie in sy arms het verby ‘n vrou gehardloop wat nie ‘n kind gehad nie. Vir haar was die afkondiging ‘n doodsvonnis. Skielik het haar situasie verander toe die man sy kind in haar arms sit en sê: "Dit is joune ... hardloop vir jou plek op die reddingsboot!"

Wat is jou grootste Kersgeskenk?

Ons is almal daarvan bewus dat ons lewensvaart iewers soos die Titanic gaan sink. Ons is ook bewus daarvan dat nie almal in hierdie lewe die reddingsboot van Jesus gaan haal nie.

Met Kersfees kom sit God opnuut weer sy kind in jou arms en sê: Dit is joune ... hardloop na my reddingsboot. Moenie wag tot dit te laat is nie. Wanneer ‘n skip sink, word lug uitgeblaas en water ingesuig. Wag jy tot dit te laat is, word jy saam ingesuig al spring jy.

Die meeste mense wat hulle lewe in die Titanic ramp verloor het, het nie verdrink nie, maar verkluim. Wie wil in koue water ronddobber as Jesus reeds vir jou ‘n plek op sy onsinkbare reddingsboot voorberei het.

Miskien is daar iemand waaroor jy baie bekommerd is of wonder waar hulle welvaart hulle aan die einde van nog ‘n jaar gebring het? Miskien sukkel jy ook soos ek om geskenke te koop en wonder wat jy vir die of daai een  hierdie jaar sal koop.

Sit Jesus in die arms van mense wat oopoë besig is om te sink. Dit is tog waaroor Kersfees gaan.

“Sonder Jesus is ‘n vyftien en ‘n half ton anker te lig en 70 000 oorvol skip te swaar”.

My wens vir almal is dat almal van julle reeds julle plekke op God se reddingsboot ingeneem het.

[Klik HIER vir nog stories]

Tuesday, 26 September 2023

Dinsdag-denke: Die Here het nie beurtkrag nie

Vanoggend kyk ek na die son “daar” waar die strale vrolik van vensterbank na vensterbank huppel, en skielik tref dit my soos wat die donker die land elke aand tref ...

“Die Here het nie beurtkrag nie.”

Die Here het nie nodig om te wonder of Hy vanoggend of môreoggend die son gaan wakker kry nie!

Hy het nie nodig om stukkies van die son se strale af te sny, sodat daar genoeg son oor is vir die dag van môre en oormôre nie.

Hy het nie nodig om ‘n rooster op te stel en vir die son te sê: Vandag mag jy hier skyn, maar nie daar nie.

Jy hoef nooit te wonder of Sy Lig vandag jou pad gaan verlig nie!

Jy hoef nie kerse en lampe saam te dra net vir “ingeval” nie.

Die son se strale is ‘n teken van Sy getrouheid! Kyk daarna en onthou, Hy IS dieselfde God

Gister

Vandag

Môre

Altyd!

Hy hou jou vandag weer styf teen Hom vas.

Sy genade en liefde is elke oggend nuut en genoeg.

Hy is totaal in beheer van Sy skepping!

God se kinders hoef nie beurte te maak om Sy lig, liefde en genade te ontvang nie!

God se kinders hoef nie bakhand te bedel en te wonder oor vandag nie, want die Here het nie beurtkrag nie!

Goedheid en guns, want Sy liefde en genade is elke oggend nuut!!

[Klik HIER vir nog wonderlike stories]

Tuesday, 5 September 2023

Dinsdag-denke: God sorg vir ons

In die konsentrasiekamp, meer as 100 jaar gelede, sit Anette Marais op ’n stomp en skud die stof van haar verslete klere af.

Rondom haar sit die groepie bekende gesigte van moeë vrouens. Net ’n paar tree verder is die hoë draad van die konsentrasiekamp. Sy slaan haar Bybel oop en begin lees. Sy het in die donker ure van die nag geworstel met God en Hom gesmeek vir ʼn boodskap om hierdie vrouens te bemoedig, want wie weet hoe lank nog ...

Anette lees die woorde van Matt 10:29 - “Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie, en tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie.”

Terwyl sy besig is om hierdie woorde te lees, kom sit daar ’n vaal klein mossie op haar skouer.

Die groepie vrouens staar in verbasing na wat voor hulle gebeur, en so word die mossie, die teken van hoop in die onmoontlike omstandighede van die konsentrasiekamp in Bethulie.

Dit was fantasties om in die maande wat volg te sien hoe die mossies van Bethulie ’n baken van geloof en hoop word vir hierdie vrouens.

Op 21 Mei 1902 is die oorlog verby, Anette het op pad terug na haar huis gestop by ’n vrou met invloed en haar vertel van die mossieboodskap, sy het dit weer oorvertel en genl. Jan Smuts het in 1923 die mossie op die land se kleinste muntstuk (kwartpennie) laat verskyn.

Amper 80 jaar later sit Jak de Priester in ’n park in Londen. Sy geld is op, hy kry nie werk nie, hy mis die meisie van sy drome en sonskyn en biltong. Hy slaan sy klein silwer Bybeltjie oop en lees die mossieboodskap en bid vir die soveelste keer vir werk!

Vroeg die volgende oggend lui sy telefoon en dis die oproep waarvoor hy gewag het, hy spring op die eerste trein en begin met ʼn lang dag se onderhoude. Moeg maar gelukkig en met ’n permanente werk klim hy weer laatmiddag op die trein.

Toe hy inklim, sien hy ’n muntstuk op die vloer lê, hy tel dit op, en daar op ’n trein in Londen hou hy ’n Suid-Afrikaanse 1c in sy hand, met ’n mossie agterop. Hy vertel dat die wêreld rondom hom gaan stilstaan het, dat hy besef het dat God daar by hom op die trein is en dat gebed sy waarborg is in hierdie stukkende wêreld.

Skud vandag jou geestelike beursie uit. Sit ʼn 1c neer vir geliefdes met kanker, nog ʼn 1c vir huwelike wat sukkel, ’n 1c vir iemand na aan jou hart se werksomstandighede, vir enkelouers en weduwees. Die mossieboodskap is dalk net een versie in ’n dik Bybel, maar ’n Almagtige, liefdevolle God staan agter dit!

Here, dankie, dat daar altyd hoop is. Dankie, vir bakens langs die pad wat ons help om geduldig te wees, terwyl ons wag vir U, om op die perfekte tyd ons omstandighede te verander. U is net ‘n gebed ver.

‘n Geseënde mossie-dag vir jou

[Gaan besoek die wonderlike webwerf HIER en lees die gedagte van die dag HIER]

Tuesday, 4 July 2023

Dinsdag-denke: Die skoene

Ek was vars gestort en netjies geskeer. Ek het my mooi das nog eenkeer reggetrek en toe vertrek. Ek het net betyds by die kerkbank ingeskuif en wou net my oë toemaak in gebed toe ek uit die hoek van my oog 'n paar skoene sien wat langs my ingeskuif het.

Ek het gesug ... was dit nou nodig om so naby aan my te sit dat ons skoene aanmekaar geraak het? Ek het my oë gesluit ... ONSE Vader ... toe onthou ek dat die Here ook sy Vader is ... Maar nog steeds ontsteld wonder ek of hy nie net sy skoene kon skoonmaak nie. Die skoene se punte was afgekrap ... ‘n dik laag stof het op die skoene gelê en sowaar daar was nog ‘n gat aan die kant van die skoen.

Sekerlik het die man geen skaamte of trots nie ... DANKIE VIR U SEËNINGE het die gebed aangegaan. “Amen,” het die paar skoene langs my hardop gesê.

Ek het so hard probeer om op die gebed te konsentreer, maar elke keer het my oë gedwaal na die paar skoene langs myne. Sekerlik moet ons altyd probeer om op ons beste te lyk wanneer ons by die kerkdeure instap. Wel, sekerlik het hierdie paar skoene langs my nie baie moeite gedoen nie.

