Showing posts with label Boodskap. Show all posts
Showing posts with label Boodskap. Show all posts

Wednesday, 23 April 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Moenie opgee nie

Ek weet dat hierdie boodskap vandag vir iemand bedoel is. 

God is in beheer ... wanneer alles om jou donker lyk ... onthou net 3 woorde: moenie opgee nie! 

Is die tonnel donker? Moenie omdraai nie!
Is die pad lank? Moenie gaan sit nie!
Is die nag swart? Moenie tou opgooi nie!

God se oë is op jou ... wie weet dalk sê Hy op die oomblik vir n engel om jou klip weg te rol ... 
God is nog steeds die Een wat engele stuur. 
God is nog steeds die Een wat klippe wegrol ...
Hy is altyd dieselfde!
Die Begin en die Einde!
God verander nooit nie!
Hy wil vandag vir jou sê: Vertrou My, want My tydsberekening is perfek ... 
Hou net aan bid; Hy sal jou gebed beantwoord.
Weet verseker dat Jesus jou wat hier lees vreeslik baie lief het.
Vertou op Jesus, Hy ken jou hart vandag baie beter as wat jy dink.

[Dankie, Rosetta, dat jy hierdie gedagtes aangestuur het.]

Saturday, 19 April 2025

Die woord Passie - “Passion” (Deel 2)

In die 12e eeu is die woord gebruik vir die lyding van Jesus aan die kruis. Dit het die betekenis van om te ly, om te verduur, gehad. (suffering, enduring).

Later is dit gebruik om die Christelike martelare se toewyding waarmee hulle hul vervolging en lyding verduur het, te beskryf.

Later het die betekenis oorgegaan na entoesiastiese toewyding. As ons vandag sê jy doen ʼn ding met passie, doen jy dit met entoesiasme, met oorgawe, met baie liefde en met jou hele hart.

Hoe gebruik ons die woord passie vandag?

* Ons praat van die Passie Spele, bedoelende die uitbeelding van Jesus se lydensgeskiedenis, sy gevangeneming, veroordeling en kruisiging.

* Dan gebruik ons dit vir besondere liefde en toewyding aan ʼn saak wat jou na aan die hart lê.

* Natuurlik ook vir klein of kort treetjies.

* Die Engelse gebruik dit ook nog in “passion fruit.” As die kelner vra: “Wat wil julle drink?” en jy sê, “Passion fruit,” kry jy ‘n grenadelladrankie.

[Chris Erasmus]

Friday, 18 April 2025

'n Blom vir Paasfees: Christene vier hierdie naweek Paasfees (Deel 1)

Chris sê: "Ek vra een oggend vir iemand op straat wat Paasfees vir hom beteken. Hy sê hy weet Vrydag is ʼn vakansiedag en dis ʼn kerklike dag, maar hy weet nie eintlik wat dit beteken nie. Ons wat weet, moet vir hulle wat nie weet nie, vertel en verduidelik.

Maar hoe vertel mens kort en bondig die Paasverhaal?

Doen dit soos die Spaanse sendelinge dit al eeue gelede gedoen het.

Al wat jy nodig het is ‘n grenadellablom. Dis hoeka nou die tyd dat die grenadellas blom.

Spaanse sendelinge het dit jare gelede gebruik as hulpmiddel om die verhaal van Goeie Vrydag te vertel.

Die grenadella staan vandag bekend as “passion fruit”. Waar kom die “passion” in die grenadella vandaan? Woorde ondergaan met die jare verandering in betekenis. So is dit ook met die woord “passion” by die grenadella.

Kom ons gaan haal die storie heel aan die begin.

Laat in die 12e eeu het die Spaanse sendelinge in Suid-Amerika die wondermooi inheemse blom van die grenadella gesien. Hulle begin toe om die blom te gebruik om die verhaal van Jesus se lyding en kruisiging te vertel. Die lydensgeskiedenis van Jesus word in Engels die “Passion of Christ” genoem. As jy die lydensgeskiedenis, die “passion of Christ” en hierdie besondere blom by mekaar bring, kry jy “Passion Flower” en “Passion Fruit”.

Kyk mooi na die blom dan sien jy die verskillende elemente van Jesus se lydensverhaal in verskillende dele van die blom..

1. Die tien kroonblare verteenwoordig die 10 dissipels wat getrou was. (Petrus het sy Here verloën en Judas Iskariot het sy Here verraai. Daarom word hulle nie bygetel nie.)

2. Die helmdrade verteenwoordig die doringkroon wat Jesus gedra het.

3. Die vyf meeldrade herinner ons aan Christus se vyf wonde: twee spykerwonde in sy hande, twee in sy voete en die wond van die soldaat se spies in sy sy.

