Tuesday 9 May 2023

Jesus-taal

"Antie! Antie!" hoor ek iemand agter my roep. Ek stap in die stofstrate van Rehoboth, suid van Windhoek in Namibië.
Ek steek vas.
Kyk om. 'n Klein vuil seuntjie hardloop na my toe.
Ek kyk die kind.
Ag Vader, hoekom is die kind so verskriklik lelik, dink ek.
Sjoe, iewers het hierdie reseppie lelik verkeerd geloop.
"Hello, my kind".
"Hello, Antie.
Kan ek Antie se kitaar dra?
Ek het Antie gehoor sing."
Ek haal my kitaarsak van my skouer af en haak dit oor syne.

Kaal gebarste voetjies loop 'n paar treë in stilte.
Hempie knoop af.
Broekie se gulp stukkend, aanmekaar gesit met draad.
"Antie?"
"Ja my kind?"
"Antie sing mooi. Ek was vol mossievleis. So "straight" mooi soos my ma sê."
Wie het vir Antie daai mooi stem gegee?"
"Seker maar Jesus, Seun."
"Ja, Hy het vir my ook een gegee."

Ons loop.
Weer dink ek aan die kind se lelike reseppie wat oral oor sy gesig geskryf is.
Regtig, Jesus?

"Wil Antie my hoor sing?"
Dalk maak sy stem op vir die gebrek aan skoonheid, rol dit deur my gedagtes.
"Asseblief, Seun".
Hy gee my kitaar terug.
Hy kry "pose" sodat hy sy "moves" saam sy lied kan maak.

Hy kyk my eers in die oë en maak seker hy het al my aandag en hy begin sing met 'n breë glimlag:

"Jesus het my mooi gemaak,
Jesus het my mooi gemaak,
my kop, my tone, my hande my voete,
Jesus het my so mooi gemaak."

Ek hurk.
Here, Here, wees my, sondaar, genadig!
Die trane vloei oor my wange, meng met die stof van Rehoboth se strate.
"Seun, kan jy my vergewe vir my lelike gedagtes asseblief? Jy is só mooi."
"Antie, ek weet nie wat Antie gedink het nie, maar Antie se oë praat nou Jesus."

Ek haal my kitaar uit.
Die wysie is maklik.
Ek slaan die kitaar en hy "jive" uitbundig sy "moves" in Rehoboth se stofstraat met boude wat boep staan. Ek "jive" saam soos 'n kind:
"Jesus het ons mooi gemaak ..."

Ek kyk sy gesiggie en ek sien sy glimlag praat Jesus ...

Mag jou oë ook Jesus praat met almal met wie jy vandag in aanraking kom. Liefde en omgee.
Moet hierdie net deel ... hoeveel keer is ons ook skuldig aan sulke gedagtes ...
* Skrywer onbekend

[Dankie, Valerie, dat jy vandag vir ons tot nadenke gestem het. Klik HIER vir nog inspirasie.]

No comments:

Post a Comment