Die gebed het geëindig en die lofsange het begin. Die paar skoene langs my het met volle oorgawe saamgesing. Met oë gesluit en hande omhoog, het die skoene uit volle bors met diep oortuiging die lofliedere aan ons Skepper geoffer.

Ek was seker dat nie net die Here nie, maar die hele dorp hierdie man se lofliedere gehoor het. En toe kom die tyd vir die offergawe. Ek het n stewige bydrae ingegooi, en toe die bordjie aangegee na die skoene langs my. Daar was diep in die sakke gekrap ... eers die een en toe die ander een en diep onder in die sak is sy bydrae uitgehaal en met ‘n helder geklink het die muntstukkie in die pragtige silwer bord geval.

Ek het gesteurd na die skoene langs my gekyk, maar hy het so ‘n salige uitdrukking op sy gesig gehad. So dankbaar dat hy wel iets gehad het om te gee.

Toe was dit tyd vir die Woord. En laat ek nou maar eerlik wees, dit het my tot in my siel verveel, tot ek na die skoene langs my se gesig gekyk het.

Groot trane het by sy wange ofgerol ... Hy het met diep aandag geluister ... en ek het gewonder wat ek dan gemis het. Ek was so besig met die skoene en die oordeel in my hart dat ek die seëning van die Woord totaal en al gemis het. Sy hart was vol ... sy honger was gestil ... en ek, ek het gewonder waarom ek dan nog so leeg gevoel het.

Toe besef ek; ek het nie soos die skoene langs my gekom met ‘n verwagting nie ... daarom het ek niks ontvang nie en sy beker loop oor. Golwe skuldgevoel het oor my gespoel en ek het geweet die stukkende skoene het my vandag ‘n baie duur les geleer.

Dit was ons gewoonte om altyd na die diens vreemdelinge te laat welkom voel, en na die slotgebed het ek my hand na die skoene uitgesteek. Die gesig was oud en verrimpeld van baie son en weer en die hand wat myne vasvat was vol eelte.

Die skoene het na my gekyk en gesê: My naam is Charlie en ek is so bly om jou te ontmoet. Sy oë was vol hartseer en pyn. Ek kom al ‘n paar maande hier, maar jy is die eerste om my te groet. Ek weet my kleredrag is nie op standaard nie, maar ek probeer baie hard om altyd op my beste te lyk, en ek politoer gereeld my skoene maar die lang stap hierheen op die stofpad laat dit altyd weer vuil en vol stof.

My hart het begin pyn en ek het swaar gesluk aan die groot knop in my keel. Ek was stil, want ek het geweet as ek iets sou sê sou my woorde leeg en blikkerig klink teenoor die opregtheid van die stukkende skoene.

Ek het weer sy vereelte hand gedruk en toe met trane bely: Jy het my siel aangeraak en vandag het jy my ‘n groot les geleer ... dat die mooi van die mens in sy hart lê en nie in sy blink nuwe skoene nie.

Dankie dat jou skoene vandag vir my ‘n groot les geleer het. Dat daardie vuil stukkende skoene my geleer het om anders te sing, om meer intens te luister en om altyd met ‘n verwagting te kom sodat ek vol en tevrede kan uitstap.

Ek wil julle vanoggend met die volgende vraag los: hoe kyk JY na die kinders in jou klas, na die kinders se ouers, na jou medegelowiges, na hulle wat jou pad kruis? Trek jy jou neus vir hulle op omdat hulle ‘skoene nie blink nie’ en vol ‘gate’ is? Kom ons leer vandag almal iets uit hierdie pragtige verhaal.

God sê in Sy woord dat die mens na die buitekant kyk, maar God na die binnekant, na die hart van ‘n mens. Waarna kyk jy? Wat sal God by JOU kry?

[Besoek hierdie webwerf vir nog kosbare lesse]

Tuesday, 27 June 2023

Dinsdag-denke: Besluit self

‘n Man wag op die lughawe van Portland, Ore­gon, vir ‘n vriend wat pas van ‘n vliegtuig af­ge­stap het, David A. Sar­gent. Sy aan­dag word getrek deur ‘n ander man wat met twee tasse in sy hande, tussen die an­der pas­­sasiers deur, aankom.

‘n Seuntjie, dalk ses jaar oud, hardloop hom tegemoet. Die man buig af, gee die seuntjie ‘n innige druk, hou hom ‘n rukkie vas, sê: “Ek het jou so gemis, my kind.” Die seun ant­woord skamerig: “Ek vir Pappa ook.” Die man kom reg­op en groet ‘n ander seun, mis­kien tien jaar oud. Hy hou die groter seun se gesig in sy hande, kyk in sy oë: “Ai, seun, ek het na jou verlang.”

‘n Dogtertjie van omtrent ‘n jaar oud sit in die ma se arms en wurm gretig om by haar pa te kom. “My Babatjie,” sê die man teer en neem die kleintjie in sy arms, soen haar en wieg haar heen-en-weer. Dadelik lê die kleintjie haar kop­pie vol bevrediging teen sy skouer.

Hy gee die dog­tertjie vir sy oudste seun. “Die beste het ek vir laaste gebêre,” en met dié woorde neem hy sy vrou in sy arms en gee haar ‘n innige, lang soen. Hulle kyk mekaar in die oë. Hy sê gevoel­vol, “Ek het jou so lief!”

Die man wat sy vriend kom haal het, besef skielik hoe hy die gesinnetjie aanstaar. Ver­leë sê hy “Wow! Hoe­lank is julle al getroud?” “Twaalf jaar,” antwoord die ander man sonder om sy oë van sy pragtige, blosende vrou af te neem.

“Hoe lank was jy weg van hulle af?” vra die starende man. “Twee volle dae.” TWEE DAE??? Die man is verstom. Hy sou sê hy was maande weg van sy geliefdes af. Verleë prewel die sta­rende man: “Ek hoop my huwelik sal na twaalf jaar ook nog so hartlik en warm wees.”

Sonder om sy vrou se hand te los, kyk daardie ander man hom di­rek in sy oë en met ‘n erns wat die toe­skou­er tot in sy hart tref, sê hy: “Moenie hoop nie, Vriend. Besluit!”

[Klik HIER vir nog stories]

Tuesday, 20 June 2023

Dinsdag-denke: ‘n Stukkie brood - ‘n Ware verhaal

Jare gelede het die Readers Digest ‘n artikel geplaas oor die beroemde Dr. Chris Barnard en sy ewe beroemde broer Dr. Marius Barnard. Die atrikel het gegaan oor ‘n verhaal wat hom afgespeel het in die Grootte Schuur Hospitaal se harteenheid.

Sy naam was Saul, hy het grootgeword op die windverwaaide Kaapse Vlaktes. Hy was een van die seuns van ‘n arm paartjie wat gesukkel het om die kinders elke dag van kos te voorsien. Hulle het in ‘n klein huisie gewoon en daar was nie genoeg beddens dat elkeen sy eie bed kon hê nie, en hulle moes maar meer as een op ‘n enkelbed slaap.

Saul het geweet wat dit beteken om honger te wees, daar was ‘n skaarsste aan die noodsaaklike items in hulle huis, roomys was iets wat hulle net gesien het as ander mense dit eet. Hulle stapelvoedsel was brood.

Soms was hulle gelukkig en was daar iets om op die brood te smeer, maar dikwels was dit droë brood. Maar omdat Saul so grootgeword het, het hy nie daaroor gekla nie, hy was maar net te dankbaar as daar wel ‘n stukkie brood was.

Maar daar was nog ‘n probleem, Saul was siek, Saul was baie siek, en hy moes gaan vir ‘n opehartoperasie waar die beroemde hartspan op hom sou opereer.

