Showing posts with label Moedersdag. Show all posts
Showing posts with label Moedersdag. Show all posts

Sunday, 10 May 2026

Moedersdaggedagtes van Jean Kyler McManus

'n Moeder ken jou werklik.
'n Moeder gee werklik om vir jou.
'n Moeder sal jou
in haar gedagtes
en in haar gebede onthou ...

'n Moeder het reg van die begin
jou altyd liefgehad.
En sy sal staan by jou
In woord en gebed en daad!

Ons wil aan elkeen van ons inwoners en ook ons lesers 'n geseënde Moedersdag toewens. Dankie vir al julle liefde, opofferings, trane, harde werk en deursettingsvermoë toe julle self moeg en oorlaai was. Dankie vir die spore wat julle in jul kinders se lewens, maar ook in ander se lewens gelaat het. En saam met Jean Kyler McManus wil ons dankie sê vir die ontelbare gebede wat ons op die regte pad gehou het en nog steeds hou. In vandag se deurmekaar wêreld moet ma's hulle gebede verdubbel, want dis hierdie knielwerk wat kinders op hul voete hou. Vreugdewense.

Vir ma ...

Dis Moedersdag. Ek stap deur my goed versorgde tuin en pluk my mooiste roos - vir my ma. My gedagtes gooi ver draaie tot daar dóér in die bywonershuisie. Ma, by die voetenent van hul bed, knielend, biddend. Die kaalvoetdogtertjie in die verslete nagrokkie wil weet: "Ma, hoekom bid ma so lank?"

Sonder om te aarsel, kom die antwoord: "Vir jou, my kind, want om ongedeerd deur hierdie wrede wêreld te kom en om jou drome verwesenlik te sien, sal jy baie gebed nodig hê."

Vandag, sewentig jaar later, weet ek dat ma se gebede my nog altyd dra. En nou bring ek dié roos en vra dat my ma my moet vergewe vir die talle kere dat ek die pad byster geraak het. Ek is jammer dat ek gevra het vir die laaste tiensjielingnootjie in die "kêsboksie," maar die blink skoentjies met die strikkies was só mooi, Ma! Op sestien was ek seker maar te selfsugtig om op te let hoe verslete ma se skoene was.

Dankie, Ma. Ek bring hierdie roos, al is dit sewentig jaar te laat.

Jo Goodwood

[Hierdie brief het in die negentigjare in 'n tydskrif verskyn en 'n fotostaat daarvan het sy weg na my lessenaar gevind wat ek graag deel.]

Sunday, 11 May 2025

Moedersdag: Martie beskryf die plek van 'n ma

"Nie almal is sekerlik so bevoorreg soos ek om 'n besonderse ma te hê nie. So aweregs, spitsvondig en positief soos sy, kry jy nie aldag nie.Sy't altyd 'n plan, sien nie probleme nie, maar oplossings. En sy het my so baie geleer van dinge doen en baasraak, en uitdagings aanvaar. Of dis dalk juis waaroor dit gaan: Elke ma is uitsonderlik.

Die ding van 'n ma is, sy pas so presies in daardie ruimte in jou lewe. Ma, mamma, moeder, moeks, mams - in elkeen se lewe is daar 'n pasgrootte ma-vormige plek wat net deur een mens gevul kan word. En as daardie ruimte eers leeg is, bly daar 'n leemte, beskryf dié wat nie meer ma's het nie, die gemis.

Die belangrikheid van daardie gevulde ruimte word eers waarlik duidelik wanneer jý die dag 'n ma is; daardie dag as jy jou mond oopmaak om vir jou kind iets te sê en daar hoor jy jou ma! Jy skrik eintlik, so onverwags is dit, die dag as jy jou ma word ...

Dis ma's met wie 'n mens spesiale reuke en smake verbind soos dié uit die kombuis van jou kinderdae. Resepte wat jou inspireer. En ek sien weer my dogter se gesig toe sy nou die dag haar ouma se kosbare resepteboek, weliswaar verweerd en opgebruik, in ontvangs neem: Die verlede word oorgedra in die hande van die toekoms, en dis 'n soort geskiedenisoordrag, 'n toekomsopdrag ... en dit is kosbaar ..."

