Sunday 21 May 2023

My naam is spyt ...

Almal ken my, ek het al met so baie mense kennis gemaak. Almal reken my intensies is goed, maar ek is altyd net-net te laat.

Ek hoor dikwels my naam by begrafnisse: "Ek is spyt dat ek nie meer tyd saam met hom/haar kon spandeer het nie."

Ma's: "Ek is spyt dat ek so min tyd saam met my kinders deurgebring het. Ek was so behep met skoonmaak en wie onthou vandag my skoon huis?"

Pa's: "Ek is spyt ek was so outokraties in my denkwyse, besluite en handeling."

Kinders: "Ek is spyt ek het nie harder op skool gewerk nie. Ek kon soveel beter doen. Ek kon maklik 'n beurs gekry het om verder te studeer en sodoende my ouers finansieel help."

In Afrikaans is daar die idioom: "Spyt is 'n goeie ding, maar dit kom altyd te laat."

Erken dat UITSTEL en SPYT twee onlosmaaklike karperde is ... die een gee dikwels aanleiding tot die ander een. Gaan sit en besin oor die manier wat jy altyd optree. As jy 'n uitsteller is, gaan jy dikwels spyt wees. Stuur nou daardie boodskap, bel nou daardie famillielid, sê nou dankie vir die bestuur van Ons Huis wat in moeilike omstandighede die leisels vashou, kry nou jou persoonlike dokumente in orde en maak nou die saak met jou Skepper reg.

No comments:

Post a Comment