Showing posts with label Meisie de Koker. Show all posts
Showing posts with label Meisie de Koker. Show all posts

Tuesday, 5 July 2022

Die seën van verstaan ...

Geseënd is jy as jy verstaan dat my hande bewe en my voete stadig geword het.
Geseënd is jy as jy daaraan dink dat my ore nie meer goed hoor nie en dat ek nie meer alles verstaan nie.

Geseënd is jy as jy weet dat my oë nie meer goed sien nie, as jy nie kwaad word wanneer ek die mooiste koppie laat val of omdat ek vir die soveelste maal dieselfde storie vertel nie.

Geseënd is jy as jy my toelag en my vra na die dae van my jeug.
Geseënd is jy as jy sagkuns met my omgaan, my stille traan begryp en my laat voel dat iemand vir my omgee.

Geseënd is jy as jy langer by my bly wanneer dit orals donker word en my hand vashou wanneer ek alleen die nag moet in; die nag van die dood.

Geseënd is jy.
Wanneer ek in die hemel kom, sal ek die sterre vir jou aansteek.

[Uit: Neem tyd om gelukkig te wees - Phil Bosman] 

Dankie, Meisie, dat jy Phil Bosman se waarhede met ons deel.

Saturday, 20 June 2020

‘n Aangename geur

Vanoggend vroeg, nog lank voor die son opkom, het ek in my tuintjie gestaan en kyk na die dou op die plante.  Daar was oorvloedige dou op die kappertjies wat ek besig was om te pluk, en terwyl ek die helderkleurige fraai blommetjies die een na die ander afpluk, het ek skielik onthou dat ek lankal eenmaal gelees het:  “Dis net wanneer kappertjies gekneus word, dat ons hulle heerlike geur kry”.

So, dink ek toe, is sommige mense ook, dis juis wanneer die swaar slag van die lewe hulle tref, dat jy uitvind watter lieflike gees daar in hulle hart is.
Dis die mense wat die lewe nooit sal kleinkry nie, want hoe seerder hulle hart, hoe groter glimlag die mond, hoe feller die pyn, hoe minder die klag.  Hulle is die kappertjiemense in die tuin van God.

En hierdie sonneblom, met sy groot oop bottergeel gesig, laat my dink aan die liewe mense wat altyd lag, vir wie die son altyd skyn, en vir wie die lewe altyd lekker en aanvaarbaar is.  Hulle is nooit verveeld en onvergenoegd nie, vir hulle is werk ‘n lus en nooit ‘n las nie en werk wat hulle aanpak, doen hulle flink en goed en sonder om te mor en te kla.  Dis hierdie sonneblom-mens van wie daar gesê word:
“Die vrolike vlam wat klap en kraak,
Is hy wat sy taak tot vermaaklikheid maak,
En sy swaarkry met lekkerkry klaarkry.”

En ek dan?  Watter soort blom is ek van God se tuin?  Het ek ook ‘n doel, en is ek ook van nut ..?  Dis toe dat ek dit sien.  Al die blomme was benat met dou, en op al die blomme het God se son geskyn.  Hy het almal gemaak en almal is Syne.  Hy het nie net kappertjies en sonneblomme nodig nie, maar Hy het ook die skugter Vergeet-My-Nietjies nodig.

Met ‘n diepe dankbaarheid in my hart bid ek:
“As ek dan nie ‘n wonderlike mens kan wees met mooi en baie deugde nie, Liewe Heer, laat my dan tog net toe om die grond van hardheid te bedek waarlangs die voete van U skepsels loop, en wanneer hulle voete my kneus, laat dan ‘n aangename geur U hart verbly.”

Uit: Soos ‘n blom is jou dae - Susan Kotzé