Sunday 29 August 2021

Helder Tranewyn

Hierdie is ’n anderste storie van hoop. 


Dit kos lees, dink, weer lees en weer dink.


Dinti de Beer, my suster se skoondogter, het deur dieptes van groot hartseer gegaan. Vroegoggend is sy wakker gemaak met die tyding dat haar eggenoot vroeër die nag in ’n motorongeluk oorlede is. Na jare se nag van hartseer het die son weer opgekom en het die Here vir haar weer ’n gelukkige en bestendige huwelik gegee. Sy verwoord dit op ’n besondere manier in haar gedig Wyn.


Met die lees en herlees gaan jy vind dat iets daarvan resoneer in jou hart. Jou gedagtes gaan jou terug lei na soortgelyke ervaringe op jou lewenspad.


Geseënd is jy as jy ook kan sê: “U't die lag in my weer laat tuiskom ...”

 

Wyn

29/6/21

 

'n duisend dae en nagte

het ek my trane uitgetel

gebottel en gepars

in die kelders van my hel

nou is elkeen opgeskryf 

in U boek

tussen die watervlekke

van my sin na alles soek

 

en vandag

toe die son op my hand kom skyn

toe weet ek dit:

ek het gekry wat ek 

gevra het 'n duisend dae terug

 

vandag toe die veerlig wig van vrede

my hart gelyk kom maak

toe weet ek dit:

ek het gekry wat ek 

gevra het 'n duisend nagte terug

 

U't die lag in my weer laat tuiskom

die uitsien en die hoop 

kan kom verouder in my kelder

wat mos was word verfyn

gebottel uit die pyn

 

helder tranewyn 

[Ds. Chris Erasmus, afgetrede VGK-predikant]

No comments:

Post a Comment