Showing posts with label Wenke. Show all posts
Showing posts with label Wenke. Show all posts

Thursday, 24 September 2026

Ouma se wenke: 'n Paar nuttige algemene wenke

* Koperartikels kan skoongemaak word in 'n oplossing van 20 g wynsteensuur, opgelos in 500 ml warm water. Voeg 'n bietjie skottelgoedopwasmiddel by. Vryf die artikel met 'n sagte doek, gedoop in bogenoemde mengsel af.

* Om te verhoed dat silwer messegoed aanslaan, kan 'n paar stukkies bordkryt in die messegoedlaai geplaas word.

* Indien 'n ketel te lank kook, lei dit tot die vorming van 'n aanpaksel aan die binnekant van die ketel wat die lewensduur van die element verkort. Dié aanpaksel kan verwyder word deur 'n oplossing van 3 dele water en 1 deel asyn in die ketel te gooi en dit 'n paar uur te laat staan.

* Gietysterware wat geroes het, kan in terpentyn gedoop word. Die tydperk waarin dit in die terpentyn gelaat word, hang af van hoeveel dit geroes het, maar dit kan wissel van 1 uur tot 3 dae. 

* Twee glase wat in mekaar vassit, kan losgemaak word deur koue water in die boonste een te gooi en die onderste een in warm water te plaas.

[Idioom: Hoop hierdie nuttige wenke is vir jou van waarde voordat my glas leegloop.]

[Bron: Rooi Rose 27 Februarie 1991]

Thursday, 17 September 2026

Ouma se wenke: 'n Paar nuttige algemene wenke

* Om te voorkom dat die kerriehoutlepel vir die roer van konfyt gebruik word, kan elke houtlepel met 'n kleurkode gemerk word.

* Salie is 'n sterk krui met 'n warm geur en 'n breë, plat, ovaal blaar. Dit is heerlik saam met lewer, varkvleis en ander ryk vleissoorte,

* Swaar artikels soos bottels wat in die deur van die yskas gebêre word, moet so naby as moontlik aan die skarniere geplaas word om spanning op die deur te verminder.

* Plaas oorskietwyn in ysbakkies in die vrieskas en gebruik die bevrore blokkies wyn in oondstoofgeregte en souse.
[Idioom: Onthou om altyd die wyn helder te skink!]

[Bron: Rooi Rose 27 Februarie 1991]

Thursday, 10 September 2026

Ouma se wenke: 'n Paar nuttige algemene wenke

* Voeg 'n bietjie appelkooskonfyt by room wat nie styf wil word wanneer dit geklits word nie. Die konfyt gee ook 'n aangename geur aan die room.

* Vergemaklik die afdop van ertjies deur dit met dop en al in die kookwater te gooi. Die doppe sal weens die hitte oopspring.

* Voor 'n meringue-tertkors gesny word, kan die mes eers met botter of margarien gesmeer word en dit sal maklik deur die kors gly sonder om dit te verkrummel.

* Die beste manier om te bepaal of konfyt of jellie stolpunt bereik het, is om 'n bietjie daarvan op 'n koue piering te plaas. Laat dit afkoel en druk dit dan met die vinger. As die oppervlak plooi, het die jellie reeds stolpunt bereik. As dit nie plooi nie, moet dit langer kook.

[Idioom: Hoop jy is gekonfyt in die kombuis, veral na hierdie nuttige wenke.]

[Bron: Rooi Rose 27 Februarie 1991]

Thursday, 3 September 2026

Ouma se wenke: Matte (vervolg)

* Biervlekke kan uit 'n mat verwyder word deur dit met wit asyn te vryf.

* Indien troeteldier op die mat geürineer het, gooi koeksoda daarop. Los rukkie en stofsuig soos gewoonlik of meng 4 eetlepels brandspiritus, 4 eetlepels wit asyn, 4 eetlepels "Scrubb's Cloudy Ammonia" en 1 liter warm water. Spuit met sproeikannetjie op die kol en borsel deeglik.

* Om ink uit matte te haal - neem karringmelk en 'n skoon lap - gooi karringmelk op die ink en druk op met die lap totdat die ink uit is. Was dan die plek met warm water en ammoniak.

* Sodawater of wit asyn haal gewoonlik hardnekkig vlekke soos rooiwyn en bloed uit matte uit.

* Stop 'n skoon vloerlap in 'n plastiek groentesakkie en was jou matte daarmee. Verwyder kolle op 'n mat met 1 deel witasyn en 3 dele water.

* Waar ink op 'n mat gemors is - trek jy dit dadelik op met kladpapier, vryf die kol met 'n lap wat in gekookte melk gedoop is en vryf daarna met 'n droë lap.

