Showing posts with label Briefie. Show all posts
Showing posts with label Briefie. Show all posts

Sunday, 7 July 2024

Herinneringe: 'n Briefie aan 'n oupa

Liewe Oupa

Respek is die eerste ding wat in my kop kom as ek aan Oupa dink.

Ek het Oupa gesien as die generaal van 'n familie wat sukses bereik het met die ondersteuning, wysheid en leiding van 'n liefdevolle vader en oupa. Oupa het my altyd opgebou om 'n beter mens te wees en om liefde en meegevoel vir ander te hê. Daar is dinge wat 'n kleinseun net by sy oupa kan leer, en ek het die beste voorbeeld gehad.

Oupa, dankie vir al die mooi stories en herinneringe wat ek saam met Oupa deur die jare kon opbou. Ek gaan baie na Oupa verlang en Oupa altyd in my hart saamdra. Oupa se lewenslesse gaan ook eendag my kinders se lewenslesse word. Ek was geseënd om iemand soos Oupa in my lewe te kon hê.

Ek is lief vir Oupa.

Oupa se oudste kleinseun

Sunday, 26 May 2024

Herinneringe: 'n Briefie aan 'n oupa

Oupa

Daar is soveel dinge wat Oupa al vir my vertel en geleer het. Al sal ek altyd die lesse en stories onthou, is daar een aspek van Oupa wat ek die meeste gaan mis en elke dag aan sal dink. Dit is die manier hoe Oupa altyd vol liefde en uit die hart en maag gelag het. Oupa was, is en sal altyd die persoon wees wat my en enige iemand kon laat beter voel deur net te glimlag.

Oupa het gelag net soos Oupa geleef het ... Voluit!

Elke ete om die tafel sonder Oupa se gebed en geselskap voel leeg en sinneloos, maar ek sal Oupa elke keer daar sien en hoor, al is Oupa nie daar nie.  

Oupa was ons skeinat- en strooipraatkoning en elke oomblik wat ek saam met Oupa onthou, goed en sleg, sal my altyd bybly. Oupa se diep stem sal altyd my hart warm hou en my veilig laat voel. Dankie!

Oupa se Engel

Sunday, 19 May 2024

Herinneringe: Briefie aan 'n oupa

Liewe Oupa

Ek kan net dankie sê dat ek deel kon wees van jou lewe, dat ek die voorreg gehad het om soveel wyshede van jou te kon leer en wanneer ons vashaak met skeinat en wiskunde, het jy gehelp om dit uit te redeneer.

Jou lag en vlymskerp sêgoed kan ons nooit vergeet nie. Jy was vir ons 'n ware voorbeeld en 'n liefdevolle oupa waarop elke kleinkind trots kan wees.

Oupa, ek gaan jou baie mis Jy laat 'n groot leemte na.

Maxie 

Sunday, 12 May 2024

Herinneringe: Briefie aan 'n ouma

Liewe Ouma

Na 86 jaar en 51 weke moes ons jou groet. Alhoewel my hart seer is om jou te laat gaan, weet ek dat jy nou veilig en sonder pyn is - en my herinneringskissie is vol kosbaarhede wat altyd tot troos sal wees.

Ek onthou hoe jy en oupa my keer op keer saam op vakansie geneem het en bederf het soos net 'n ouma en oupa kan. Ek onthou hoe jy saam met my op die strand en in rotspoele gespeel het.

Maar die belangrikste wat ouma my geleer het, is liefde. Ouma se verhouding met die Vader was altyd 'n voorbeeld van iemand wat na aan Hom wandel. Ouma se verhouding met ander was altyd 'n voorbeeld van hoe om in liefde met ander om te gaan. En ouma se verhouding met oupa bly vir my 'n voorbeeld van 'n huwelik wat in God gevestig was. Ouma het geglo dat 'n mens nooit kwaad vir iemand mag gaan slaap nie - en dit is 'n les wat ek altyd met my sal saamneem.

Dankie vir al ouma se liefde en omgee. Oral waar ouma gegaan het, het jy mense se lewens aangeraak: kinders, kleinkinders en agterkleinkinders, familie, vriende, bure en selfs deur briewe aan sendelinge in verre lande te skryf.

Ek sal die kosbare herinneringe altyd in my hart saamdra.

Annelie 

[As iemand die skrywer van die stukkie ken, stuur asb. besonderhede sodat ons erkenning kan gee. Dankie vir die persoon wat die fotostaat op my tafel gesit het en op hierdie manier kan al die lesers deel in dié beskrywing van die mooi verhouding tussen verskillende geslagte.]