Saul is opgeneem, en hy is in ‘n bed geplaas met spierwit beddegoed. Hy het vreemd gevoel, die wit beddegoed was oorweldigend, want hy het net ‘n bed met een laken op geken en hier was ‘n bolaken, onderlaken, ‘n bedoortreksel, en twee groot opgepofte kussings. Om hom was daar baie masjiene en monitors en dit het hom verskrik gemaak.

Hy het gevoel dat die bed te groot vir hom was, by die huis het hulle beddens gedeel, en hier lê hy in ‘n vreemde kamer, in ‘n vreemde bed, met vreemde goed wat hy nog nooit gesien het nie.

Die volgende oggend is Saul ingestoot teater toe en die foutiewe hartklep is vervang. Hy is uitgestoot en terug in sy kamer het hy bygekom van die narkose. Daar was masjiene aan hom gekoppel wat vreemde geluide gemaak het. Daar was ‘n spalk aan sy regterarm om die aarvoedingbuise en antibiotikabuise ferm in plek te hou. Daar was ‘n pyp in sy keel en hy was aan die hart-longmasjien gekoppel. Hy kon nie praat nie, maar omdat hy aarvoeding gekry het was hy gelukkig ook nie honger nie, net baie bang en baie vreemd.

Toe die dag aanbreek dat hulle die hartmasjien afskakel, sodat die hart weer op sy eie kan begin werk, het hulle besef daar is fout. Elke keer as hulle die masjien afskakel, het Saul se hart al hoe stadiger geklop. En na ‘n deeglike ondersoek het hulle tot die besef gekom dat hierdie kind se ander hartklep ook ingegee het. Hy sou vir ‘n tweede keer terug teater toe moes gaan en weereens sou daar ‘n opehartoperasie op hom uitgevoer moes word. Dr. Barnard het langs Saul se bed gaan staan en mooi vir hom verduidelik wat hulle nou gaan doen.

Groot verskrikte oë het na hom toe opgekyk. “Saul,” het dr. Barnard gevra, “Is daar iets wat ons vir jou kan gee, het jy miskien ‘n versoek?” Hy wou die kind gerusstel en het gedink miskien sal hy vra dat sy ouers moes kom, of iets wat hulle vir hom kon doen om hom minder verskrik te laat lyk.

Saul het sy kop stadig geknik, omdat daar pype by sy keel af was, kon hy nie praat nie. Dr. Barnard het toe vir die verpleegpersoneel gevra vir ‘n stukkie papier en pen, en hy het dit vir Saul gegee, en vir hom gevra om sy versoek op papier neer te skryf.

Met die pen tussen sy vingers vasgeknyp, versigtig om nie die pype te versteur nie, het Saul sy versoek met ‘n bewerige handskrif op die papier geskryf.

Saul was baie siek, en omdat die eerste operasie nie ‘n sukses was nie, het hulle gewonder of hy die tweede een sou oorleef, en dr. Barnard wou baie graag hierdie een versoek aan Saul toestaan. Hy het die papier geneem, en daar in ‘n kinderlike handskrif was ‘n jong seun se hartsbegeerte geskryf: NET ‘N STUKKIE BROOD.

Dis al wat hy wou gehad het, net ‘n stukkie brood. Brood wat vir hom die gevoel van sy ouerhuis sou terugbring. ‘n Stukkie brood wat vir hom sekuriteit sou gee. Maar helaas, hy moes gaan vir ‘n tweede operasie, en aan daardie eenvoudige versoek kon daar nie voldoen word nie. Saul het ongelukkig nie die tweede operasie oorleef nie. Dr. Barnard vertel dat hierdie een van die verhale was wat nie ‘n gelukkige einde gehad het nie.

Jesus is die Brood van die Lewe, en as omstandighede en situasies vir ons vreemd is, en as ons nodig het om sekuriteit in ons lewens te ervaar, of as vrees jou gryp soos wat dit vir Saul vasgegryp het, skryf jou versoek op die tafels van jou hart: Here, ek benodig vandag net ‘n stukkie Brood. Here ek benodig U teenwoordigheid, Here ek reik vandag uit na U toe ... Gee my asseblief ‘n stukkie van Uself, gee asseblief vir my ‘n stukkie van die Brood van die Lewe.

Vir Saul was dit te laat, maar ek en jy kan nog van die Brood van die Lewe ontvang, vra net, en Hy sal jou gee dit wat jy nodig het.

Vader U is vir elkeen van die honger siele daarbuite ‘n Stukkie Brood.

[Klik HIER vir nog stories]

Tuesday, 13 June 2023

Dinsdag-denke: God se beloftes is waar

'n Pa en sy dogtertjie gaan swem eendag in die see, en na ‘n rukkie kom die pa agter dat die see besig is om baie onstuimig te raak. Hy skree vir sy dogtertjie om op haar rug te draai en te bly dryf. Hy gaan strand toe om hulp te gaan soek en skree vir haar: “Maria ek belowe ek kom terug vir jou.”

Nie lank nie of daar is ‘n klomp bootjies en soekgeselskappe op soek na die dogtertjie. ‘n Groep mense het op die strand begin saamdrom en wag op tyding of Maria gevind is.

Dit was eers 4 ure later wat hulle haar gekry het, ver van die land af, maar sy was kalm en het op haar rug gedryf en was hoegenaamd nie bang nie.

Juigkrete en trane van blydskap en verligting het die reddingspan verwelkom toe hulle met haar op die land aankom. Hulle het Maria gevra, wat so kalm was, hoe sy dit reggekry het. Sy het hulle geantwoord: Pappa het gesê ek moet op my rug dryf en hy het belowe dat hy my sou kom kry. Ek het net op my rug bly gedryf soos hy gesê het ek moet, want ek het geweet hy sou kom.

So is die belofte van die Here aan ons ook. Soos die dogter haar Pappa geglo en vertrou het, moet ons ook die Here vertrou, want Hy belowe: "Vertrou op My, glo in My, My beloftes is waar."

Ons lees die volgende in Heb 13:5-6 in Die Boodskap:

5.God het mos gesê: “Ek sal jou nooit alleen los nie en Ek sal jou nooit in die steek laat nie.” 6. Daarom kan ons met vertroue sê: “Die Here is die Een wat my help. Ek hoef vir niks bang te wees nie. Buitendien, wat kan ’n mens aan my doen?”

Soos die pa in die storie vir die dogtertjie teruggekom het soos hy beloof het, so beloof God ook dat Hy ons nie alleen sal los nie. Hy help ons deur elke moeilike situasie wat op ons pad kom.

Kom ons pak vandag hierdie dag aan met die wete dat God by ons is, en dat ons Hom kan vertrou met ALLES in ons lewens, want Hy is ‘n God wat Sy belofte nakom.

[Nog kosbare stories HIER]

Tuesday, 30 May 2023

Dinsdag-denke: Klee jouself reg

Klere is vir die meeste van ons baie belangrik. Die meeste van ons hou van nuwe en mooi klere.

Paulus sluit aan by ons liefde vir klere wanneer hy in Kolossense 3:12-14 sê dat ons as gelowiges ons ook op ‘n sekere manier geestelik behoort te klee.

Hy sê: “Klee julle met nederigheid, begrip, goedgesindheid, sagmoedigheid, geduld, vergifnis en liefde.”

Ek dink dis goeie raad vir die tye waarin ons ook lewe, vol spanning en onverdraagsaamheid teenoor mekaar. Dit wil voorkom of mense aggressiewer en wreder word.

Kyk maar net hoe woedend raak ons op die paaie of hoe ongeduldig is ons wanneer ons in die lang toue moet staan en wag. Dit lyk dan beslis nie of ons na Paulus geluister het en ons geestelike klere aangetrek het nie. Dit lyk eerder of ons dit by die huis gelos het.

Paulus stel voor dat ons begrip aantrek en sien hoe dit pas. Stel jouself in iemand anders se skoene. Probeer verstaan hoekom iemand op ‘n spesifieke manier optree. Daar is dalk ‘n baie goeie rede voor.

