Showing posts with label Johannes. Show all posts
Showing posts with label Johannes. Show all posts

Sunday, 6 September 2026

Oomblik van stilte: Johannes‬ ‭16:33‬ - Weerstaan Mismoedigheid

“Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”‬‬

• Wanneer ons beheer oor ons denke verloor en mismoedig word het ons die geveg verloor teen die duiwel.
• Ons word so oorweldig deur ons omstandighede, ons skuldgevoelens en ons lyding dat ons ophou om te glo, dat ons moed verloor en mismoedig word.
• Dinge kan soms vir ons so moeilik raak, die wêreld kan ons so druk dat ons nie meer wil glo in God nie.
• Soms is dit so erg dat ons begin om God te blameer vir wat met ons gebeur.
• Geliefde Jesus het geweet dat daar sulke dae vir ons oppad is. Hy het geweet dat daar tye sal kom wanneer ons sal verval in mismoedigheid.
• Dit is waarom Jesus vir jou vandag sê, Hou goeie moed! Moenie moed verloor nie.

Gebed: Here, U het die wêreld reeds oorwin. U het al my smart, my lyding, my swaarkry, my probleme, my bekommernisse op U geneem en die prys daarvoor betaal. Daarom bid ek om nooit mismoedig te word nie. In Jesus naam. Amen

Sunday, 4 May 2025

Oomblik van stilte: Joh. 16:26

Maar as die Trooster gekom het, wat Ek julle van die Vader sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy van My getuig.

Jesus het vir jou die Heilige Gees gegee; die Gees van waarheid wat van Hom getuig.
Sy Gees sal jou leer dat jy alles kan weet en onderhou wat Jesus op aarde geleer het, en waarvan ons die optekeninge van die Apostels kan lees.
Moenie die Heilige Gees bedroef nie, en moenie teen Hom sondig nie.
Laat die Heilige Gees toe om jou te lei in die skrif en in gebed; Hy ken tog God die heel beste en sal jou in Gees en in waarheid lei.

Dankie Heilige Gees, dat u inwonende teenwoordigheid my versterk en verfris,  sodat ek U beter kan leer ken en tot U kan kom in bid. U praat met my, lei my en gee selfs drome en visioene wat God verheerlik en my leer. Vader, U het vir my hierdie geskenk gestuur as 'n pand, sodat ek gereed kan maak vir u wederkoms om my te kom haal, om by U te mag wees, waar U is. Ek loof U vir u trou en barmhartigheid. Amen.

Wednesday, 2 April 2025

Hartsake oor 'n koppie tee: Vrede

'n Vrouelidmaat van Philipstown skrywe ...

"Vrede laat Ek julle na; My vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie." (Joh. 14:27) 

Ek lees die teks en dit voel soos gister ...

Ek sou myself as 'n Christen kon beskryf 'n jaar gelede. 'n Christen wat bid, kerk toe gaan en my tiende gee, maar nie die soort Christen wat in 'n tyd van nood of vreugde teksverse uit my kop kon opsê nie. My man beland skielik in die hospitaal. Dis chaos. Selfoon hou nie op met lui nie. Ek probeer my bes om antwoorde te hê en kalm te lyk as my kinders met trane na my kyk. Ontmoet dokter nommer drie en kan nie een se naam of titel onthou nie. Wag, die een is 'n o...loog en die ander 'n ietsie-ietsie ook met 'n loog of so iets. Teater toe. Dis half drie in die môre. Daar is niemand saam met my in die gang nie. Ek sit op 'n bank. Moeg, maar niks binne my gemoed wil tot rus kom nie. Ek berei my voor vir die ergste, hoe sal ek die situasie hanteer. Ek werk uit wat ek op die plaas moet doen: wanneer moet ek lone betaal, watter kampe het nou weer die lammerooie in, hoe lank dink ek (met my mediese kennis) sal hy in die hospitaal wees. Moenie huil nie ... ek voel deurmekaar. Die kinders ... Here! Ek begin met die tweehonderd en eerste gebed.

Skielik hoor ek 'n stem binne my. "Wees stil en weet, Ek is die Heer ..." Dis asof alles binne my se handrem opgetrek raak en tot 'n stilstand kom. Dit was duidelik, baie duidelik. Die gang is stil ... my gemoed is stil. Ek is amper te bang om asem te haal. Het ek reg gehoor? "Here, sê asseblief net nog een sin," vra ek. Stilte. Vrede. 'n Vrede wat nie van die wêreld af kom nie. Vir die volgende paar weke ervaar ek die nabyheid van Hom asof ek my hand kan uitsteek en aan Hom kan vat. Ek leef asof ek toegevou is in Sy hande. Die dokters bring goeie en slegte tyding - ek hoor dit, voel dit, en weet dadelik met vrede hoe om elke situasie te hanteer.

Dis 'n jaar later en ek staan op my knieë met Bybelstudie voor ek gaan slaap. My teksvers: Joh. 14:27. Ek voel 'n warmte oor my. Ek weet hoe daardie vrede voel. Die soort vrede wat nie van die wêreld kom nie. Moet erken; ek kan nog nie baie teksverse uit my kop aanhaal nie, maar Hy is so naby dat Hy dit in my oor kon fluister.

My bede vir almal is vrede wat jou verstand te bowe gaan. Hande wat jou toevou wanneer jy dit die nodigste het, en die wete dat Hy in jou oor fluister. Jy moet net luister.  

[Die Pienk boekie, Vrouelidmate - NG Kerk in Noordkaap, Nuusbriefnr. 93]