4. Die drie stempels verteenwoordig die drie spykers wat Jesus se liggaam aan die kruis gespyker het.

5. Die ranke het hulle laat dink aan die geseltoue (die geselsweep) waarmee Jesus geslaan was.

6. Die gelobde blare vertel die storie van die hande van die mense wat Jesus gevang en gefolter het.

7. Die pragtige blou en wit kleure verteenwoordig die Hemel en reinheid.

Hoekom het ons nie al lankal die grenadellablom die Paasblom genoem nie?

Paasfees is natuurlik meer as wat die grenadellablom ons vertel. Die Paasverhaal gaan verder as die doringkroon en die kruis. Dit gaan na die toe graf en dan na die oop graf - Jesus se opstanding uit die dood.

Mag jy 'n besondere geseënde Paasfees hê."

[Chris Erasmus]

Friday, 21 February 2025

Elke uur van die horlosie het 'n boodskap

EENUUR:- sê vir my ek lewe net eenmaal en daarom moet ek die lewe waardeer en my tyd op aarde reg gebruik.

TWEEUUR:- sê ons het net 2 ouers wat ons moet liefhê en gehoorsaam.

DRIEUUR:- herinner my aan die Drie-enige God wat ek met my hele hart moet. .. liefhê, die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

VIERUUR:- herinner my aan die 4 windstreke (Noord, Suid, Oos en Wes) en dat ek, waar ek ookal gaan, God se kompas (my Bybel) nodig het om vir my rigting aan te wys.

VYFUUR:- dui op die 5 vingers aan elke hand waarmee ons moet werk om ons brood eerlik te verdien en diensbaar vir die Here te wees.

SESUUR:- sê vir my dat ek ses dae van die week moet werk.

SEWEUUR:- sê dat ek op die sewende dag moet rus.

AGTUUR:- laat my dink aan die agt siele in Noag se ark wat in die sonvloed behoue gebly het, en dat ek net so behoue sal bly as ek by Christus my skuiling soek.

NEGEUUR:- herinner my aan die 9 melaatses wat nie teruggekom het om die Here te dank na hulle gesond geword het nie, en maan my om altyd dankbaar te wees vir al die goeie dinge wat ek uit Sy hand ontvang.

TIENUUR:- herinner my aan die 10 jong meisies waarvan 5 nie gereed was toe die bruidegom gekom het nie, en vermaan my om nie so dwaas te wees nie.

ELFUUR:- herinner my aan so baie mense wat tot elfderuur uitstel om hulle te bekeer en dan onverwags te sterwe kom.

TWAALFUUR:- sê vir my die genadetyd is haas verby. Middernag kom die bruidegom en ek moet sorg dat ek nie agter bly as hy sy kinders kom haal nie.

Elke tik van die horlosie. Elke klop van die hart bied 'n geleentheid! Amen!

[Dankie, Rosetta, vir die aanstuur van hierdie boodskap.] 

Wednesday, 25 December 2024

Kersgebed

Vader, ons is dankbaar vir die vredevolle boodskap van die engele oor die geboorte van u Seun, Jesus Christus. Mag ons die vrede van Christus ervaar te midde van die gejaagdheid van hierdie seisoen. Help ons om vrede te bring waar daar konflik is, en laat ons harte gerus wees in u teenwoordigheid. Amen.

Saturday, 14 December 2024

Afsluitingsfunksie: Ons Huis se engele gaan met vakansie


Ons Huis se engele besoek die inwoners op 'n gereelde basis en dan word daar sommer lekker gekuier, baie gesels en heerlik geëet aan al die snoepgoed wat saamgebring word. Dit bly mos maar die hoogtepunt van elke kuier as jou smaakkliere net so hard kan saamgesels.


Voeg daarby mededingende bingo, met verrassende pryse om te wen, en die Saterdag bars uit sy nate. Geniet Desembermaand met verskeie hoogtepunte. Die engele gaan DV volgende jaar na al die Desembervakansiestories kom luister.    


Foto's: Millie Mouton

Saturday, 2 November 2024

'n Soet Saterdag in November


Wat 'n heerlike Saterdagoggend was dit nie? Die engele, gewapen met smaaklike kolwyntjies, het ons kunstalente weer beproef en sommer goeie oefening ook gegee. Daar was versierings te kus en te keur en ons kon ons kolwyntjies ryklik versier met 'n swaar hand!    

Dankie vir 'n heerlike kuier ... dankie dat ons ons naweek op 'n hoë soet noot kon begin en dankie vir die heerlike eetgoed. Ons waardeer julle!  

Foto's: Millie Mouton