Trek goedgesindheid bo-oor aan: in jou huwelik, met jou eie kinders en ook in jou klas - soek na dit wat in jou maat, jou kinders se beste belang is. Bederf jou maat en probeer meer doen as wat daar van jou verwag word, met ander woorde wees goed vir die ander een.

En dan nederigheid. As daar nou ooit ‘n gebied is waar trots, die behoefte om reg te wees en die stryd om mag voorkom, dan is dit in ‘n huwelik. Die gebrek aan nederigheid lei tot elke moontlike stryd. Nederigheid is om jou eie foute te erken en te erken dat die ander een ook ‘n sê het.

Sagmoedigheid is nog ‘n waardevolle kledingstuk in die lewe. Dit is om nie opvlieënd of humeurig of rusiemakerig of aanvallend te wees nie, veral in die moeilike omstandighede waarin ons ons tans bevind. Ons kan elkeen met ‘n paar kledingstukke van sagmoedigheid doen.

Geduld is ‘n noodsaaklike kledingstuk. In ‘n huwelik, ouer-kindverhouding, en in die klas, het ons geduld nodig. In verhoudings het ons die vermoë om partykeer mekaar se verkeerde knoppies te druk. Geduld verg humor.

Nog noodsaaklike kledingstukke is verdraagsaamheid en vergifnis. Daar is baie wat in verhoudings verdra moet word. Nêrens anders nie as in die huwelik en tussen ouers en kinders het ‘n mens herhaaldelik nodig om te sê: “Ek is jammer”; “Ek was verkeerd”; “Ek is lief vir jou”. Vra en gee vergifnis so dikwels as nodig.

Bo-oor al die klere sê Paulus, trek liefde as ‘n oorjas aan. Die onvoorwaarlike soort liefde, dié soort wat sê ek het jou lief, maak nie saak wat nie. Hierdie is nie van natuurlike stof gemaak nie. Dit is van geestelike goed geweef. Jy kan dit nie uit jou eie krag skep nie, jy het die Here nodig.

Mag God deur Sy gees aan ons die genade gee om ons elke dag só te klee.

Ds. Janine Bevolo-Manders (Nederduitsch Hervormde Kerk Witfontein in Pretoria-Noord)

[Nog kosbare stories HIER]

Tuesday, 23 May 2023

Dinsdag-denke: Ons lewens is in mekaar geweef

Muis loer deur ‘n kraak in die muur van die plaashuis en sien dat die boer en sy vrou besig is om ‘n pakkie oop te maak. Hy wonder wat se kos daar dalk in die pakkie kan wees. Met skok sien hy dat dit ‘n muisvalletjie is!

Hy retireer na die plaaswerf en roep ‘n waarskuwing luid uit: “Daar is ‘n muisvalletjie in die huis! Daar is ‘n muisvalletjie in die huis!”

Die hoenderhaan het gekloek, in die grond gekrap, sy kop opgelig en gesê:“ Mnr. Muis, ek besef dat jy baie besorg hieroor is, maar dit raak my glad nie”.

Die muis draai toe na die vark en vertel hom: “Daar is ‘n muisvalletjie in die huis! Daar is ‘n muisvalletjie in die huis. Die vark het ook met die arme muis gesimpatiseer en gesê: “Ongelukkig kan ek niks daaraan doen nie, maar ek sal bid. Wees verseker, jy is in my gebede.”

Die muis draai hierna na die koei en sê: “Daar is ‘n muisvalletjie in die huis! Daar is ‘n muisvalletjie in die huis!” Die koei reageer toe as volg: " Haai, mnr Muis, ek is so jammer vir jou, maar dit raak my gelukkig nie.”

Die muis het hierna, met geboë hoof en baie neerslagtig teruggekeer na die huis om die boer se muisvalletjie te weerstaan - alleen ... stoksielalleen!

Dieselfde nag kon ‘n geluid deur die hele huis gehoor word - die geluid van ‘n muisvalletjie wat sy prooi gevang het!

Die boer se vrou het gehardloop om te sien wat die valletjie gevang het. In die donker het sy nie gesien dat dit ‘n giftige slang se stert was wat in die slagyster gevang is nie.

Die slang het die boer se vrou gepik! Die boer het haar na die hospitaal gehaas Met haar terugkoms by die huis het sy nog koors gehad. Almal weet dat mens koors met vars hoendersop behandel.

Die boer het by die huis uitgestap met sy handbyltjie om die hoof bestanddeel van die sop te gaan haal. Maar die boervrou se siekte het voortgeduur. Vriende en die bure het die hele dag en nag by haar bed gewaak. Om kos vir hulle voor te sit het die boer die vark geslag.

Maar helaas! Die boervrou het nie gesond geword nie. Sy het gesterf. Baie mense het vir die begrafnis gekom. Die boer het die koei geslag om vir almal vleis te kon gee.

Die muis het deur die kraak in die muur alles met groot droefheid gade geslaan.

So, die volgende keer wanneer jy hoor dat iemand ‘n probleem het en jy dink dat dit jou nie regtig aangaan nie, onthou ...

Wanneer een van ons bedreig word, is almal van ons in gevaar. Ons is almal betrokke in hierdie tog wat “lewe” genoem word. Ons moet ons oë oophou vir mekaar en ‘n ekstra poging aanwend om mekaar te bemoedig.

ONTHOU! ELKEEN VAN ONS IS ‘N DRAAD IN DIE TAPISSERIE VAN ANDER MENSE. ONS LEWENS IS IN MEKAAR GEWEEF VIR ‘N REDE.

[Nog kosbare stories HIER]

Tuesday, 16 May 2023

Dinsdag-denke: Die plaaswerfeend

'n Trop wilde eende was besig om in formasie noord vir die winter te vlieg. Hulle het ‘n pragtige V in die hemelblou lug gevorm en is bewonder deur almal wat hulle sien vlieg het.

Eendag het Wallie, een van die wilde eende in die formasie, iets op die grond opgemerk wat sy aandag getrek het. Dit was ‘n plaaswerf met ‘n trop mak eende wat op die plaas gebly het. Hulle het die hele plaaswerf vol gewaggel en baie gelukkig gekwaak en heerlike mielies geëet wat elke dag vir hulle gegee word. Wallie het baie gehou van wat hy sien en het by homself gedink dat daardie mielies darem nou baie lekker sal smaak. Die hele tyd se gevlieg is baie uitputtend en hy sal glad nie omgee om net so bietjie rond te waggel op die plaaswerf nie.

Nadat hy vir so wyle die sakie bepeins het, besluit hy om die tropformasie te verlaat en duik hy af na links op pad na die plaaswerf. Hy land tussen die mak eende en begin saam met hulle rond te waggel en baie gelukkig te kwaak. Hy verlustig homself aan die heerlike mielies wat hulle gevoer word. Die res van die trop wilde eend hou aan met hulle tog na die noorde, maar dit pla Wallie glad nie. “Ek sal weer by hulle aansluit wanneer hulle oor ‘n paar maande weer hier verbykom op pad suide toe,” sê hy vir homself.

‘n Paar maande het verby gegaan en op ‘n dag merk Wallie die trop wilde eende op wat op pad suide toe is. Hulle lyk so pragtig daar bo in die lug en Wallie het nou al baie moeg begin raak vir die plaaswerf. Die plaaswerf was modderige en oral waar hy waggel is daar net eendvere en gemors. “Dit is tyd om te vertrek,” sê Wallie vir homself.

Wallie het verwoed begin om sy vlerke te klap en probeer om in die lug te kom, maar hy het heelwat gewig opgetel van al die mielie-etery en hy het vir ‘n lang tyd glad nie sy vlerke geoefen nie.

