Showing posts with label Ds. Chris Erasmus. Show all posts
Showing posts with label Ds. Chris Erasmus. Show all posts

Sunday, 29 August 2021

Helder Tranewyn

Hierdie is ’n anderste storie van hoop. 


Dit kos lees, dink, weer lees en weer dink.


Dinti de Beer, my suster se skoondogter, het deur dieptes van groot hartseer gegaan. Vroegoggend is sy wakker gemaak met die tyding dat haar eggenoot vroeër die nag in ’n motorongeluk oorlede is. Na jare se nag van hartseer het die son weer opgekom en het die Here vir haar weer ’n gelukkige en bestendige huwelik gegee. Sy verwoord dit op ’n besondere manier in haar gedig Wyn.


Met die lees en herlees gaan jy vind dat iets daarvan resoneer in jou hart. Jou gedagtes gaan jou terug lei na soortgelyke ervaringe op jou lewenspad.


Geseënd is jy as jy ook kan sê: “U't die lag in my weer laat tuiskom ...”

 

Wyn

29/6/21

 

'n duisend dae en nagte

het ek my trane uitgetel

gebottel en gepars

in die kelders van my hel

nou is elkeen opgeskryf 

in U boek

tussen die watervlekke

van my sin na alles soek

 

en vandag

toe die son op my hand kom skyn

toe weet ek dit:

ek het gekry wat ek 

gevra het 'n duisend dae terug

 

vandag toe die veerlig wig van vrede

my hart gelyk kom maak

toe weet ek dit:

ek het gekry wat ek 

gevra het 'n duisend nagte terug

 

U't die lag in my weer laat tuiskom

die uitsien en die hoop 

kan kom verouder in my kelder

wat mos was word verfyn

gebottel uit die pyn

 

helder tranewyn 

[Ds. Chris Erasmus, afgetrede VGK-predikant]

Saturday, 22 August 2020

Inspirasie: 'n Gunstige tyd vir John Wayne

Die ouer fliekvlooigarde sal vir John Wayne onthou. Hy was ʼn geliefde akteur en filmmaker in die dae van die Western flieks. Vir drie dekades was hy onder die top 10 “boxoffice draws” in Amerika.

Hy is in 1979 oorlede.

ʼn Storie wat drie weke voor sy dood gebeur het, het onlangs my pad gekruis ...

Robert Schuller was een van Amerika se bekendste Televisie-Evangeliste. Hy het in een van sy programme vertel van sy tienerdogter wat in ʼn motorfietsongeluk was en dat die dokters sê hulle sal haar een been moet afsit.

John Wayne het dit gehoor en stuur vir haar ʼn boodskap:

“Dear Cindy, sorry to hear of your accident. Hope you will be all fine soon”. John Wayne.

Sy het die boodskap gekry en dadelik vir hom ʼn boodskap geskryf:

“Liewe mnr. Wayne, ek het jou boodskap gekry. Dankie.
Ek hou baie van jou. Ek sal okey wees want Jesus sal my help.
Mnr. Wayne, ken jy vir Jesus? Ek hoop regtig dat jy Jesus ken.
Ek kan nie dink dat die hemel volmaak sal wees sonder John Wayne nie.
As jy nie vir Jesus ken nie, hoop ek dat jy nou jou hart vir Jesus sal gee.
Sien jou in die hemel.” Cindy.


Sy het die briefie in ‘n koevert gesit, toegeplak en voorop geskryf "John Wayne"

Op daardie oomblik kom iemand haar besoek. “Wat doen jy?” vra hy. “Ek het ‘n brief aan John 
Wayne geskryf, maar weet nie hoe om dit by hom te kry nie,” sê sy. “Toevallig sien ek hom vanaand by ‘n dinee,” sê hy. “Gee dit vir my, ek sal dit vir hom gee.”

Daar was twaalf vriende wat die aand saam om die dinee tafel gesit en gesels en skerts het.

Gelukkig voel die vriend die briefie in sy baadjiesak en sê: ”Haai Duke, (John se bynaam) ek was vandag by Schuller se dogter. Sy het vir jou ʼn briefie geskryf. Hier is dit!” 

Terwyl almal aangaan met hulle vrolike gesels, maak John die koevert oop en lees die brief. Hy het stil geword en begin huil.

Een van die vriende sien dit en vra verbaas: “Duke, wat makeer? Is daar fout?”

“Ek wil vir julle hierdie brief lees,” sê hy en lees dit. Hy begin weer te huil.

Hy wys na die vriend wat die brief gebring het en sê: “You go and tell that Little girl that right now,
in this restaurant, right here, John Wayne gives his heart to Jesus Christ and I will see her in heaven.”

Drie weke daarna is hy oorlede.

Dis ʼn merkaardige storie van begin tot die einde.

Wat vir my veral merkwaardig is, is dat die Here ʼn tiener gebruik het in Sy Koninkrykswerk.

Uit: Ds Chris Eramus ‘STORIES VAN HOOP’ Die Here gebruik tieners. Verw ACR

[Klik HIER vir nog inspirasiestories]