[Idioom: Met al hierdie raad, hoop ek dat ons spoedig die vlekke in skaakmat gaan sit.] 

Thursday, 27 August 2026

Ouma se wenke: Matte

Vele navrae oor matte het my genoop om weer hierdie onderwerp aan te pak.

Ruk stink reuk in matte in die bek ...

As jy ’n mat in die huis het, weet jy hoe dit nogal ’n reuk kan afgee as dit vuil is. Boonop kan dit ’n gesukkel afgee om van daardie reuk ontslae te raak. Troeteldiere, gestorte kos of drankies wat nie behoorlik skoongemaak is nie, is alles dinge wat matte sleg kan laat ruik.

* Een van die eerste dinge wat jy kan doen om van ’n slegte matreuk ontslae te raak, is om ’n paar vensters oop te maak sodat vars lug deur die vertrek kan trek en dit daarna behoorlik te stofsuig.

* Deur gereeld matte te stofsuig, kan ook wondere verrig, maar moet ook nie vergeet om die stofsuier se sak skoon te maak nie.

* ’n Ander skoonmaakopsie wat jy ook kan probeer, is om koeksoda oor die mat te strooi en dit met ’n besem of iets soortgelyks in die mat in te vee. Laat die koeksoda vir ure, selfs oornag of ’n paar dae intrek, indien moontlik. Stofsuig dit hierna deeglik.

* Maar as die mat nie gereeld gestofsuig word nie en vlekke al vir ’n baie lang tyd daar sit, is dit dalk raadsaam om professionele skoonmakers in te kry.

[Idioom: Ek hoop nie julle skoonmaakplanne gaan deur die mat val nie!]

Thursday, 20 August 2026

Ouma se wenke: 'n Paar los gedagtes

* As iets net 10 minute gaan neem om te doen, doen dit dadelik.

* As jy geld met respek hanteer, sal geld jou met respek hanteer.

* Iemand is net so moeilik as wat jy hom toelaat om te wees.

* As jy nog instaat is om iets te kan doen ... doen dit.

* Doen dinge die eerste keer reg.

* Leer nuwe vaardighede aan.

* Ondersteun mekaar al verskil ons van mekaar.

[Idioom: Iemand se hande sterk.]

Thursday, 13 August 2026

Ouma se wenke: Vinnige geurhupstoot

* My ouma Alida het altyd ‘n knippie sout in die pot moerkoffie op die stoof gegooi. Vir ekstra geur.

* 'n Vriendin van my gooi altyd 'n knippie sout in haar Milo. Dit bring glo Milo se besondere smaak uit.

* Voeg vars suurlemoen- of lemmetjieswiggies, 'n paar mentblare of komkommerskyfies by water vir 'n skoon, verfrissende smaak.

* Vries heel bessies (soos aarbeie of bloubessies) of sitrusskil in jou ysblokkiesbakke en gooi dit by jou vrugtesap vir ekstra geur en kleur.

* Voeg 'n knippie kaneel, neutmuskaat of kardemom by jou koffiemoer voordat jy dit brou. 

[Idioom: Iemand se tee bitter maak!]

Thursday, 6 August 2026

Ouma se wenke: Oumas se gesegdes wat lesers onthou en ingestuur het

* Wanneer daar leuens betrokke is ... 
sal daardie konfliksituasie altyd weer herhaal word ... 
sneeubaleffek ...

* Gewoontlik is 'n konflik om leuens gebaseer, 
EEN party eerlik -
ander party lieg homself daaruit, 
vier belangrike werkwoorde ... 
  • Eer mekaar
  • Leer mekaar
  • Repekteer mekaar
  • Waardeer mekaar 
* Bly in jou nes dan bly jy ongekwes!!

* Soos jy jou gesang insit, so gaan jy hom sing!

Thursday, 30 July 2026

Ouma se wenke: Nog raad van 'n dieetkundige

Die beste tyd om te peusel is in die omgewing van 11:00 en 16:00. Middernagtelike peusels is uit. (Nare woorde vir 'n middernagtelike rondloper.)

Hier is ses peuselhappies wat jou energie gee en jou liggaam voed.
* ’n Handvol neutemengsel (te veel neute is nie goed vir jou gewig nie.)
* Kaasblokkies met komkommer
* Ligte springmielies (sonder botter of versiersuiker)
* Vars vrugte of bessies
* Wortel- of selderystokkies
* Jogurt of ’n proteïen-“smoothie”
* Ryskoekies met dun kaassmeer

Die regte peuselhappies gee genoeg energie om 'n hele dag goed te voel.