Uiteindelik kom hy van die grond af, maar hy vlieg so laag dat hy teen die heining van die plaaswerf vasvlieg. Hy val op die grond met ‘n harde slag en sê vir homself: “Ag wat, ek sal nog eers wag wanneer hulle oor ‘n paar maande weer noord vlieg en hier verby kom, dan sal ek by hulle aansluit en weer ‘n wilde eend wees.”

Maar toe die trop wilde eende weer ‘n paar maande later verbyvlieg, het Wallie weer probeer om in die lug te kom, maar hy het eenvoudig net nie genoeg krag gehad nie. Elke winter en somer het sy wilde eend vriende oorgevlieg en na hom geroep, maar al sy pogings om uit die plaaswerf te kom was tevergeefs.

Later het Wallie glad nie eens meer aandag geskenk aan die wilde eende wat oor die plaaswerf vlieg nie, hy het hulle nie eens meer opgemerk nie. Hy het na alles ook maar net ‘n plaaswerfeend geword.

Soms word ons moeg om die eend te wees wat ons veronderstel is om te wees - navolgers van Jesus Christus. Dit is nie altyd maklik om gehoorsaam aan God te wees nie en om onsself so te dissiplineer om vas te hou maak nie saak hoe lank die tog is nie. Wanneer ons so swak en moedeloos voel is dit wanneer satan ons versoek om uit die formasie te val en aan te sluit by die plaaswerfeende - ‘n wêreldse lewenswyse.

Maar kyk wat het met Wallie gebeur. Hy het gedink hy sal net vir ‘n klein rukkie uit formasie val en hy sou kon vertrek net wanneer hy wou. Maar hy kon nie en dit is hoe dit gaan met sonde in ons lewe. Sonde is ‘n strik en het die manier om ons te verander in mense wat ons nie wil wees nie. Uiteindelik verloor ons kontak met wie ons rêrig is - die seuns en dogters van die Allerheiligste. Ons het plaaswerfeende geword.

[Nog kosbare stories HIER]

Tuesday, 9 May 2023

Dinsdag-denke: Teddy se krale

Sy het voor haar graad 5-klas gestaan, en vir die kinders vertel dat sy hulle almal ewe lief het, maar soos die meeste onderwysers, het sy geweet sy vertel ‘n leuen. Want heel voor in die klas, was daar ‘n seuntjie met die naam van Teddy Stoddard. Mev Thompson het Teddy dopgehou en agtergekom hy speel nie baie goed met die ander kinders nie. Sy klere was baie slordig, en dikwels ongestryk en dikwels kon jy sien dat hy nie naby ‘n bad was nie. Teddy kon baie onaangenaam wees, en dit het op die punt gekom wat Mev Thompson amper lekker gekry het om sy boeke met ‘n dik rooi pen te merk. ‘n Groot vet X en dan sommer ‘n “F” oor sy werk.

By die skool was dit mev. Thompson se werk om die kinders se ou verslae en rapporte na te gaan. Sy het al die kinders s'n afgehandel en Teddy se verslae tot heel laaste gelos. Maar toe sy, sy ou verslae begin lees, was sy baie verbaas dat sy graad een juffrou geskryf het: “Teddy is ‘n baie intelligente kind, en is altyd gereed om jou sy grootste glimlag te gee. Sy werk is netjies en hy het baie mooi maniere. Hy kom baie goed met sy klasmaats klaar.”

Sy graad twee juffrou het geskryf: “Teddy is ‘n briljante student, populêr by die ander kinders, maar hy verwerk sy moeder se terminale siekte moeilik, en dit lyk asof omstandighede by die huis moeilik is.”

Sy graad drie juffrou het geskryf: “Teddy sukkel om sy moeder se dood te verwerk, hy probeer baie hard, maar sy pa wys geen belangstelling nie. Stappe sal geneem moet word anders gaan sy lewe uitmekaar val.”

Sy graad vier juffrou het geskryf: “Teddy is totaal teruggetrokke en toon geen belangstelling in skool nie, hy het geen vriende nie en raak soms in die klas aan die slaap.”

Hier het Mev Thompson besef waar die probleem lê, en sy het haar eie kop in skaamte laat sak. Sy het nog slegter gevoel toe haar kinders almal vir haar verjaarsdag geskenke bring toegedraai in die blinkste en mooiste papier en linte en Teddy skaam-skaam sy geskenkie neersit, toegedraai in die oorblyfsels van ‘n bruin papiersak.

Mev. Thompson het sy geskenkie eerste oopgemaak voor al die kinders in die klas, die kinders het onder mekaar gegiggel oor die geskenkie, maar toe Mev Thompson die string krale uithaal, waarvan heelwat van die krale weg is, het sy dadelik die string stukkende krale om haar nek gehang, toe sien sy daar is nog iets in die pakkie, en haal ‘n kwart botteltjie reukwater uit. Sy spuit toe dadelik daarvan aan en sê vir Teddy baie dankie vir die mooiste geskenk ooit.

Na skool het Teddy in die klas bly rondhang tot al die kinders uit is, en toe sê hy vir haar toe hulle alleen was: “Juffrou, vandag het jy net soos my mammie geruik."

Daardie dag het sy opgehou om die kinders net somme, lees en skryf te leer, en het sy werklik belangstelling getoon in elke kind met sy unieke behoeftes.

Sy het vir Teddy baie spesiale aandag gegee, en soos wat sy aandag aan hom gee, so het hy begin blom, sy werk het verbeter en aan die einde van daardie jaar was hy die slimste kind in die klas en was hy duidelik juffrou se witbroodjie.

‘n Jaar later het sy eendag ‘n briefie onder haar deur gekry wat sê: “Mev. Thompson, u is nog steeds die beste onderwyseres wat ek nog ooit gehad het.” Ses jaar het verby gegaan voor sy weer eendag ‘n briefie onder haar klasdeur gekry het, wat sê: “Dankie, mev. Thompson, u is nog steeds die beste juffrou wat ek ooit gehad het. Ek is nou klaar met hoërskool en was hierdie jaar die derde beste matrikulant.

Vier jaar later kry sy weer ‘n briefie wat sê hy was deur ‘n rowwe tyd, maar dat hy vasgebyt het en dat hy sy studies daardie jaar met erekleure verwerf het, en dat sy nog steeds sy beste juffrou was. Nog vier jaar later het sy weer 'n briefie gekry, dat sy nog steeds die beste juffrou is en dat hy sy BA-graad met lof geslaag het, maar dat hy nog bietjie verder gaan leer.

Toe kom daar weer ‘n briefie, sy was nog steeds sy beste juffrou, en sy studies was nou klaar en die briefie was geteken: Theodore F Stoddard MD. maar hy wil ook sommer weet, aangesien sy pappie ‘n paar jaar tevore tot sterwe gekom het, en hy ‘n baie oulike meisie ontmoet het, en hy gaan trou, of sy nie asseblief saam met hulle aan die bruidstafel sal sit nie. Die plek wat vir die bruidegom se ouers gereseveer was.

Sy het gegaan, en ja, jy is reg, sy het daardie selfde string krale gedra, en die laaste bietjie van die reukwater aan haar gespuit. Hy het haar styf vasgedruk en in haar oor gefluister: “Dankie, mev. Thompson dat jy in my geglo het, dankie vir die liefde en die aandag, en dat u my geleer het dat een mens ‘n verandering in ‘n ander se lewe teweeg kan bring.” Met trane oor haar wange het sy vir hom gesê: “Teddy, jy is so verkeerd, jy het my geleer dat dit moontlik was om ‘n verandering in iemand se lewe te maak. Ek het nooit geweet wat dit beteken om ‘n onderwyseres te wees totdat ek jou ontmoet het nie.

Vir julle wat nie weet nie, Teddy Stoddard is die dokter by Iowa Methodiste Hospitaal in Des Moines en is in beheer van die kankervleuel van die hospitaal.

