Sunday, 14 May 2023

Die hande van ‘n mamma ...

(Deel gerus met elke mamma, ouma en vrou ...)

Ek het ‘n neiging om na mense se hande te kyk. Deels seker as gevolg van die werk wat ek doen, want die hoeveelheid leidrade van onderliggende siektes wat mens op hande kan sien is werklik verstommend. Op Universiteit is ons geleer geen ondersoek is klaar as jy nie na ‘n pasiënt se hande gekyk het nie.

Ma’s se hande is nog altyd anders. So asof daar iets sags is. Die grofste vrou (en ek sê dit met alle respek) se hande is delikaat as sy ‘n mamma is. Dit laat my altyd wonder of die liggaam nie weet dat hierdie hande móét kan sag vat en sag werk nie. Dit voel ook net anders.

Ouer mammas wat lankal nie meer kinders in die huis het nie, se hande is steeds so. So asof dit altyd gereed is om te troos, te koester en te kalmeer. My ma se hande is so. Na al die jare lyk en voel haar hande steeds dieselfde. Ek vermoed dit is ook om kleinkinders sag te hanteer.

Elke lyntjie vertel ‘n verhaal. ‘n Storie van laat nagte opsit om ‘n koorsige kind te versorg. ‘n Storie van ‘n lekker dag van modderkoekies bak en grawe in seesand. ‘n Storie van vasdruk na groot hartseer en teleurstelling. ‘n Oomblik van blydskap. Daar is ook baie aande van bid oor bekommernis vasgevang tussen die lyntjies. Tye van teëspoed en moeilike dae is tussen die wonderlike tye vasgevang.

Soos ‘n mamma se hande ouer word, bly dit altyd ‘n mamma se hande. Sag, gereed vir aksie, reg vir vashou en vertroosting. Al is haar hande verouderd en verkneukel en is haar vingers skeef getrek van artritis, bly dit steeds ‘n plek van veiligheid en rustigheid.

Ek kyk elke dag na hande. Mammas se hande lyk anders. Ek weet nie presies wat dit laat anders lyk nie, maar dit so asof daar lig, liefde, kalmte en raak-vat daaruit straal.

Dit is ‘n bron van lewe. ‘n Fontein van liefde en geduld. ‘n Veilige plek weg van alles. ‘n Plek van rus. 

Dit is besonders ...

[Dr Owen - 12 December 2018

Klik HIER vir nog boodskappies.

No comments:

Post a Comment