Vanoggend vroeg, nog lank voor die son opkom, het ek in my
tuintjie gestaan en kyk na die dou op die plante. Daar was oorvloedige dou op die kappertjies
wat ek besig was om te pluk, en terwyl ek die helderkleurige fraai blommetjies
die een na die ander afpluk, het ek skielik onthou dat ek lankal eenmaal gelees
het: “Dis net wanneer kappertjies
gekneus word, dat ons hulle heerlike geur kry”.
So, dink ek toe, is sommige mense ook, dis juis wanneer die
swaar slag van die lewe hulle tref, dat jy uitvind watter lieflike gees daar in
hulle hart is.
Dis die mense wat die lewe nooit sal kleinkry nie, want hoe
seerder hulle hart, hoe groter glimlag die mond, hoe feller die pyn, hoe minder
die klag. Hulle is die kappertjiemense
in die tuin van God.
En hierdie sonneblom, met sy groot oop bottergeel gesig,
laat my dink aan die liewe mense wat altyd lag, vir wie die son altyd skyn, en
vir wie die lewe altyd lekker en aanvaarbaar is. Hulle is nooit verveeld en onvergenoegd nie,
vir hulle is werk ‘n lus en nooit ‘n las nie en werk wat hulle aanpak, doen
hulle flink en goed en sonder om te mor en te kla. Dis hierdie sonneblom-mens van wie daar gesê
word:
“Die vrolike vlam wat klap en kraak,
Is hy wat sy taak tot vermaaklikheid maak,
En sy swaarkry met lekkerkry klaarkry.”
En ek dan? Watter
soort blom is ek van God se tuin? Het ek
ook ‘n doel, en is ek ook van nut ..? Dis
toe dat ek dit sien. Al die blomme was
benat met dou, en op al die blomme het God se son geskyn. Hy het almal gemaak en almal is Syne. Hy het nie net kappertjies en sonneblomme
nodig nie, maar Hy het ook die skugter Vergeet-My-Nietjies nodig.
Met ‘n diepe dankbaarheid in my hart bid ek:
“As ek dan nie ‘n wonderlike mens kan wees met mooi en baie
deugde nie, Liewe Heer, laat my dan tog net toe om die grond van hardheid te
bedek waarlangs die voete van U skepsels loop, en wanneer hulle voete my kneus,
laat dan ‘n aangename geur U hart verbly.”
Uit: Soos ‘n blom is jou dae - Susan Kotzé
No comments:
Post a Comment