Showing posts with label Opstel. Show all posts
Showing posts with label Opstel. Show all posts

Friday, 8 August 2025

Verhaal: Skaduwees oor sy pad


Vir die eerste keer na 30 jaar kan hy oor sy lewe heen terugkyk sonder die ou bitter gevoel van verontregting. Die gevoel wat altyd 'n bitter smaak in sy mond gelaat het. Hy voel dankbaar teenoor almal wat vir hom lief en dierbaar is en wonder meteens waar hy sou gewees het as dit nie vir Sondag, 29 November 1959, was nie.  

Sy gedagtes is terug by sy kinderjare: kranige atleet, 'n baie goeie rugbyspeler, ja, hy was selfs rugbykaptein van die skool se eerste rugbyspan, maar sy akademie het ook nie agterweë gebly nie. Hy en Willem, sy grootste vriend, altyd om die eerste plek meegeding ... gesonde kompetisie, wat jou altyd op jou tone gehou het.

Na matriek is hy universiteit toe, waar hy hom as dokter sou bekwaam, 'n droom wat met keuring 'n werklikheid kon word. Tussen die ongelooflike volgepakte rooster, het hy nog tyd kon inruim om vir die universiteitspan uit te draf. Spoedig is hy vir die Springbokspan gekies. Dit was asof die dobbelsteen elke keer 'n 6 na sy kant toe gegooi het. Orals was hy suksesvol en toe die All Blacks in Suid-Afrika kom speel het, het hy die verrassende nuus van Springbokkaptein met sy ouers kon deel, minute voordat dit op die radio uitgesaai sou word.

Die nuusblaaie was vol foto's en berigte, maar spoedig het hierdie berigte en foto's van inhoud verander. Die dag voor die groot wedstryd was hy in 'n motorongeluk. Hy was bewusteloos. Hulle het hospitaal toe met hom gejaag, maar die publiek het geweet dat hy nie sy span op die veld sou kon lei nie. 

Almal het die nuusblaaie met valkoë dopgehou. Toe die skok ...!

Hy is verlam in sy onderlyf. Sy hele lewe is verwoes. Die toekoms was meteens oneindig donker en sy loopbaan as rugbyspeler vir altyd verby.

Hierdie donker skaduwees wat oor sy pad was, het al langer en donkerder geword. Hy kon nie sy graad aan die einde van daardie jaar kry nie. Sy dae in die hospitaal was baie meer as sy dae in die klas. Sy droomberoep moes hy laat vaar ... 'n dokter in 'n rystoel ... ondenkbaar.

Na vele oorwegings was selfmoord die enigste aanvaarbare uitweg, want hy kon geen toekoms vir hom sien nie.

Na 'n mislukte poging, het sy ouers hom nie vir 'n enkele minuut onder hulle oë laat uitgaan nie. Hulle was só bang ...

Toe gebeur dit! Sondag, 29 November ... Dit was sy ma se verjaardag, ook haar laaste verjaardag hier op aarde saam met hulle. Sy het hom gevra om saam met haar kerk toe te gaan. Hy wou eers nie, maar hy het tóg later, baie teen sy sin ingewillig, net vir sy ma se onthalwe.

Van die dominee se preek onthou hy nie veel nie, want die teksvers het soos 'n refrein deur sy gedagtes gemaal: "Vergeet dit wat agter jou is en strek jou uit na die dinge voor jou." Daardie woorde was die keerpunt in sy lewe.

Dit het die grondslag vir sy "nuwe lewe" gevorm, want hy het besef dat elke skaduwee op jou lewenspad van die Here af kom met 'n doel. 

Die nuwe hoofstuk in sy lewensboek het hy aan sy ma opgedra wat nie ophou glo het aan hom nie. Hy het besef dat hy nog steeds 'n bydrae in die mediese wêreld kan maak. Daar is só baie onbeantwoorde vrae oor die groot "K" - die onsigbare sluipende dief wat niemand ontsien nie. Daar is niks verkeerd met sy hande en sy verstand nie. En nou met sy hart op die regte golflengte ingestel, het hy skielik 'n toekoms. 

['n Graad 10-opstel in die sewentigerjare van een van die lesers.] 