[Martie Pansegrouw - redakteur van Rooi Rose, 6 Mei 2006]

Sunday, 12 May 2024

Vir Moedersdag

My kind, weet jy dat Mammas ook soms huil.
maar dat ons trane agter ons glimlagte skuil.
Weet jy dat Mammas se harte ook soms wil breek,
maar dat ons dit so ver wegsteek.
Weet jy dat ons soms sit met so min hoop,
en dat ons so hard moet keer dat ons trane loop.
My kind, as jou hart soms so seer is,
en daar niks aan te keer is,
is Mammas die een wat by jul staan,
en dis Mammas wat jul harte so goed verstaan.
Mammas moet sterk wees vir haar kind,
en soms is dit so moeilik om die regte woorde te vind,
want as ons jul moet troos en vashou,
huil ons net so hard in ons mou.
My kind, soms is dit so hartseer om jou te sien huil,
en soms dink mammas terug aan jou kinderdae met jou gesiggie so vuil,
soms verlang ons ook na iemand om ons by te staan,
en soms wil ons arms hê wat om ons gaan.
My kind maar ter wille van jou staan ons sterk,
al maak jou hartseer in ons harte ook 'n merk.
Weet jy dat ons net die beste vir jul soek,
en ons liefde soos 'n storieboek,
want elke bladsy vertel sy eie verhaal,
van 'n mamma wat haar kind nooit sal faal,
en wanneer jul trane in jul ogies skyn,
my kind, weet jy dat Mammas dan ook wil huil?
Ek glo elke mamma voel so.

[Dankie, Anoniem, wat dit met ons deel.]

Saturday, 11 May 2024

Môre is dit Moedersdag ...

Môre is dit Moedersdag wat regoor die wêreld gevier word. 'n Dag waar alle kinders, jonk en oud tot stilstand kom om spesiaal aandag te gee aan hulle moeders. 

Ons lewe in 'n tyd waar dit 'n gejaag is teen tyd om elke dag kos op die tafel te kan hê. Daardeur raak jy so gestres dat jy skoon vergeet dat jy 'n ma het om 'n drukkie te gee en vir haar te sê dat jy haar liefhet. 

Daar kom 'n tyd in elkeen van ons se lewens dat jou ma nie meer daar gaan wees nie ... dis dan wanneer spyt inskop: het ek maar ... maar dan is dit te laat. Die huis is leeg en die stoof is koud ... dit sal net nie meer dieselfde wees nie.

Mamma het jou in die wêreld gebring, nagte omgesit wanneer jy siek was ... wanneer daar miskien nie genoeg geld was, het sy honger gebly sodat jy kon eet ... onvoorwaardelike liefde van 'n ma ... die meeste van die tyd het haar bord kos koud geword omdat jy eerste in haar lewe was ...

My boodskap aan elke mens is: terwyl jy 'n ma het wat nog leef  ... RESPEKTEER haar en gee haar al jou LIEFDE ... al is haar vingers krom van die rumatiek en haar gesiggie beplooid ... sy verdien dit en GOD VERWAG DIT VAN JOU! (Efes 6:1,2) en daarmee saam 'n belofte dat jy 'n lang lewe sal hê op aarde. Onthou: 'n jong mamma kan ook sterf ... wees lief vir jou ma!

Van 'n mamma

Ns. Tel die foon op en bel haar gerus.

[Van 'n ander mamma wat dit op internet raakgelees het en ingestuur het.]

Sunday, 5 May 2024

Wat om in geskenksakkies vir Moedersdag te sit

Geskenksakkies vir Moedersdag is 'n goeie manier om ons liefde te bewys. 

Wanneer dit by geskenksakkies vir senior burgers kom, is dit belangrik om hul unieke behoeftes en belangstellings in ag te neem. Of jy nou 'n geskenksakkie saamstel vir 'n spesiale geleentheid of net om hul dag op te helder, hier is 'n paar idees wat sekerlik 'n glimlag op hul gesigte sal sit.

1. Gesellige pantoffels:
Bederf haar voete met 'n paar nuwe sagte en knus pantoffels. Kies dié met glyvaste sole vir ekstra veiligheid.(Kies tussen winter- of somerpantoffels of koop sommer beide.) 

2. Volwasse inkleurboekstel:

Ontgin kreatiwiteit en werk ontspanning in die hand met 'n volwasse inkleurboekstel. Sluit 'n verskeidenheid kleurpotlode of merkers in.

3. Handwerkbenodigdhede:
As sy van handwerk en selfdoenprojekte hou, gee vir haar 'n stel kwaliteit handwerkvoorrade. Of dit nou brei, borduurwerk of verf is, hierdie voorrade sal haar kreatiwiteit ontketen.

4. Lekkernye (soet en sout)
Sagte koekies of beskuit, lekkergoed, neute of gedroogde vrugte. Verskillende teegeure of kitssop is ook treffers. 



