Showing posts with label Kersfees. Show all posts
Showing posts with label Kersfees. Show all posts

Thursday, 25 December 2025

Gebed vir Kersfees

Ek bid dat God jou dra, oor paaie van gevaar,
Sy lig laat skyn oor al jou kommer en vrae.
Ek bid dat hierdie Kersfees jy geen twyfel in jou hart sal dra,
maar dat glimlagte en goeie dae, 
hierdie Kersfees genoeg blydskap sal bring om vir ewig rond te dra.

Ek bid dat God jou geliefdes, al is van hulle dalk ver,
saam jou gebede en toekoms hoop,
sal toevou in Sy liefde, en hulle almal goed bewaar.
Mag hierdie goeie tyd net meer liefde in jou hart wakker maak
om ‘n ander se hand te vat, al het hulle harte liefde vergeet.

Maar bo dit alles hierdie Kersfees, mag jy God se liefde ervaar,
mag jy Sy teenwoordigheid in alles om jou gewaar.
Ek bid dat God jou optel en by Sy Vader voete laat rus
sodat wanneer hierdie feestyd se dae, al minder raak,
Hy jou in sy krag, die nuwe jaar, verder en hoër sal laat vaar.

Sunday, 21 December 2025

Geseënde Kersfees

Hierdie Kersfeesboodskap is spesiaal vir al die inwoners wie se kinders en kleinkinders in Engeland of êrens anders oorsee woon. Grootouers wat verlang, veral oor Kersfees, maak kennis met ds. André. Gaan kuier HIER by die SA Gemeente en kyk gerus na al die aktiwiteite wat aan die anderkant van die wêreld plaasvind.  

Daar is drie groepe mense wat die boodskap ontvang het van Jesus se geboorte en aan Hom hulde gebring het in die stal. Eerstens is dit gebring aan die godsdienstiges in die tempel. Die priester Sagaria hoor by die engel dat Hy 'n seun sal hê: Johannes, die Doper, wat die pad vir Jesus moes voorberei. Tweedens is dit aan herders, gewone mense gebring wat dit aan die hele volk verkondig. Derdens was daar wyse manne uit die Ooste, sterrekundiges uit Babilonië - dus mense wat God nie geken het nie en gesien was as heidene.

Christus het gekom vir elkeen in wie Hy 'n welbehae het! Tydens Sy lewe en deur Sy hele bediening getuig Hy aan alle mense - God het jou, hulle en almal lief! Hy preek vir, en red mense uit alle oorde en vlakke van die samelewing: die skelm tollenaars, die teoloog Nikodemus, die ryk jong man, die Samaritaanse vrou en hulle wat buite God se verbond staan, sowel as die moordenaar aan die kruis.

Jesus het elkeen wat in Hom glo, kom red. Hy is die enigste Here en Verlosser. God is die enigste Almagtige wat heers oor alles en almal, en Sy Gees is met jou vandag.

Ons staan vandag weer in die stal. Die Boodskap van Jesus Christus is vir jou bedoel, ongeag vanwaar jy kom en waarheen jy op pad was en is. Kom ons gaan uit en deel Sy Liefde aan elkeen in wie Hy 'n welbehae het!

Mag jy en jou geliefdes voorwaar 'n Geseënde Kersfees hê, en God se Liefde leef!

Gebed:
"Ere aan God in die hoogste hemele, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy 'n welbehae het."

Seënwense
Andrè

[Bron: Lees gerus HIER]

Wednesday, 25 December 2024

Kersgebed

Vader, ons is dankbaar vir die vredevolle boodskap van die engele oor die geboorte van u Seun, Jesus Christus. Mag ons die vrede van Christus ervaar te midde van die gejaagdheid van hierdie seisoen. Help ons om vrede te bring waar daar konflik is, en laat ons harte gerus wees in u teenwoordigheid. Amen.

Vreugde van Kersfees

Gaan voort en deel die vreugde van Kersdag -
nie net op 25 Desember nie,
maar vanaf 1 Januarie tot 31 Desember ...
en elke dag daarna. 
Juis oor hierdie feit, wil ek aan een en elk
hierdie 25 Desember tonne vol saamwees toewens.
Lag, wees bly ... koester familie, geliefdes en vriende.
Maak kontak met die waarmee jy slegte gevoelens het,
dit is die beste tyd ooit om te vergewe. 
Onthou, dood is ons konstante metgesel,
en volgende jaar sit jy dalk met verwyte aan die etenstafel.
Vergifnis kos niks nie, 
in teenstelling met al die rande wat op geskenke spandeer is.

[Dankie, Estelle]

Kerswense

Tuesday, 24 December 2024

Kersfees gaan nie oor geskenke nie ...

Waaroor gaan KERSFEES ...?

Geskenke???

Kersfees, vanuit Kerst, 'n Middelnederlandse naam vir ‘Christus’, en dus letterlik Christusfees, is 'n tradisionele herdenkingsdag op die Christelike kalender wat plaasvind op die vyf-en-twintigste (en ses-en-twintigste) dag van Desember en vier die geboorte van Jesus.
 
Kersfees gaan nie oor geskenke nie. Ons moenie onself vasvang in die gedagte dat Kersfees oor ons gaan nie, en dat ons kyk wie kan vir wie die duurste geskenk koop nie.

Waar is die dae wat kindertjies nog glo in Kersvader en vir hom koekies en melk los? Waar hulle soms tot 00:00 wag om hulle geskenkies oop te maak.
 
Die dag is 'n belangrike dag, nie om geskenke oop te maak nie, maar om Jesus se geboorte te vier, asook om ons kindertjies van Jesus te vertel!
 
Kersfees moet terug gaan soos wat dit was. Mense moet weer herinner word en besef waaroor Kersfees regtig gaan!
 