Idioom: Dis die ongeseënde kos wat vetmaak.

Thursday, 16 July 2026

Ouma se wenke: Die lewe gaan nie net oor oorlewing nie

Vandag stel ek vir André Duvenage aan die woord:
* Die lewe gaan nie net oor oorlewing nie. 
* Dit gaan daaroor om 'n verskil te maak in jou eie asook ander mense se lewens. 
* 'n "Verskil maak" beteken nie noodwendig dat jy die wêreld vir almal moet verander nie, maar jy kan ten minste vir een persoon op 'n slag 'n POSITIEWE verskil maak. 
* Dit vereis nie noodwendig intellektuele vermoë, finansies, supermenslike krag of enige buitengewone vermoëns nie. 
* Dit neem soms net 'n eenvoudige glimlag ... 
* 'n vriendelike gebaar of 
* partykeer het iemand net nodig om met iemand te gesels wat werklik na hulle LUISTER. 
* Gaan maak vandag 'n verskil, gee daardie glimlag, maak daardie koffie vir jou kollega ... wees die gewillige oor ... 
* Klein vriendelike dade is wat WERKLIK die wêreld verander.

[Idioom: Verf 'n glimlag op iemand se gesig.]

Thursday, 9 July 2026

Ouma se wenke: 'n Dieetkundige se raad

Ek wil my as geen kenner uitgee nie, daarvoor is ek heeltemal te lief vir peusel. Maar elke keer as ek so lekker oortree, is daar so 'n waarskuwingstemmetjie wat my aanpraat. Dus is die volgende lysie vir myself en ek plaas dit hier, sodat ander my aanspreeklik kan hou oor my peuselgewoontes. 

* Die dieetkundige het my laat verstaan dat die meeste kosse in matigheid heel aanvaarbaar is.
* Ek mag nie maaltye oorslaan nie. Dis blykbaar 'n ou laai van ons wyse gryses om nie gereeld te eet nie en as jy boonop alleen bly, is dit te veel moeite om ordentlik kos te maak. (Gelukkig is die inwoners wat hulle nie oor kos hoef te bekommer nie.)
* Ontbyt is die belangrikste ete. (Hoeveel keer het ons dit nie vir ons kinders gesê nie?)
* Ontbyt speel 'n groot rol in energie en hoe ons gefokus deur die dag kan gaan.
* Gesonde peuselhappies kan goeie aanvullings tussen etes wees, maar dit vervang nie etes nie.
* Happies waaraan die dieetkundige gedink het, is vrugte, groente en neute.

Idioom: Moenie alles vir soetkoek opeet nie. 

Thursday, 2 July 2026

Ouma se wenke: Lief vir peusel? Maniere hoe om slimmer te peusel!

* Volgraanpeuselhappies kan jou van energie voorsien. 
Probeer volgraan-laesout-pretzels of tortilla-skyfies.
 
* Wat van laesuiker-granola as ʼn vinnige peuselhappie. 
Baie ontbytvoedsels kan later in die dag dien as ʼn voedsame peuselhappie. Kombineer ʼn klein hoeveelheid van iets met gesonde vet, soos grondboontjiebotter, met ʼn groter hoeveelheid van iets baie lig, soos appelskyfies.
 
* Neute en sade bevat baie goeie nutriënte en sal jou versadig laat voel. 
Ongesoute neute en sade is heerlike peuselhappies. Neute bevat egter baie kalorieë, so hou die porsies klein. Probeer om nie meer as een makro-nutriënt met elke peuselhappie te geniet nie. Byvoorbeeld, eet ʼn paar neute (proteïen en vet) en ʼn bietjie druiwe (koolhidrate).
 
* Moenie jou peuselhappie geniet, terwyl jy besig is met iets anders nie - soos om televisie te kyk, of by jou lessenaar te werk nie. Stop waarmee jy besig is vir ʼn paar minute en eet jou peuselhappie soos ʼn klein maaltyd.
 
* Dink vooruit en dra ʼn klein sakkie gesonde peuselhappies in jou sak sodat jy nie in desperaatheid jou toevlug neem na koekies of lekkergoedstafies in die winkel nie.
 
Gesonde peuselhappies kan jou gesondheid verbeter.
 
[Verwerk uit: 7 maniere om slimmer te peusel - WelstandWelstand (solidariteit.co.za)]

Thursday, 25 June 2026

Ouma se wenke: 'n Effektiewe dóg goedkoop raad om elektroliete terug te sit

'
n Eenvoudige, tuisgemaakte elektrolietmengsel (ook bekend as 'n rehidrasie-oplossing) vir 'n omgekrapte maag kan vinnig gemeng word om dehidrasie weens braking of diarre
e te voorkom. 