Laat lewer 'n bord eetgoed vir die personeel af. Dis altyd lekker om dankie gesê te word en 'n bietjie bederf te word.

Friday, 26 May 2023

Angels: Moedersdagterugblik 2023

"Ma-wees is ’n voltydse werk, maar vir ons hier in Ons Huis is dit nou verby. Ons lekkerste werk is nou ouma-wees. Ons kinders is groot en ons jare terug se kinderbekommernisse het nou hulle s'n geword. Maar Moedersdag bly nog elke jaar vir ons spesiaal. En 2023 se Moedersdag is deel van ons skatkis van lekker onthoudinge."

Ons Huis Angels het kleur aan die dag verleen en sommer ook die dag korter gemaak, veral vir diegene wie se kinders ver bly en wat so via 'n zoom-gesprek goeie wense en 'n virtuele drukkie van die ver-kinders gekry het.

Die engele het gebak en gebrou - 7 verskillende soorte lekkernye om saam met 'n koppie tee te geniet. Dan is daar ook koekies en chips uitgedeel om daardie aand as elkeen in sy of haar kamer is en na die nuus op TV kyk, te herkou aan die vreugde, glimlagte en drukkies wat so mildelik in die eetsaal uitgedeel is.

Millie Mouton en Percy Bell






(Inligting: Millie Mouton)

Sunday, 14 May 2023

Moedersdag

Ons oumas ken die Here goed, want hulle praat al lank met Hom.
Baie dankie, Ouma, vir die voorbeeld wat u vir ons stel.
Ons is baie lief vir u.
Gelukkige Moedersdag vir elke ouma in Ons Huis.

Die hande van ‘n mamma ...

(Deel gerus met elke mamma, ouma en vrou ...)

Ek het ‘n neiging om na mense se hande te kyk. Deels seker as gevolg van die werk wat ek doen, want die hoeveelheid leidrade van onderliggende siektes wat mens op hande kan sien is werklik verstommend. Op Universiteit is ons geleer geen ondersoek is klaar as jy nie na ‘n pasiënt se hande gekyk het nie.

Ma’s se hande is nog altyd anders. So asof daar iets sags is. Die grofste vrou (en ek sê dit met alle respek) se hande is delikaat as sy ‘n mamma is. Dit laat my altyd wonder of die liggaam nie weet dat hierdie hande móét kan sag vat en sag werk nie. Dit voel ook net anders.

Ouer mammas wat lankal nie meer kinders in die huis het nie, se hande is steeds so. So asof dit altyd gereed is om te troos, te koester en te kalmeer. My ma se hande is so. Na al die jare lyk en voel haar hande steeds dieselfde. Ek vermoed dit is ook om kleinkinders sag te hanteer.

Elke lyntjie vertel ‘n verhaal. ‘n Storie van laat nagte opsit om ‘n koorsige kind te versorg. ‘n Storie van ‘n lekker dag van modderkoekies bak en grawe in seesand. ‘n Storie van vasdruk na groot hartseer en teleurstelling. ‘n Oomblik van blydskap. Daar is ook baie aande van bid oor bekommernis vasgevang tussen die lyntjies. Tye van teëspoed en moeilike dae is tussen die wonderlike tye vasgevang.

Soos ‘n mamma se hande ouer word, bly dit altyd ‘n mamma se hande. Sag, gereed vir aksie, reg vir vashou en vertroosting. Al is haar hande verouderd en verkneukel en is haar vingers skeef getrek van artritis, bly dit steeds ‘n plek van veiligheid en rustigheid.

Ek kyk elke dag na hande. Mammas se hande lyk anders. Ek weet nie presies wat dit laat anders lyk nie, maar dit so asof daar lig, liefde, kalmte en raak-vat daaruit straal.

Dit is ‘n bron van lewe. ‘n Fontein van liefde en geduld. ‘n Veilige plek weg van alles. ‘n Plek van rus. 

Dit is besonders ...

[Dr Owen - 12 December 2018] 

Klik HIER vir nog boodskappies.

Vandag se internetgebed vir moeders

Hemelse Vader,
dankie vir dié vroue wat bekroon is
om die titel “moeder” te dra.
Dankie vir die rol wat ons moeders
in elke huis vervul.
Dankie vir al die besondere gawes en kwaliteite
wat U aan ons moeders gee
om ‘n unieke en onmisbare rol te vervul.

