Tuesday, 14 March 2023

Dinsdag-denke: Die Teekoppie

Hierdie verhaaltjie is gebaseer op Jeremia 18:6b: “Sal Ek nie soos hierdie pottebakker met julle kan maak nie, o Huis van Israel? Spreek die Here. Kyk, soos klei in die hand van die pottebakker, so is julle in my hand, o Huis van Israel.”

Daar was ‘n paartjie wat gereeld na Engeland gereis het, en daar het hulle in die mooiste winkels inkopies gedoen. Albei het baie van oudhede en ‘pottery’ gehou, veral teekoppies.

Tydens hulle 25ste huweliksherdenking het hulle weer na Engeland gereis en in ‘n pragtige winkeltjie op die besonderste teekoppie afgekom. Hulle het die eienaar van die winkel gevra of hulle na hierdie besonderse teekoppie mag kyk, want hulle het nog nooit so ‘n besonderse een raakgeloop nie.

Soos die eienaar van die winkel die teekoppie aan hulle gee, het die teekoppie skielik begin praat ...

“Julle verstaan nie, ek was nie altyd ‘n teekoppie gewees nie. Daar was ‘n tyd toe ek net ‘n bondel rooi klei was. My meester het my gevat, my gerol en my oor en oor gedruk, aan my getrek, en my gebrei, ek het uitgeroep: “LOS MY UIT!”, maar Hy het net vir my geglimlag en gesê: “Nog nie.”

Daarna het Hy my op ‘n pottebakkerswiel gesit, en skielik het ek al in die rondte begin spin, om en om en om. Weer het ek uitgeroep: “STOP EK IS DUISLIG”, maar my Meester het net Sy kop geskud en weer gesê: “Nog nie.”

Hierna het Hy my in ‘n baie warm oond gesit. Ek het nog nooit sulke hitte gevoel nie. Ek het heeltyd gewonder hoekom Hy my wou brand. Ek het weer geskree en aan die deur van die oond geklop. Ek kon hom deur die opening sien, en ek kon sy lippe lees toe Hy sy kop skud en sê: “Nog nie.”

Uiteindelik het Hy die deur van die oond oopgemaak en my op ‘n rak gesit om af te koel. Dis beter, het ek gedink, en toe het Hy weer begin, hierdie keer om hele lyf met goed te smeer wat my wou laat versmoor. Terwyl ek na my asem smag het ek gehuil: “Stop dit, stop dit!” Weer het Hy net Sy kop geskud en gesê: “Nog nie.”

Skielik het ek WEER in die vreeslike warm oond beland, maar hierdie keer was die oond twee keer so warm soos tevore, en ek het geweet dis klaar met my. Ek het gesmeek, ek het gepleit, ek het geskree, ek het gehuil. Die hele tyd kon ek Hom deur die oond se deur sy kop sien skud en sê: “Nog nie.”

Toe het ek geweet dat daar geen hoop meer vir my was nie, dit was klaar met my gewees! Ek sou dit nie maak nie! Ek was reg om op te gee. Maar Hy het die oond se deur oopgemaak en my weer op die rak gesit. ‘n Uur later het Hy vir my ‘n spieël gegee en gesê dat ek na myself moes kyk. Dis nie ek nie, dit kan nie ek wees nie! Dis pragtig! Ek is pragtig!

Ek wil hê jy moet die volgende onthou, het my Meester aan my begin verduidelik. Ek weet dit het jou seergemaak toe ek jou gerol, gerek en gebrei het, maar as ek jou gelos het, het jy uitgedroog en hard geword.

Ek weet dit het jou duislig en naar gemaak toe jy op die wiel gespin het, maar as ek jou gelos het, het jy verkrummel.

Ek weet die oond was warm en nie lekker gewees nie, maar as ek jou nie daarin gesit het nie, sou jy gekraak het.

Ek weet die walms van die verf het jou laat voel asof jy wou versmoor toe ek jou daarmee geverf het, maar as ek dit nie gedoen het nie, sou jy nooit hard geraak het nie, jy sou nie gehou het nie.

Nou is jy ‘n afgewerkte, finale produk. Presies wat ek in gedagte gehad het toe ek aan jou begin werk het.

God weet wat Hy vir en aan ons almal doen. Hy is die Pottebakker, en ons is Sy klei. Hy sal ons vorm en ons brei totdat ons die volmaakte stuk werk is om Sy wil uit te voer.

No comments:

Post a Comment