[Dink hieroor: Kossoorte wat jare by mense se lewe toevoeg, verander net soos die modes.]
Jogurt het geen magiese kragte wat jou 'n langer lewe kan besorg nie, maar dit is heilsaam genoeg en heerlik daarby!
Dit is vanweë die uitsprake wat 'n Russiese wetenskaplike, Mechnikoff, aan die begin van die eeu gemaak het dat daar soms magiese kragte aan jogurt toegeskryf word.
Hy het die geheim van 'n lang, gesonde lewe in die Bulgaarse Alpe gaan soek, omdat baie mense van dié streek tot 100 jaar of ouer geword het. Tot sy verbasing het hy ontdek dat dié mense groot hoeveelhede van 'n sekere gefermenteerde melkdrank drink. Hy het dadelik - sonder enige verdere navorsing - bekend gemaak dat dit die geheim was.
Só het jogurt as wondervoedsel bekend geword en die ongegeurde soort word selfs vandag nog as Bulgaarse jogurt verkoop.
Ongelukkig was Mechnikoff se uitspraak nie geldig nie en die mense se lang lewens word nou ook eerder aan genetiese redes toegeskryf as aan die gereelde inname van jogurt.
Tog bevat jogurt voedingstowwe wat van groot belang is. Die gesondheidsvoordele van jogurt is dat dit baie proteïene, kalsium, vitamiene A en 'n bietjie van die vitamien B-kompleks bevat. Dit is besonder voordelig vir mense wat jogurt mag eet, maar nie ander produkte wat vitamien B-kompleks bevat nie soos volkoringbrood en vleis.
Mense met 'n laktose-onverdraagsaamheid - wat nie suiwelprodukte kan gebruik nie - se spysverteringstelsel kan wel jogurt verteer. Diarreelyers kan ook maar jogurt by hul dieet insluit aangesien dit lyk asof die mikro-organismes wat in die spysverteringstelsel nodig is, vermeerder met die inname van jogurt.
[Bron: Rooi Rose 27 Februarie 1991 - Sonja Jordt]
No comments:
Post a Comment