Bestanddele:
1 liter skoon, gekookte water (wat eers heeltemal afgekoel is)
6 tot 8 teelepels suiker
1 teelepel sout 

Metode:
Meng al die bestanddele in 'n skoon glas- of plastiekhouer en roer deeglik totdat die sout en suiker heeltemal opgelos is.

Wenke vir toediening:
Dosis: Neem klein slukkies van ongeveer 50 ml elke halfuur nadat jy gebraak het of 'n los stoelgang gehad het.
Berging: Bêre enige oorskietmengsel in die yskas en gooi dit na 24 uur weg.
Alternatiewe: As jy nie self wil meng nie, is kommersiële rehidrasiesakkies soos Rehydrate of Dioralyte by enige apteek in jou area beskikbaar.

Waarskuwing: Hierdie oplossing genees nie die oorsaak van die maagprobleem nie, maar help slegs met hidrasie. As simptome nie binne 24 tot 48 uur verbeter nie, moet jy 'n dokter raadpleeg.

[Idioom: Bitter in die mond, maak die maag gesond]

Thursday, 18 June 2026

Ouma se wenke: 'n Bietjie wysheid

Die mooiste glimlag verberg die grootste hartseer;
Die sagmoedigste mense is al die ergste verneder;
Die mooiste oë het al emmers trane gestort;
Die warmste harte het al die meeste pyn gevoel;
Die stilste mense het die diepste geheime;
Die wat die gouste oordeel, het die meeste geraamtes;
Die wat die hardste lag,verberg die minste selfvertroue;
Die mooiste sprokie is die een in jou drome;
Die beste plek om te wees, is in iemand se hart;
Die gelukkigste mense is die dankbaarste;
Die beste dokters is mammas; 
Die wonderlikste geskenk is die geskenk van die Lewe;
Die onmoontlikste dinge is moontlik as ons glo.

[Idioom: Wie laaste lag, lag die lekkerste.] 

Thursday, 11 June 2026

Jogurt: Die wondervoedsel

[Dink hieroor: Kossoorte wat jare by mense se lewe toevoeg, verander net soos die modes.] 

Jogurt het geen magiese kragte wat jou 'n langer lewe kan besorg nie, maar dit is heilsaam genoeg en heerlik daarby!

Dit is vanweë die uitsprake wat 'n Russiese wetenskaplike, Mechnikoff, aan die begin van die eeu gemaak het dat daar soms magiese kragte aan jogurt toegeskryf word.   

Hy het die geheim van 'n lang, gesonde lewe in die Bulgaarse Alpe gaan soek, omdat baie mense van dié streek tot 100 jaar of ouer geword het. Tot sy verbasing het hy ontdek dat dié mense groot hoeveelhede van 'n sekere gefermenteerde melkdrank drink. Hy het dadelik - sonder enige verdere navorsing - bekend gemaak dat dit die geheim was.

Só het jogurt as wondervoedsel bekend geword en die ongegeurde soort word selfs vandag nog as Bulgaarse jogurt verkoop.

Ongelukkig was Mechnikoff se uitspraak nie geldig nie en die mense se lang lewens word nou ook eerder aan genetiese redes toegeskryf as aan die gereelde inname van jogurt.

Tog bevat jogurt voedingstowwe wat van groot belang is. Die gesondheidsvoordele van jogurt is dat dit baie proteïene, kalsium, vitamiene A en 'n bietjie van die vitamien B-kompleks bevat. Dit is besonder voordelig vir mense wat jogurt mag eet, maar nie ander produkte wat vitamien B-kompleks bevat nie soos volkoringbrood en vleis.

Mense met 'n laktose-onverdraagsaamheid - wat nie suiwelprodukte kan gebruik nie - se spysverteringstelsel kan wel jogurt verteer. Diarreelyers kan ook maar jogurt by hul dieet insluit aangesien dit lyk asof die mikro-organismes wat in die spysverteringstelsel nodig is, vermeerder met die inname van jogurt.

[Bron: Rooi Rose 27 Februarie 1991 - Sonja Jordt]

Thursday, 4 June 2026

Ouma se wenke: Wees lief vir jou hart

* Moenie rook nie.

* Beheer jou cholesterol.

* Beheer jou bloeddruk.

* Beheer jou diabetes.

* Wees fisies aktief.

* Behaal en handhaaf 'n gesonde gewig.

* Geniet 'n verskeidenheid voedsame kos.

* Sien om na jou geestesgesondheid.
(Transcare: derde uitgawe)
[Idioom: Hierdie wenke wil ek op jou hart druk!]