Sunday, 15 June 2025

Terugblik: Kleindogter wen met roerende opstel oor oupa

Hy was al die jare 'n boer en het nooit 'n CV nodig gehad nie. Toe skryf sy kleindogter *Mari vir hom die beste CV in die hele wêreld, sê die afgetrede mnr. Japie van Rensburg van Philippolis.

Met haar roerende opstel oor haar oupa Japie, het Mari Beukes (12), dogter van mnr. Fanie en Marietjie Beukes van Theunissen, 'n prys van R1000 losgeskryf in die departement van welsyn se opstelkompetisie vir die Jaar van die Bejaarde.

In Ek is lief vir my oupa skryf Mari:

"Ek sien my oupa so voor my. Vandat my ouma dood is, sit hy altyd alleen op sy vaalgroen stoep. Pyp skeef in die mond, beker rooibostee in sy hand.

Hy kyk ver oor die kalerige bossieveld en sien dinge wat net sy moeë oë kan sien. Hy sien eintlik net met een oog, maar met daardie oog sien hy meer as wat die meeste mense ooit sal kan sien.

Sy woorde is eintlik filosofieë, maar net hy weet dit. Hy en ek, want ek en hy ken mekaar "inside out." Die dinge wat hy sê, is vir my so mooi soos Shakespeare, so waar soos Desmond Tutu, so aards soos Langenhoven. Dis pure oupa-wysheid. 

Sy stories neem my na ver plekke. Hulle gee lewe aan die naamlose gesigte op die ou foto's. Hulle is nie swart letters op wit papier nie, maar warm woorde wat in die lug ronddryf en hulle lê op my hart kom kry. Hulle gee meer as wat hulle vra ... net soos hý altyd altyd gee waar ander nie wil nie.

Hy waarsku oor dinge en ek dink soms dis sommer "nonsens," maar dan sien ek hy was reg. Hy sê altyd: "Onthou, jammerhartigheid vreet sy eie baas." Hy weet hy is reg, maar tog raak hy gou jammer en bly hy gee en gee.

My oupa is nie geleerd of slim of belangrik nie. Hy het nie om die wêreld gereis of rekords geslaan nie. Hy is doodgewoon. Maar hy ken my en almal om hom so diep, hy weet sommer wat ons dink.

Hy kan die grootste probleme oplos. Nie wiskundeprobleme nie. Hart- en voelprobleme. Dan praat hy sulke fyn trooswoorde en verf my hele wêreld vol mooi dinge. Hy laat my voel of ek 'n ster is. Asof ek die een of ander wonderlike krag in my het. Hy glo in my. Hy sê hy weet ek kan enigiets doen wat ek regtig wil doen.

My oupa laat dink my partykeer aan die wind. Hy dra my deur slegte tye. Soos wanneer ek sukkel of verlang, maar in goeie tye laat hy myself vlieg. "Gaan kind, geniet dit!" hoor ek hom sê. Hy is nie 'n storm- of seermaakwind nie. Soms fluister hy my in die regte rigting en soms as ek nie wil luister nie, wag hy om my te vang.

Ek kry altyd die laaste stukkie biltong en hy sê ja vir al my kleinkind-versoeke. Dit is asof sy liefde nooit ophou nie. Dit vou my so lekker toe soos 'n wolkombers in die winter.

Hy weet wat Pa en Ma nog nie weet nie. Dat ek net nóú gaan klein wees. Dat ek vinniger as 'n lappie boontjies gaan opskiet die wye wêreld in. Is dit hoekom hy my so fyntjies versorg?

Mens lees in boeke van allerhande wyse manne wat nie toelaat dat omstandighede hulle breek nie. Wat hulself nooit bejammer nie en nooit ophou bid en glo en hoop nie.

My oupa is só 'n wyse man."  

*Mari is 'n leerling aan die Hoërskool Theunissen waar haar pa, Fanie, hoof is en haar ma, Marietjie, 'n onderwyseres. Sy is 'n ywerige leser en skrywer. In 1997 het Mari as negejarige 'n opstelwedstryd gewen oor waarom Bloemfontein die hoofstad van Suid-Afrika moet wees.

Volksblad: Donderdag, 23 Desember 1999 

[Ingestuur deur Ann]