Saturday 6 May 2023

Afrikaanse idiome en uitdrukkings

Klik HIER vir nog idiome.
Iemand het heerlik met Afrikaanse idiome en uitdrukkings (gesegdes) gespeel in ons wonderlike Afrikaanse taal. (Ken die jongmense nog almal?)

"Voor jy dalk hond se gedagtes kry dat ek muisneste het en kattekwaad aanvang deur 'n kat in die donker te knyp, kan ek die aap uit die mou laat dat jy nie hond haaraf gaan maak nie. Die kool is eenvoudig nie die sous werd nie, jy wil verniet die bobbejaan agter die bult gaan haal, ek is nie 'n vroetelvarkie nie.

Omdat ek twee linkervoete en rooi haakskene het, dans ek soos 'n kat op 'n warm plaat. Terwyl ek oor die onderdeur loer, stem my aand- en môrepraatjies nie ooreen nie en sing ek 'n ander deuntjie. Ek sing dan soos 'n kanarie. Ek weet dat die voëltjie wat saans die laaste fluit, soggens eerste deur die kat gevang word, daarom gaan ek saam met die hoenders slaap en lank voor hanekraai klim ek met die verkeerde voet uit die bed om my eiertjie te lê.
 
Dit het die naweek katte en honde gereën, maar ons hou darem nog kop bo water. Dit staan egter soos 'n paal bo water dat dit nie nodig is om water met 'n mandjie aan te dra nie. Voor die son water getrek het en die perde horings gekry het, moet ek nie 'n gegewe perd in die bek kyk nie, ek moet die ou koeie uit die sloot grawe, die bul by die horings pak sodat die agteros in die kraal kan kom. Ek moet ook al my varkies op hok sit en daar by oom Daantjie se kalwerhok die kalf uit die put gaan haal.

As jy wors in die hondehok soek, onthou dat blaffende honde nie byt nie. Ek wou nog katte skiet, maar toe is die koeël deur die kerk en ek kry wingerdgriep. Dit was 'n bitter pil om te sluk. Ek was hoog in die takke, want ek het gehoor dat die hoogste bome die meeste wind vang. As die appel nie ver van die boom val nie, kan 'n mens die boom aan sy vrugte ken.
 
Ek kon nie die kar voor die perde span nie, en het toe maar twee rye spore geloop.

In die dorp het hulle gesê ek speel op Avbob se stoep en dat ek een van die dae 'n houtpak gaan aantrek. Ek het gesê dat ek met 'n goue lepel in die mond gebore is en dat ek nog nie die lepel in die dak gaan steek en boedel oorgee nie. Ek moet rondborstig erken dat die spyker in my doodskis, is dat bloed kruip waar dit nie kan loop nie.

As jy brood in die sweet van jou aangesig eet, moet jy nie met 'n mond vol tande staan nie, jy moet hare op jou tande hê, jy moet jou hand aan die ploeg slaan en die strydbyl begrawe. Weet jy hoe die vurk in die hef steek? As jy wolf skaapwagter maak, moet jy almal oor dieselfde kam skeer."

[Dankie, Rozetta Venter, dat jy hierdie taaljuweeltjies met die lesers deel. Klik HIER vir nog herinneringe.]

No comments:

Post a Comment