'n Jong dame het 'n pragtige sysakdoekie van haar vriend present gekry. Eendag het die inkpot per ongeluk omgeval en van die inkspatsels het op die sakdoekie te lande gekom en dit lelik geskend. Sy was bitter hartseer en het haarself verwyt omdat sy deur haar eie nalatigheid die mooi geskenk so bederwe het.
Haar vriend wat 'n kunstenaar was, het op daardie oomblik ingekom, en toe sy met 'n droewige gesig die sakdoekie aan hom toon, het hy net gegelimlag en dit by haar geneem. In sy studeerkamer het hy aan die werk gegaan en met die fynste kwassie 'n pragtige patroon op die sakdoekie geskilder wat die inkkolle heeltemal onsigbaar gemaak het. Daarna het hy die sakdoekie vir haar teruggegee.
"O, maar dis is nie my sakdoekie nie," het sy gesê.
"Ja, dit is," was sy antwoord. Al wat ek gedoen het, was om die lelike vlekke in 'n sierlike ontwerp te omskep."
En dit is wat God met ons sondevlekke en mislukkings doen wanneer ons met ware berou en skulderkentenis na Hom toe kom en onsself onvoorwaardelik aan Hom oorgee.
[ Die Spoorwegbode Junie 1985]

No comments:
Post a Comment