Showing posts with label Brei. Show all posts
Showing posts with label Brei. Show all posts

Thursday, 15 June 2023

Nuwe inwoners


'n Nuwe paartjie het gister hulle intrek in Ons Huis geneem. Die keuse van 'n tehuis was nogal 'n gewigtige besluit en na vele oorweging het hulle besluit op Ons Huis Kimberley. Almal is hier welkom en die gevestigde inwoners reik graag uit, want hulle was ook op 'n stadium nuut en onseker.

Chris en Ems het dadelik tuis gevoel. Dis belangrik om op hierdie gevorderde ouderdom tog nog in 'n huislike omgewing te bly. Hierdie twee gebore Vrystaters het al baie in hulle lewe belewe: die konsentrasiekamp, WO1 en WO2, die groot griep en meer onlangs Covid-19, depressie en resessie, maar die landing op die maan was vir hulle 'n onwerklike hoogtepunt. Op hierdie twee mense se gesigte lê die spore van storms en swaarkry, maar die blink in hul oë vertel dat daar nog baie energie vir die laaste skof oor is. Hulle het vir baie jare in Oos-Londen gebly, waar Chris in die bank gewerk het. Ems se passie was laslappiewerk, sy het selfs haar peetkinders die kuns van laslappiewerk en beskuit bak geleer.

Baie welkom en die redaksie verneem dat Ems dadelik uitgenooi is om by die breigroep aan te sluit, terwyl Chris meer in bingo belangstel.

Wednesday, 18 January 2023

Broodnodige breibenodigdhede vir uitreikaksie


Dis miskien nou warm ... baie warm, maar 'n ysige winter lê vir ons en loer ... daarom wil ons nie onkant gevang word nie.

Mussies, kouse en serpe is hoog op die breiers se prioriteitslys om die winter vir die straatkinders meer draaglik te maak. Ons kort egter dringend wol om hierdie uitreik suksesvol te maak.

Kontak gerus vir Rina Groenewald vir enige navrae of skenkings by 082 447 3332

Thursday, 6 June 2019

Wêreldbreidag ...

Vandag is die dag om hierdie baie skaars vaardigheid te beoefen en sommer iets vir die kleinkinders te brei.

Thursday, 18 April 2019

Ons Huis se omgeebreiers ...

Almal het bruikbare talente en elke oggend sit die breigilde van Ons Huis en omskep bolle wol in welkome warm winterstruie. Die blínk in die ontvangertjies se oë, is die medikasie vir rumatiekvingers om die breinaalde klikkend te laat praat.

Hierdie weldoeners van ACVV Ons Huis in Kimberley het op 8 April 2019 hierdie truie aan die minderbevoorregte kinders van ACVV ya Tshepo Creche in Leratopark oorhandig.

 



Monday, 18 June 2018

Ons bydrae ...

Inwoners by ACVV Ons Huis residensiële fasiliteit vir ouer persone wil graag die winter serpies, truie en sokkies brei ten bate van kliënte van die maatskaplike dienste in Soul City en Leratopark. Indien u oortollige wol het, is u welkom dit af gee by Ons Huis in Ariadne Rylaan. Vir verdere navrae skakel gerus ACVV Kimberley-kantoor by (053) 831 5815.

Saturday, 31 March 2018

Tyd vir breinaalde uithaal...

Raak betrokke en skenk wol!
Wintertyd is breityd en Ons Huis se inwoners is lief om die penne nader te trek en met geoefende vingers die koue wintermaande op hierdie manier te trotseer...

Hope truie, serpe en mussies om kleintjies teen die koue te beskerm, het al van hierdie breipenne af gekom. So 'n handgemaakte geskenk verwarm mos die hart ook... dus dubbele warmte!!
Inwoners van Ons Huis is aktief besig om 'n verskil te maak
waar hulle kan. Hulle brei serpies, truie 
en sokkies ten bate van
kliënte van die maatskaplike 
dienste. Indien u oortollige wol het,
is u welkom 
om dit af te gee by Ons Huis in Ariadne Rylaan
of by die ACVV-kantoor op die hoek van
Long- en Hollandweg. Vir verdere navrae skakel gerus
ACVV Kimberley-kantoor by (053) 831 5815.