Vra jouself vandag die vraag: Het ek al in iemand se lewe ‘n verandering gemaak, deur liefde te betoon en die gesindheid van Jesus teenoor ander te openbaar? Kan jy iemand wat in die modder lê, oplig. Dit was ‘n klein daad van liefde wat vir ‘n verlore seuntjie weer rigting in die lewe gegee het. Jy kan ook ‘n verskil maak deur liefde te betoon.

Begin vandag.

[Nog kosbare stories HIER]

Tuesday, 2 May 2023

Dinsdag-denke: Here, ek wil nie huil nie

My seun, Fanie, was agt jaar oud en was deel van die Voortrekkers vir ‘n klein rukkie. Tydens een van hulle byeenkomste het elkeen ‘n vel papier gekry, ‘n stuk hout en vier wiele en hulle was aangesê om dit huis toe te neem en vir “Pa” te gaan gee.

Vir Fanie was dit nie ‘n maklike taak nie. Pa was nie een van daardie mense wat graag iets saam met sy seun gedoen het nie. Pa het geglo dat ‘n kind maar sommer self moet grootword. Maar Fanie het hard probeer en elke dag vir Pa gevra vir sy hulp.

Pa het die vel papier geneem, die voorskrifte gelees en dit smalend eenkant gegooi. Hy was beslis nie van plan om saam met sy jong seun ‘n houtkarretjie te bou nie. Die blok hout het vir weke daar eenkant gelê. Die tyd het verby gegaan.

Eendag het ma besluit genoeg is genoeg, sy het die vel papier geneem en gekyk of sy miskien iets met die stuk hout en vier wiele kon uitrig. Projek motorbou het in alle erns begin. Sy het nog nooit houtwerk gedoen nie, en die beste wat sy kon doen was om stap vir stap vir Fanie te verduidelik wat gedoen moes word, en hom die werk te laat doen. Hy was so gretig dat hy baie entoesiasties alles gedoen het wat Ma verduidelik het. Sy het die mates vir hom gelees, en al die moets en moenies van die motor wat gebou moes word.

Binne weke het die stuk hout vorm begin aanneem en was die buitelyne van die sportmotor al duideliker sigbaar. Effens skeef en krom, maar baie mooi (of so het Ma gedink). Fanie het nie een van die ander kinders se motors gesien nie, en was baie trots op sy blou weerligblits van ‘n motortjie. Daardie trots wat jy voel as jy iets self met groot gesukkel reggekry het.

Toe breek die groot dag van die wedren aan. Met sy blou houtmotortjie in sy hand, en ‘n hart wat wil bars van trots, het ons na die veld gery waar die groot wedren van houtmotortjies sou plaasvind. Toe ons daar aankom het Fanie se trots baie gou in vernedering verander. Sy motor was baie duidelik die enigste een wat deur hom alleen gemaak was. Al die ander motors was baie duidelik ‘n seun-pa-vennootskap, met stylvolle lyne, en baie “cool’ geverfde strepe. Regte sportmotortjies wat gebou is om die maksimum spoed uit te kry.

‘n Paar van die seuns het sommer hardop begin giggel vir Fanie se skewe, onaantreklike selfgeboude en selfgebroude motor. En om dit nog erger te maak, was Fanie die enigste seun sonder ‘n pa aan sy sy. Daar was ‘n paar seuns van enkelouerhuise maar hulle het darem ‘n oupa of ‘n oom saam met hulle gehad, en al wat Fanie gehad het, was “Ma”.

Die wedloop het begin en dit is gedoen deur middel van eliminasie. So lank as wat jy onder die voorste paar was, het jy in die wedloop gebly. Een vir een het die motors by die sand glybaan afgejaag. En uiteindelik was die wedloop tussen Fanie en die mooiste motortjie van die dag. Toe die laaste wedloop reg is om te begin, het my grootoog, skaam seuntjie gevra of hy die wedloop net met ‘n oomblik kan vertraag, omdat hy eers wil bid. Almal het stil geword.

Fanie het op sy knieë neergesak en sy snaakse skewe blou motortjie tussen sy handjies vasgehou. Met ‘n ernstige frons op die sproetgesiggie het hy met sy Hemelse Vader in gesprek gegaan, baie ernstig het hy vir ‘n minuut en ‘n half gebid, toe staan hy op, glimlag vir almal en kondig ewe braaf aan: “Ok, ek is gereed”.

Die skare het begin skree, en ‘n seuntjie genaamd Tommie het langs sy pappa gestaan terwyl die twee motortjies teen die wal af jaag. Fanie het alleen gestaan, met net sy Hemelse Vader in sy hart en gekyk hoe sy lelike skewe motortjie met verbasende spoed teen die wal afry, en met ‘n sekonde of twee voor Tommie se motortjie oor die wenstreep jaag.

Fanie het in die lug opgespring en geskree: “Dankie, Dankie!” en die skare het hulle goedkeuring uitgeskree. Die organiseerder het met die mikrofoon na Fanie gekom en vir hom gevra: “Fanie, het jy gebid om te wen?” en toe antwoord my kind: “O, nee Oom, dit sou baie onregverdig van my gewees het om te verwag dat die Here moet gee dat Tommie verloor. Ek het net vir Hom gevra om my te help dat ek nie huil as ek verloor nie.”

Weereens kan die wysheid van kinders ons verstom. Fanie het nie die Here gevra om die uitslag van die wedloop in sy guns te swaai nie, maar hy het die Here gevra vir krag, ongeag wat die uitslag van die wedloop was. Toe Fanie die eerste keer al die ander motors sien, het hy nie God beskuldig omdat al die ander seuns pa’s gehad het wat hulle gehelp het, en hy net vir Ma gehad het nie. Nee, hy het net gebid vir krag om die uitslag met waardigheid te aanvaar.

Miskien spandeer ons teveel tyd om God te vra om die uitkoms van ons lewenswedloop in ons guns te laat swaai, om ons die wenners te maak. Of miskien spandeer ons te veel tyd om God te vra om die wedloop heeltemal te verwyder, in plaas daarvan om op ons knieë neer te sak en God te vra om ons krag te gee om die wedloop met waardigheid te voltooi.

Fanie het nie gebid om die ander seuntjie te laat verloor nie, dit was onregverdig in sy oë. Hy wou net krag hê, krag om nie te huil as Tommie se motortjie gewen het nie.

Deur die wedloop te stop, en eers te bid, het hy vir almal daar gewys dat hy nie daar was sonder ‘n Vader nie, sy Hemelse Vader was die hele tyd by hom. Daardie aand het Fanie as oorwinnaar weggestap, met sy Vader langs hom.

Here, maak ons soos Fanie, gee ons krag om die stryd met waardigheid te voltooi, en deur dit alles, hou asseblief ons hand baie styf vas.

[Nog kosbare stories HIER]

Tuesday, 25 April 2023

Dinsdag-denke: As jy JESUS het, het jy ALLES

‘n Welgestelde man en sy seun was baie lief daarvoor om skaars kunswerke te versamel. Hulle het van alles in hul versameling gehad, van Picasso tot Raphael. Hulle twee sou gereeld saam sit en die grootse kunswerke bewonder.

Toe die Viëtnamoorlog uitbreek, het die seun oorlog toe gegaan. Hy was baie dapper en het gesterf in die geveg terwyl hy besig was om ‘n medesoldaat te red. Die vader is in kennis gestel van die afsterwe van sy seun en hy het vreeslik oor sy enigste seun getreur.

Ongeveer ‘n maand later was daar ‘n klop aan die deur. ‘n Jong man het voor die deur gestaan met ‘n groot pakkie in sy hand.

Hy sê: ” Meneer, u ken my nie, maar ek is die soldaat vir wie u seun sy lewe gegee het. Hy het daardie dag sy lewe vir my gegee toe hy my na veiligheid gedra het en ‘n koeël van die vyand hom reg in die hart tref, hy is opslag dood. Hy het baie oor u gepraat en u liefde vir die kuns.”