Hemelse Vader,
gee asseblief aan ons moeders
stilwordtye aan die voete van Jesus,
sodat hulle aangeraak kan word
met wysheid en krag
vir die duisend take van elke dag.
Gee dat ons moeders daagliks sal skep
uit die fontein van lewende water,
sodat hulle dierbares
van die beker van vrede uit hulle hand kan drink.
Vul ons moeders se kruike,
sodat daar genoeg kan wees
om almal rondom hulle
met die helende olie van u liefde te salf.

Gee asseblief Here dat ons moeders
die moeders van gelukkige gesinne sal wees.
Daarom vra ons dat elke gesin die tien huisreëls sal leef
soos wat u Woord vir ons ons leer. Amen

[Besoek gerus die Moedersdagpreek van 2020 HIER.]

Saturday, 13 May 2023

Resep: Hoendergereg vir Moedersdag

'n Vinnige resep om vir ma en ouma mee te bederf. 

Bestanddele
1 gaar hoender ontbeen en in stukke gesny
1 groot pak tamatie Simba chips of Big Korn Bites
1 blik geroomde sampioene
4 hardgekookte eiers (met vurk fyngemaak)
1 koppie gaar rys
125 ml mayonaise

Metode
Meng alles goed saam.
Voeg 2 pakkies hoenderroomsoppoeier opgelos in 750 ml water by.
Meng goed deur.
Bak in 'n vuurvaste skottel in matige oond vir 30 minute. 

Klik HIER vir nog resepte.

['n Terugflits aan Alida de Koker, 'n ouma, ma, tannie en vriendin wie se kop altyd vol nuwe en heerlike resepte was.] 

Sunday, 7 May 2023

Ma: Die wese van ma-wees

(Volgende naweek is Moedersdag. Skryf 'n dankie-sêkaartjie of WA as jy nie self kan gaan kuier nie.)

'n Mamma se hart word baie kere gebreek. 
Stukkend van bekommernis, pyn, skuldgevoelens, verwyt en moegheid.
Maar 'n mamma is 'n wonderwese.
Sy lag tussen haar eie seer deur.
Lank nadat almal gaan slaap het, ruim sy nog op en bid vir elkeen voordat sy insluimer.
'n Ma maak altyd reg wat stukkend is, selfs 'n gebreekte hart.
Sy hou die gesin bymekaar met liefde en vergifnis.
Ja, jare nadat haar kinders uit die huis is, "refrain" haar "lessies" steeds.
Vader gee asseblief elke MAMMA 'n spesiale drukkie.

[Oorgeneem: Klik HIER en put emosionele energie uit hierdie FB.]

Tuesday, 2 August 2022

Trane


Vandag het ek die Here gevra om al my trane weg te vat, want trane bring net seer.
Toe sê Hy: "Nee my kind, wens liewers Ek gee jou meer"
"Ek sal jou trane gee as jy gelukkig is,
jy sal trane hê as jy jou geliefdes mis ...
Ek sal jou trane gee as Ek jou baba vir die eerste keer in jou arms lê,
en Ek sal jou trane gee as jy 'n gebed van dankbaarheid opsê ...
Ek sal jou trane gee as jy vir jou kind se oulike sêgoed lag,
en hy jou 'n drukkie gee met sy lyfie so sag ...
Ek sal jou trane gee as jy by 'n siekbed staan,
en die dokter vir jou sê dat alles weer beter sal gaan ...
Ek sal jou trane gee as jy jou verlore hondjie terugkry,
nadat jy gedink het hy is dalk êrens omgery ...
Ek sal jou trane gee as jy voel jou lewe is verby,
en jy skielik weer van êrens nuwe hoop vir die lewe kry ...
Ek sal jou trane gee as jy van iets hartseer hoor,
of as jy jou hart op jou eerste liefde verloor ...
Ek sal jou trane gee as jy lees van ander se hartseer en smart,
Want dan, My kind, weet ek jy het nog 'n hart ...
Ek sal jou trane gee as jy hartseer is,
Want, my liewe kind, ek sal die storms weer blus ...
Ek sal 'n kruis op jou pad sit, al is dit nie jy wat daarvoor vra,
Want, My liewe Kind,
ek sal nooit dat jy hom alleen dra!
Geseënde sonskyn dag vir jou.

