Tuesday, 9 April 2024

Dinsdag-denke: Die Augrabiesvalle se les

Die naweek het ek en my gesin weer die Augrabiesvalle besoek in die NOORD-KAAP. Met al die reën in die land en die riviere wat in vloed is, was die verwagting groot dat dit die jaar 'n wonderlike skouspel gaan wees..

Ons moes maar redelik lank wag by die hek voordat ons kan ingaan in die park, want reeds vroegoggend het die motors alreeds lang toue gestaan en wag vir hul beurt om in te gaan.

Van die mense wat wag om in te gaan, was al moedeloos, hier en daar was een wat omgedraai het, maar tog het daar ’n baie vriendelike en gesellige atmosfeer onder die mense geheers. Die kinders het langs die kant van die pad baljaar en op en af gehardloop. Elke keer wanneer die ry so tien motors aanbeweeg, was daar weer groot opgewondenheid, want die toegangshek is nie meer ver nie. Langs die pad was daar ’n ou droë rivierloop wat reeds in vloed was, ’n klein syvertakking van die Oranjerivier. Die was omtrent so ’n klein voorskou van wat op ons sou wag wanneer ons by die werklike Oranjerivier kom, waar hy afstort in die ravyn.

Uiteindelik is ons in by die park en langs die pad sien ons die magtige Oranjerivier soos hy afstorm, in vloed, op die rotse en skeure wat voorlê voordat die water verdwyn in die smal kloof op pad na die see. In die verte kon jy reeds die dreuning van die water hoor soos dit afstort in die ravyn.

Nadat ons geparkeer en klaar die toegangsgelde betaal het, stap ons af na die waterval. Op ’n afstand kan jy al die kolkende watermassa sien soos dit oor die afgrond stort – wat ’n asemrowende gesig is dit nie. Die rivier het so breed gevloei dat daar sestien watervalle was, elkeen pragtig maar nie te vergelyk met die hoofval wat water meters hoog die lug in opskiet soos dit die rotse tref. Dit was voorwaar ’n skouspel soos min en het ek net weereens besef hoe Magtig moet Vader wees as Sy skepping so groot en wonderlik is.

Verder in die ravyn af is die watervalle nie so groot en indrukwekkend nie maar is hulle baie hoog en wanneer die water neerstort onder in die kolkende watermassa is dit soos ’n wolk van misreën wat opstyg. Die reënmis is so erg dat as jy maar ’n paar minute in die reënmis loop, is jy so nat dat jy die water uit jou klere kan uitdroog.

Die reënmis maak van alle kante af nat, bo, onder langs die kant, daar is nie te ontsnap aan die reënmis nie. Jy haal selfs die reënmis in en dit omvou mens in totaliteit.

Wat ’n lieflike ervaring was dit nie en voorwaar ’n skouspel om te sien en te beleef.

Dinsdagoggend tydens my oggendaanbidding en lofprysing verskyn die wonder van wat ek die naweek aanskou het, weer in my gedagtes en word die volgende lesse daaruit vir my geleer deur die Gees van Yahweh.

Soos wat ons gewag het om in te gaan en die wonder van die valle te aanskou, so wag die mense hier op aarde op die koms van ons Verlosser wanneer Hy op die wolke sal verskyn. Daar is ’n groot afwagting en opgewondenheid onder Sy kinders om Hom te sien. Maar so is daar ook ’n paar wat moedeloos raak terwyl hulle wag, maar steeds wag hulle en hou moed want die einde is in sig. Ongelukkig is daar ook dié wat nie kans sien om so lank te wag nie en maar omdraai en wegstap van die heerlikheid wat daar wag, want die wêreld roep harder as die stem van die Almagtige. Die klein syvertakking van die rivier was soos ’n klein voorskou van wat op ons wag en so loop ons ook in ons omwandelinge saam met Vader hierdie onverwagse heerlike geskenke van Sy Heerlikheid raak en staan ons soms verbyster voor Sy grootheid en Almag. Soms wanneer ons totaal moedeloos is, lei Vader ons om by so ’n syvertakking uit te kom, sodat ons weer verfris kan word deur die heerlikheid van Sy genade.

Wanneer jy by die park ingaan, dan weet jy, jy het uiteindelik gearriveer by jou bestemming, die paar kilometer wat jy nog moet ry, maak nie saak nie, want jy is in, die gewag is verby. Wanneer ons die Here aanneem as ons enigste Verlosser, dan het ons ook gearriveer, in die Heerlikheid en reddende Genade van ons Koning. Dan kan ons eers die groot rivier van Sy genade sien. Ons is nog nie by die skouspel nie, maar ons kan nou sien waarheen dit lei en ons sien die Almag wat hierdie rivier van Liefde en Genade van ons Vader voortdryf.

Die afgaan na die valle is ook die paadjie wat ons moet wandel nadat ons gered is, want dan eers begin die groei en die werklike kennismaking met die grootheid van God. Ons kan Sy stem hoor net soos ons die gedreun van die valle kan hoor. Dit lok jou om nader te kom en die almag en skouspel te kom aanskou.

Elke een wat daar staan en die valle aanskou lyk baie tevrede, want hulle het tot hier gekom om die wonder van die valle te aanskou net soos die kinders van Vader baie bly is dat hulle die wonder van Sy heerlikheid mag aanskou.

Die reënmis wat opslaan van die valle en mens omtrent insluit van alle kante is soos die Gees van Vader wat ons omvou, wat deel word van ons en getuig van die grootsheid van die water. Sonder die water kan daar geen reënmis wees nie en die valle veroorsaak die reënmis. Die een getuig van die ander en saam is hulle deel van dieselfde water.

Aan die einde van die besoek het my vrou opgemerk dat dit voel asof die hele prentjie nog nie heel voltooi is nie, sy sal graag wil sien waar die water die see inloop, want dit sal die hele skouspel afrond.

Vir die afronding van die skouspel sal ons maar nog ’n rukkie moet wag totdat ons Koning ons kom haal op die wolke, dan sal die prentjie voltooi wees.

Watter wonderlike ervaring was dit nie en wanneer ek weer by ’n waterval kom, sal die les van Augrabies my altyd bybly.

Soms tref ons die Vader se genade en lering op die mees onverwagse plekke aan, ons moet net altyd sorg dat ons “ore” oop genoeg is om te luister.

No comments:

Post a Comment