Die jong man hou die pakkie uit na die seun se pa. “Ek weet dit is nie baie nie. Ek is nie juis ‘n groot kunstenaar nie, maar ek is oortuig dat u seun sou hê dat u dié neem.”

Die vader neem die pakkie en maak dit oop. Dit was ‘n skildery van sy seun wat deur die jongman geskilder is. Hy staar in verwondering hoe die jongman sy seun se persoonlikheid so kon vasvang in die skildery. Die vader was so aangetrokke tot die oë van die skildery dat sy eie oë opgewel het van die trane. Hy bedank die jong man en bied aan om hom te betaal vir die skildery. “Nee meneer, ek kan nooit vergoed vir wat u seun vir my gedoen het nie, hierdie is ‘n geskenk aan u.”

Die vader het die skildery bokant sy vuurherd geplaas waar hy elke dag daarna kon kyk. Elke keer wat hy besoekers ontvang het, neem hy hulle eers om die skildery van sy seun te sien voordat hy enige van die ander vername skilderye in sy versameling aan hulle vertoon.

Die man is ‘n paar maande later oorlede en daar sou ‘n groot veiling plaasvind van al sy kunswerke. Daar was baie vername mense teenwoordig by die veiling. Hulle was vreeslik opgewonde om sulke vername kunswerke te sien en die geleentheid te kry om op sulke werke te bie en moontlik een in die hande te kry vir hul eie versameling.

Op die afslaersplatform is die skildery van die seun. Die afslaer kap met sy houthamertjie op die podium. “Ons begin die veiling met die skildery van die seun. Wie maak ‘n bod vir die skildery?”

Daar was ‘n doodse stilte.

Toe roep ‘n stem van agter uit die vertrek. “Ons wil die vername skilderye sien ... Los die een eers.”

Maar die afslaer hou voet by stuk. “Sal iemand ‘n aanbod maak op die skildery. Wie sal die bod begin? $100, $200?”

‘n Ander geïrriteerde stem. “Ons het nie gekom vir dié skildery nie. Ons het gekom om die Van Goghs en die Rembrandts te sien. Gaan aan met die regte veiling!”

Maar steeds hou die afslaer vol. “Die seun! Die seun! Wie sal die seun neem?”

Uiteindelik, ‘n stem vanuit die heel agterkant van die lokaal. Dit was die eertydse tuinier van die man en sy seun wat jare vir hulle gewerk het. “Ek sal $10 vir die skildery gee.” Aangesien hy baie arm was, was dit al wat hy kon bekostig.

“Ons het $10, wie sit ‘n bod in vir $20?”

“Gee dit aan hom vir $10. Laat ons ander die meesterstukke sien.”

“Die bod staan op $10, wil niemand $20 aanbied nie?”

Die mense het begin kwaad word, want hulle soek nie die skildery van die seun nie. Hulle soek die meer waardige versamelstukke vir hul versamelings

Die afslaers slaan met sy hamertjie. “Vir die eerste maal, vir die tweede maal, VERKOOP vir $10!”

‘n Man in die tweede ry roep uit, “Laat ons nou met die regte versameling begin!”

Die afslaer plaas sy hamertjie eenkant neer. “Ek is jammer, maar die veiling is verby.”

“Wat van die ander skilderye?”

“Ek is jammer. Toe ek aangestel is om die veiling te behartig, is ek ingelig van ‘n geheime klousule in die testament. Ek was nie toegelaat om die klousule te openbaar tot nou toe nie. Slegs die skildery van die seun sou aangebied word vir die veiling. Wie ook al die skildery sou koop, erf die hele landgoed en daarby ingesluit is ook al die ander skilderye. Die man wat die seun neem, kry alles!”

God het Sy Seun 2000 jaar gelede gegee om aan die kruis te sterf. Baie soos die afslaer, is Sy boodskap vandag: “Die seun! Die seun! Wie sal die seun neem?”

Want, jy sien, wie ook al die Seun neem kry alles.

WANT SO LIEF HET GOD DIE WÊRELD GEHAD, DAT HY SY ENIGGEBORE SEUN GEGEE HET, SODAT ELKEEN WAT IN HOM GLO, NIE VERLORE MAG GAAN NIE, MAAR DIE EWIGE LEWE KAN HÊ ... DIT IS LIEFDE

[Nog kosbare stories HIER]

Tuesday, 4 April 2023

Dinsdag-denke: Ek is nie kwaad nie

Na die laaste wêreldoorlog het ‘n prediker in die stilte van sy kerk gesit en met God gepraat.

Dit was doodstil en skielik het die agterdeure oopgegaan en ‘n ouerige man het ingestap met ‘n dogtertjie van so twee jaar op sy arm. Toe hy by die voorste banke van die kerk kom, het hy haar op die grond neergesit. Die predikant het toe agtergekom dat die dogtertjie verlam was.

Die prediker het doodstil bly sit en gesien hoe die man voor die kansel neerkniel en saggies bid. Na ‘n paar minute het die man opgestaan, die dun gewaste kombersie weer om die dogtertjie gedraai en gereed gemaak om weer uit te stap.

Die prediker het nader gestap en die man met die hand gegroet en homself voorgestel. Dit was baie opvallend hoe skoon die ou man en die klein dogtertjie se klere was, al was dit verwaarloos en vol gate gewees.

Hy vra toe die ouer man of dit sy kleindogter is. “Ja,” sê die ou man. “Sy is gewond in dieselfde bomaanval wat haar moeder en vader se lewens geeïs het. Sy is verlam en bly nou by my. My vrou het ‘n hartaanval gekry na die nuus van ons seun en skoondogter se dood en sy het ook gesterf.”

Met trane wat by sy wange afloop het hy die tingerige lyfie teen hom vasgedruk en vir die prediker gesê dat sy al is wat hy nog oor het van sy hele gesin.

Die prediker het aan die knop in sy keel gesluk en toe vir die ou man gevra wat hy vanoggend hier in die kerk kom doen het. Die ou man antwoord met ‘n sagte bewerige stem ... "Ek het net vir die Here kom sê ek is nie kwaad vir Hom nie, en dat ek Hom nog steeds baie liefhet."

Buite het hy die dogtertjie in ‘n stukkende waentjie gelaai en mank-mank die straat af gestap.

Ten spyte van sy haglike omstandighede ...

Ten spyte van sy ooglopende armoede ...

Ten spyte van sy hartseer en pyn oor al die geliefdes wat gesterf het ...

Ten spyte van die gesukkel om ‘n dogtertjie wat verlam is, te versorg ...

Wou hy net vir die Here sê hy is nie kwaad oor sy omstandighede nie ...

En wou hy hê die Here moet weet hy het Hom nog baie lief ...

[Nog stories HIER]

Tuesday, 28 March 2023

Dinsdag-denke: Om goeie mielies te kweek

Daar was lank gelede ’n boer wat wenmielies gekweek het. Elke jaar het hy sy mielies ingeskryf by die landbouskou en soos klokslag wen hy die blou roset vir die beste mielies in die distrik.

Een jaar het die joernalis van die plaaslike dagblad ’n onderhoud met hom gevoer en iets baie interessants geleer rondom die boer se manier van mielieverbouing. Die verslaggewer het te wete gekom dat die boer sy aanplantingsaad deel met sy bure.

“Hoe kan jy dit bekostig om jou mieliesaad te deel met jou bure, terwyl hulle ook elke jaar inskryf vir die beste mieliekompetisie?” vra die verslaggewer aan die boer.

“Maar, Meneer,” sê die boer “het jy nie geweet? Die wind tel stuifmeel op van die rypwordende mieliekoppe en waai dit van saailand na saailand. Indien my bure minderwaardige gehalte mielies verbou sal kruisbestuiwing stadig maar seker die kwaliteit van my mielies nadelig beïnvloed. Indien ek goeie mielies wil hê, moet ek my bure help sodat hulle ook goeie mielies verbou.”

