'n Toegewyde sakeman het die gewoonte gehad om Sondaemiddae traktaatjies op straat uit te deel. Een Sondagmiddag het hy egter moeg gevoel en besluit om tuis te bly. Buitendien het dit buite begin reën.
"Gaan Pappa dan nie vandag traktaatjies uitdeel nie?' het sy elfjarige seun verbaas gevra.
"Nie vandag nie, my kind; dit reën te veel en ek voel ook te moeg om uit te gaan."
"Dan sal ek in Pappa se plek gaan," het die seun gretig aangebied.
Sy pa het eers allerlei besware geopper, maar toe sy seun by hom aanhou om te gaan, het hy nie kans gesien om te weier nie.
Hoogs in sy skik is die seun daar weg met die traktaatjies. Die strate was verlate weens die reën, maar vasberade het hy volhard, en geleidelik het die traktaatjies minder geword totdat daar nog net een oor was.
Met lang treë het hy na die naaste huis gestap en aangeklop.
"Wie's daar? Wie klop daar?" het 'n stem van binne herhaaldelik gevra; maar sonder om te antwoord, het hy aangehou met klop totdat die deur eindelik oopgegaan het.
'n Middeljarige vrou met 'n bekommerde gesig het in die deur verskyn en hom vraend aangestaar.
"Ek het net hierdie traktaatjie vir u gebring," het die seun hoflik en met 'n glimlag op sy gesig gesê. Daarop stop hy die traktaatjie in haar hand, en verdwyn haastig weer, terwyl die wind sy: "Tot siens, mevrou," na haar toe terugwaai.
'n Week daarna het die vrou by geleentheid soos volg getuig:
"Verlede Sondag was ek in wanhoop en ná 'n lang worsteling, op die punt om myself op te hang, toe daar skielik aan die deur geklop word. Ek wou nie oopmaak nie, maar die geklop het aangehou, totdat ek later verplig was om die deur oop te maak. En daar vind ek toe 'n klein engel met 'n stralende gesig, en hy gee my 'n geestelike blaadjie om te lees. Ek het meteens besef dat God my nog nie vergeet het nie, en in trane het ek op my knieë neergeval, my sondes bely en om vergifnis gevra. En die Here het my siel gered. God het op die regte oomblik Sy engel gestuur om 'n verlore skaap deur middel van 'n traktaatjie te vind."




















