'n Trop wilde eende was besig om in formasie noord vir die winter te vlieg. Hulle het ‘n pragtige V in die hemelblou lug gevorm en is bewonder deur almal wat hulle sien vlieg het.
Eendag het Wallie, een van die wilde eende in die formasie, iets op die grond opgemerk wat sy aandag getrek het. Dit was ‘n plaaswerf met ‘n trop mak eende wat op die plaas gebly het. Hulle het die hele plaaswerf vol gewaggel en baie gelukkig gekwaak en heerlike mielies geëet wat elke dag vir hulle gegee word. Wallie het baie gehou van wat hy sien en het by homself gedink dat daardie mielies darem nou baie lekker sal smaak. Die hele tyd se gevlieg is baie uitputtend en hy sal glad nie omgee om net so bietjie rond te waggel op die plaaswerf nie.
Nadat hy vir so wyle die sakie bepeins het, besluit hy om die tropformasie te verlaat en duik hy af na links op pad na die plaaswerf. Hy land tussen die mak eende en begin saam met hulle rond te waggel en baie gelukkig te kwaak. Hy verlustig homself aan die heerlike mielies wat hulle gevoer word. Die res van die trop wilde eend hou aan met hulle tog na die noorde, maar dit pla Wallie glad nie. “Ek sal weer by hulle aansluit wanneer hulle oor ‘n paar maande weer hier verbykom op pad suide toe,” sê hy vir homself.
‘n Paar maande het verby gegaan en op ‘n dag merk Wallie die trop wilde eende op wat op pad suide toe is. Hulle lyk so pragtig daar bo in die lug en Wallie het nou al baie moeg begin raak vir die plaaswerf. Die plaaswerf was modderige en oral waar hy waggel is daar net eendvere en gemors. “Dit is tyd om te vertrek,” sê Wallie vir homself.
Wallie het verwoed begin om sy vlerke te klap en probeer om in die lug te kom, maar hy het heelwat gewig opgetel van al die mielie-etery en hy het vir ‘n lang tyd glad nie sy vlerke geoefen nie.
Uiteindelik kom hy van die grond af, maar hy vlieg so laag dat hy teen die heining van die plaaswerf vasvlieg. Hy val op die grond met ‘n harde slag en sê vir homself: “Ag wat, ek sal nog eers wag wanneer hulle oor ‘n paar maande weer noord vlieg en hier verby kom, dan sal ek by hulle aansluit en weer ‘n wilde eend wees.”
Maar toe die trop wilde eende weer ‘n paar maande later verbyvlieg, het Wallie weer probeer om in die lug te kom, maar hy het eenvoudig net nie genoeg krag gehad nie. Elke winter en somer het sy wilde eend vriende oorgevlieg en na hom geroep, maar al sy pogings om uit die plaaswerf te kom was tevergeefs.
Later het Wallie glad nie eens meer aandag geskenk aan die wilde eende wat oor die plaaswerf vlieg nie, hy het hulle nie eens meer opgemerk nie. Hy het na alles ook maar net ‘n plaaswerfeend geword.
Soms word ons moeg om die eend te wees wat ons veronderstel is om te wees - navolgers van Jesus Christus. Dit is nie altyd maklik om gehoorsaam aan God te wees nie en om onsself so te dissiplineer om vas te hou maak nie saak hoe lank die tog is nie. Wanneer ons so swak en moedeloos voel is dit wanneer satan ons versoek om uit die formasie te val en aan te sluit by die plaaswerfeende - ‘n wêreldse lewenswyse.
Maar kyk wat het met Wallie gebeur. Hy het gedink hy sal net vir ‘n klein rukkie uit formasie val en hy sou kon vertrek net wanneer hy wou. Maar hy kon nie en dit is hoe dit gaan met sonde in ons lewe. Sonde is ‘n strik en het die manier om ons te verander in mense wat ons nie wil wees nie. Uiteindelik verloor ons kontak met wie ons rêrig is - die seuns en dogters van die Allerheiligste. Ons het plaaswerfeende geword.
[Nog kosbare stories HIER]
No comments:
Post a Comment