Die boer was terdeë bewus van die mens se interafhanklikheid van mekaar. Sy mielies kan nie verbeter tensy sy bure se mielies nie ook verbeter nie.

So is dit ook gesteld met ons lewens. Die wat in vrede wil lewe moet ook hul bure help om in vrede te lewe. Die wat gelukkig wil wees moet ook ander om hulle help om geluk te vind, aangesien die welstand van elke een verbind is aan die welstand van almal.

Dit is moontlik om weg te gee en steeds ryker te word! Dit is ook moontlik om te styf vas te hou en alles te verloor. Ja, die vrygewige man sal ryk wees! Deurdat hy aan ander water gee, les hy ook sy eie dors.

Spreuke 11:24-25
Daar is een wat ruim uitdeel en nog meer kry, en een wat terughou meer as wat reg is, maar tot sy gebrek. Die siel wat seën, word versadig; en hy wat laaf, word self ook gelaaf.

[Lees nog stories HIER]

Tuesday, 21 March 2023

Dinsdag-denke: Wie verhinder jou groei?

Die werknemers van ‘n groot maatskappy het teruggekeer van hul etebreek en by die ingangsportaal van die kantore is hulle begroet deur ‘n kennisgewing.

Die kennisgewing het gelees: “Die persoon wat jou die meeste verhinder het om te groei in die onderneming is gister oorlede. Ons nooi jou uit na die roudiens en laaste eerbetoon wat in die gimnasium sal plaasvind, vanmiddag om 16:00.” Almal was eers vreeslike hartseer om te hoor dat een van hul kollegas afgesterwe het, maar na ‘n rukkie was almal baie nuuskierig om uit vind wie is die kollega wat oorlede is.

Die afwagting het gegroei soos wat die werknemers by die gimnasium opgedaag het om hul laaste eer te betoon aan die oorledene. Almal het gewonder wie is die persoon wat hulle die meeste verhinder het in hul groei in die onderneming en elke een het gespekuleer wie dit kan wees. Die meeste se gevoel was in elk geval, “Maak nie regtig saak wie dit is nie, ten minste is hy of sy nie meer daar nie!”

Een vir een het die werknemers nader gestaan aan die oop kis en wanneer hulle in die kis kyk was almal sprakeloos. Hulle was geskok, so asof iemand hul diepste wese aangeraak het.

Daar was ‘n spieël binne die kis en elkeen wat inkyk kon sy eie refleksie in die kisbodem sien.

‘n Nota was langs die spieël aangebring wat as volg gelees het:

“Daar is slegs een persoon wat in staat is om beperkinge op jou groei te plaas: dit is JYSELF.”

Jy is die enigste een wat in staat is om jou lewe te verander. Die enigste persoon wat kan bepaal hoe gelukkig jy vandag gaan wees of hoe suksesvol. Jy is die enigste persoon wat jouself kan help of jouself belemmer om te groei.

Jou lewe verander nie as jou werkgewer verander, of jou vriende verander, of jou ouers verander, of jou lewensmaat verander of jou kinders verander nie.

Jou lewe verander slegs wanneer JY verander, wanneer jy verder strek as wat jy dink jy in staat is om te strek.

Wanneer jy glo dat jy tot alles in staat is, slegs dan eers sal jy werklik tot alles in staat wees.
Jy moet lief wees vir jouself en in jouself glo, want hoe anders sal jy jou naaste kan liefhê of in jou naaste glo as jy nie in jouself glo nie

[Nog stories HIER]

Tuesday, 14 March 2023

Dinsdag-denke: Die Teekoppie

Hierdie verhaaltjie is gebaseer op Jeremia 18:6b: “Sal Ek nie soos hierdie pottebakker met julle kan maak nie, o Huis van Israel? Spreek die Here. Kyk, soos klei in die hand van die pottebakker, so is julle in my hand, o Huis van Israel.”

Daar was ‘n paartjie wat gereeld na Engeland gereis het, en daar het hulle in die mooiste winkels inkopies gedoen. Albei het baie van oudhede en ‘pottery’ gehou, veral teekoppies.

Tydens hulle 25ste huweliksherdenking het hulle weer na Engeland gereis en in ‘n pragtige winkeltjie op die besonderste teekoppie afgekom. Hulle het die eienaar van die winkel gevra of hulle na hierdie besonderse teekoppie mag kyk, want hulle het nog nooit so ‘n besonderse een raakgeloop nie.

Soos die eienaar van die winkel die teekoppie aan hulle gee, het die teekoppie skielik begin praat ...

“Julle verstaan nie, ek was nie altyd ‘n teekoppie gewees nie. Daar was ‘n tyd toe ek net ‘n bondel rooi klei was. My meester het my gevat, my gerol en my oor en oor gedruk, aan my getrek, en my gebrei, ek het uitgeroep: “LOS MY UIT!”, maar Hy het net vir my geglimlag en gesê: “Nog nie.”

Daarna het Hy my op ‘n pottebakkerswiel gesit, en skielik het ek al in die rondte begin spin, om en om en om. Weer het ek uitgeroep: “STOP EK IS DUISLIG”, maar my Meester het net Sy kop geskud en weer gesê: “Nog nie.”

Hierna het Hy my in ‘n baie warm oond gesit. Ek het nog nooit sulke hitte gevoel nie. Ek het heeltyd gewonder hoekom Hy my wou brand. Ek het weer geskree en aan die deur van die oond geklop. Ek kon hom deur die opening sien, en ek kon sy lippe lees toe Hy sy kop skud en sê: “Nog nie.”

Uiteindelik het Hy die deur van die oond oopgemaak en my op ‘n rak gesit om af te koel. Dis beter, het ek gedink, en toe het Hy weer begin, hierdie keer om hele lyf met goed te smeer wat my wou laat versmoor. Terwyl ek na my asem smag het ek gehuil: “Stop dit, stop dit!” Weer het Hy net Sy kop geskud en gesê: “Nog nie.”

Skielik het ek WEER in die vreeslike warm oond beland, maar hierdie keer was die oond twee keer so warm soos tevore, en ek het geweet dis klaar met my. Ek het gesmeek, ek het gepleit, ek het geskree, ek het gehuil. Die hele tyd kon ek Hom deur die oond se deur sy kop sien skud en sê: “Nog nie.”

Toe het ek geweet dat daar geen hoop meer vir my was nie, dit was klaar met my gewees! Ek sou dit nie maak nie! Ek was reg om op te gee. Maar Hy het die oond se deur oopgemaak en my weer op die rak gesit. ‘n Uur later het Hy vir my ‘n spieël gegee en gesê dat ek na myself moes kyk. Dis nie ek nie, dit kan nie ek wees nie! Dis pragtig! Ek is pragtig!

Ek wil hê jy moet die volgende onthou, het my Meester aan my begin verduidelik. Ek weet dit het jou seergemaak toe ek jou gerol, gerek en gebrei het, maar as ek jou gelos het, het jy uitgedroog en hard geword.

Ek weet dit het jou duislig en naar gemaak toe jy op die wiel gespin het, maar as ek jou gelos het, het jy verkrummel.

Ek weet die oond was warm en nie lekker gewees nie, maar as ek jou nie daarin gesit het nie, sou jy gekraak het.

Ek weet die walms van die verf het jou laat voel asof jy wou versmoor toe ek jou daarmee geverf het, maar as ek dit nie gedoen het nie, sou jy nooit hard geraak het nie, jy sou nie gehou het nie.

Nou is jy ‘n afgewerkte, finale produk. Presies wat ek in gedagte gehad het toe ek aan jou begin werk het.

God weet wat Hy vir en aan ons almal doen. Hy is die Pottebakker, en ons is Sy klei. Hy sal ons vorm en ons brei totdat ons die volmaakte stuk werk is om Sy wil uit te voer.