Thursday, 28 May 2026

Ouma se wenke: Bestuur beter

1. Wees vriendelik en hoflik teenoor ander bestuurders. (Soms moet 'n mens maar op jou tande kners - probeer nietemin!)

2. Stel veiligheid bo alles.

3. Besef dat jy 'n verantwoordelikheid het teenoor almal wat saam met jou in die kar is.

4. Bly kalm en ten alle tye waaksaam agter die stuurwiel.

5. Wees op jou hoede vir voetgangers, veral kinders.

6. Onthou dat tweewielvoertuie dieselfde regte as motors op die pad het.

7. Hou jou motor behoorlik in stand en laat hom gereeld met die oog op veiligheid nasien.

8. Moet nooit onder die invloed van alkohol bestuur nie.

9. Gehoorsaam alle verkeerswette.

[Ek sien so dikwels hoe mense vir mekaar vinger wys of ligte flikker en om alles te kroon, klim hulle graag op hul voertuig se toeter. Niks van hierdie aksies, gaan die situasie verbeter nie. Verdraagsaamheid is eintlik die wagwoord. As elkeen wat hier lees, probeer om meer agter die motor se stuur te glimlag en minder te toet, kan ons dalk ... net dalk 'n verandering sien. Hierdie onmoontlikheid verg dieselfde deursettingsvermoë wanneer 'n olifant geëet moet word ... happie vir happie.]      

Thursday, 21 May 2026

Ouma se wenke: Gee jou geheue 'n hupstoot

Die beste spyskaart om die geheue en breinfunksie 'n hupstoot te gee, en goeie bloedvloei na die brein te bevorder, is baie soos wat jy sal eet om jou hart te voed en te beskerm. 

* Eet gereeld groente
* Geniet bessies en kersies.
* Kry genoeg omega-3-vetsure
* Seekos
* Werk okkerneute in 

(Transcare: derde uitgawe)

[Idioom: Ons het almal die geheue van 'n olifant nodig!]

Thursday, 7 May 2026

Ouma se wenke: Waar kry ek finansiële advies?

Baie baie jare terug het ek hierdie belangrike finansiële raad gelees en ek voel ek moet dit deel. Dalk help dit iemand. Die eerste belangrike stap is natuurlik om hulp by ‘n finansiële beplanner te kry.
 
Waar kry ek ’n finansiële beplanner? 
* Vra jou vriende of hulle iemand reeds gebruik en kan aanbeveel. 
* Indien jy nie daar geholpe raak nie, gaan na die webblad van die Instituut vir Finansiële Beplanning (FPI) by www.fpi.co.za. 
* Dit word sterk aanbeveel dat jy net met ’n finansiële beplanner werk wat by die FPI geregistreer is.
* As jy iemand se naam het, kan jy na die Raad op Finansiële Dienste se webblad (www.fsb.co.za) gaan om te sien vir watter kategorieë van advies daardie persoon geregistreer is.
* Vertrou ook jou instink – as jy ongemaklik voel, vra vrae totdat jy gemaklik voel of loop weg. Die persoon met wie jy werk, moet vir jou alles op skrif gee en dit moet op so ’n manier verwoord wees dat jy presies weet waar jy staan en wat dit jou gaan kos. As jy nie gemaklik is oor die kostestruktuur of die deursigtigheid daarvan nie, is dit ’n rooi vlag.
* Die Pensioenkantoor beveel aan dat jy meer as een mening kry. Wees versigtig vir persone (“adviseurs”) wat vir jou sê: “Ek gaan na jou kyk, jy hoef oor niks bekommerd te wees nie, vertrou my, teken hier.”
* Goeie adviseurs met kundigheid en integriteit gee vir hul kliënte die volledige inligting, met ’n aanbeveling wat hy/sy dink die regte besluit is, sodat die kliënt die finale besluit neem.
* Daar is dus nie so iets soos “jy moet nou teken, anders gaan jy jou kans verbeur nie”.  Onthou die goue reël:  As iets te goed klink om waar te wees, is dit! 

[Idioom: Moenie jou geld in die water gooi nie!]

Thursday, 30 April 2026

Ouma se wenke: Sê motte die stryd aan

* Sit stukkies kamfer in jou kas om motte uit jou klere te hou.

* 'n Koekie seep of 'n kers werk ook baie goed. 
   (Die koekie seep laat jou klere sommer ook lekker ruik.)

* Sit lappies geweek in parafien of terpentyn in jou kas om motte uit jou kaste te hou. (Gebruik hierdie as 'n laaste uitweg as eerste twee wenke nie werk nie.)

[Idioom: As jy vir 'n mot die pinkie gee, gryp hy beslis die hand!]