[Geleen]

Sunday, 9 May 2021

Happy Mother's Day

Everything Mom

How did you find the energy, Mom
To do all the things you did,
To be teacher, nurse and counselor
To me, when I was a kid.
How did you do it all, Mom,
Be a chauffeur, cook and friend,
Yet find time to be a playmate,
I just can’t comprehend.
I see now it was love, Mom
That made you come whenever I’d call,
Your inexhaustible love, Mom
And I thank you for it all.
[By Joanna Fuchs]

Best Mom Award

For all the things I didn’t say,
About how I felt along the way–
For the love you gave and the work you’ve done,
Here’s appreciation from your admiring son.
You cared for me as a little tot,
When all I did was cry a lot,
And as I grew your work did too–
I ran and fell and got black and blue.
I grew some more and it didn’t stop;
Now you had to become a cop,
To worry about mistakes I’d make;
You kept me in line for my own sake.
I got older, and the story repeated;
You were always there whenever I needed.
You guided me and wished me the best,
I became wiser and knew I was blessed.
So, for all the times I didn’t say,
The love I felt for you each day,
Mom, read this so you can always see
Just how much you mean to me.
Mom, Thanks for everything!
[By Karl Fuchs]

Moedersdag: Ma aan kind

NND/Kitsnuus Vrydag 30 April 1999



Ma wonder op Moedersdag
Hoe op aarde het ek reggekom sonder jou?
Hoe het ek ritssluiters wat vashaak, losgekry?
Hoe het ek vet duvets in simpel slope gekry?
Hoe het ek die hond gebad,
blokkiesraaisels ingevul,
op materiaal vir 'n rok besluit,
proppe losgedraai,
motorbande omgeruil
en snags aan die slaap geraak
sonder jou?

[Maretha Maartens]

Saluut, ouma Sannie!

Jy was ongeneeslik fluks. Tot my ongeneeslike irritasie, veral toe ek ‘n tiener was wat net wou lees en droom. Ek sien jou weer in Sutherland se koue verbystoom met opgeskuifde moue. Ek kla ek kry koud. “Jy moet net werk, my kind!” Jou werksetiek was so onvernietigbaar dat ek in my lewe nooit, ooit vir ‘n oomblik sal kan lui wees sonder dat my gewete my bloots ry nie. Jy was ongeneeslik onselfsugtig. Ek wens ek kon net naastenby so wees. Ek werk al jare lank hard daaraan om hierdie erfenis opsy te skuif. Ek kan nou al selfs my persoonlike behoeftes voor dié van my gesin stel. Soms. Vir ‘n klein rukkie.

Jy was die nederigste mens wat ek ooit geken het. Toe jy oud en swak was en ek dit verskriklik gevind het om jou in die stort te moet help, het jy met daai twee diepbruin oë na my toe opgekyk en ek het geen vernedering of seergemaakte trots daarin gesien het. Net vertroue. En dit het ‘n vreugde geword om jou te help.

Saluut, ouma Sannie! Ek kan nie glo dis al ses jaar nie. En ja, ek dink nog steeds soms wat ek in daardie laaste tyd anders sou doen as weer die kans kon kry. En is steeds nederig dankbaar dat ek die een kon wees wat jou laaste nag met jou kon deel, wat jou hand tot die einde kon houvas en nou jou eenvoudige trouring met trots en liefde kan dra.

NS. En nee, ek het haar nooit, ooit gejy en gejou nie.

NS. En ja, ek sit met ‘n glas wyn en tjank dat dit klap. Ek hoop my lesers ook – dis goed vir die gees.

[Hierdie stukkie pos het anoniem op my tafel geland. Ek weet nie wie dit geskryf het nie en ook nie wie die besondere ouma Sannie was nie. Maar ek deel dit graag met almal wat al hierdie paadjie geloop het. Indien iemand weet, stuur asb. die besonderhede.]

Klik HIER vir nog Moedersdagwense.

Sunday, 10 May 2020

Gelukkige Moedersdag

Ma is ...
die Engel wat lewe skenk aan 'n kind,
die een wat jou die pad na die Hemel help vind.

'n Ma is ...
die een wat haar arms om jou vou,
die Hen wat haar kuikens bymekaar kan hou.

'n Ma is ...
die een wat ons altyd in haar hart hou,
die een wie se liefde ons altyd sal onthou.

Geen ander plek waar ons liefde kan vind,
as die liefde tussen 'Ma en Kind'.

'n Ma is ... 
die een persoon wat altyd in ons glo,
en ons geleer het van ons Vader daarbo!

'n Ma is ...
die een mens wat altyd mooi dinge van jou sê,
die een persoon wat al haar kinders ewe veel lief kan hê ...

'n Ma verstaan haar kind se hart
en troos in tye van hartseer en smart.

En as Ma eendag by God gaan rus,
sal ek weet dat die mooiste Engel ... my Ma is.

Gelukkige Moedersdag!!!!
Brenda

[Gaan loer HIER]