Vir elke geskenk wat jy vir iemand gee, onthou die regte rede vir Kersfees en die gedagte wat tel.

Moenie Kersdag nog 'n dag vir menslikheid maak nie, maar maak dit 'n dag wat gevier word vir Jesus se geboorte.

Die beste geskenk wat jy vir Jesus kan gee, is liefde. Wens Hom 'n gelukkige *geboortedag* en vier dit saam Hom, net soos wat Hy jou verjaardag elke jaar saam jou vier.

Bron: Internet

Friday, 20 December 2024

Terugflits: God gee altyd krag

Daar het ons in die pastorie nou ook 'n gasstoof en natuurlik 'n gaslamp of twee, 'n pak kerse en ons braai baie meer as gewoonlik vleis.

Dit is net tiek dan hoor jy die kinders in 'n koor uit hul verskillende ruimtes sugtend sê: "Agge nee, nie al weer nie." 

Tog raak 'n mens aan alles gewoond. Selfs aan beurtkrag.

Die aanpasbaarheid van die mens is eintlik wonderlik. Selfs vir die jongste in die pastorie is dit nou nie meer vreemd nie.

Die eerste keer het sy geskrik en was bang vir die skielike stikdonkerte, veral in die bad en dit word skielik pikdonker. Deesdae roep sy net: "Bring 'n kers, krag is al weer af."

Nou word die kerse in die huis al 'n speletjie. Rondom 'n kers kan 'n mens regtig ook lekker saamkuier en min ander dinge doen. Dit is wonderlik indien die skootrekenaar en die tablette en selfone se batterye pap is, dan moet almal maar doodgewoon sit en saamkuier of lees.

Ek hoor die kinders sin 'n spotliedjie, na analogie van 'n liedjie van Laurika Rauch: "Gee ons net so 'n bietjie krag ..."

In die laaste Twyfelhoekie van die jaar bid ek julle almal krag toe.

Nie elektrisiteitskrag nie - dit ook, ja - maar krag vir 'n nuwe jaar en nuwe uitdagings. Dit wat ons nou in die dagboeke skryf en dit wat in praktyk gebeur, verskil dikwels baie. Kyk ons terug oor die jaar was die krag daar wanneer ons dit nodig gehad het. Kyk ons vorentoe sal die krag vir elke dag se dagaak weer daar wees.

Intussen, rus goed uit, beplan lekker, geniet die etes en kuier by gesinne en familie, ry veilig na vakansiebestemmings en bou krag op vir 'n nuwe jaar. Wanneer jy kragteloos en moedeloos voel, onthou om te vra en te pleit: "Gee my krag vir die dag."

En onthou: God werk nie met beurtkrag nie. Hy het genoeg vir almal van ons.

Ons hoef nie met 'n kers ons binnekant te verlig nie. Sy Lig het na die wêreld gekom, en in die Kerstyd dink ons weer daaraan.

Krag vir julle almal toegebied, groete tot in die nuwe jaar.     

Sunday, 15 December 2024

Dankbaarheidsgebed

Here, ons dank U vir die lig van hoop wat in Jesus kom. Mag ons harte vol vreugde wees terwyl ons u belofte van verlossing vier. Help ons om hierdie tyd van voorbereiding te gebruik om na U uit te sien met verwagting en hoop. Amen.

Tuesday, 10 December 2024

Dankie, Kimberley Biker's


Kimberley se motorfietsryers het Saterdag in die gees van Kersfees kragte saamgesnoer om van die Pension Run-inisiatief 'n reuse sukses te maak. 

Hierdie Kimberliete se positiewe aansteeklikheid, saam met die broodnodige skenkings en geskenkies, het breë glimlagte op die gesigte van die inwoners van Resthaven, Belgrave Lodge en Ons Huis gesit.

Meer as 50 pakke doeke vir volwassenes is aan elkeen van die drie tehuise oorhandig, danksy die ondersteuning van donateurs en die borge. Doeke is 'n duur noodsaaklikheid vir baie bejaarde inwoners. Die organiseerders hoop om die Pension Run 'n jaarlikse tradisie te maak om te verseker dat senior burgers in Kimberley 'n stresvrye feesseisoen kan geniet.

Elke besoek Saterdag was gevul met glimlagte, liefde, omgee, dankbaarheid en 'n gevoel van gemeenskap. En is dit nie juis die belangrikste boodskap wat uitgedra moet word nie?

Inwoners: 'n Uit-ons-hart-dankie vir hierdie ongelooflike en heerlike verrassing. Julle sal nooit weet wat hierdie besoekie vir ons beteken het nie. Mag  julle nog diep spore in Kimberley trap!

[Klik HIER en HIER om na ongeveer 80 foto's te kyk.]

Dankie, Babsie, dat jy hierdie goeie nuus met ons lesers deel. Waardeer dit!

Friday, 24 May 2024

Kindervreugde: Ondersteun die Santa Shoeboksprojek

Kom ons as 'n gemeente maak hierdie jaar weer 'n paar kinderharte bly. Daar is 'n lys met 50 kindername by die kerkkantoor beskikbaar. Kontak asseblief so gou as moontlik die kerkkantoor om 'n naam te kry. Kersfees is juis 'n tyd vir gee en uitreik!

Dalk bly jou kleinkinders oorsee en is dit nie maklik om 'n kersgeskenk by hulle te kry nie, maar daar is baie plaaslike kinders vir wie 'n kersgeskenk aan die ondenkbare grens, want daar is skaars genoeg geld vir die noodsaaklike, wat nog te sê iets luuks soos 'n kerspresent. Raak betrokke en reik uit! 

Alle geskenkbokse moet teen 30 Oktober ingehandig wees.

Sunday, 14 April 2024

Wat om in geskenksakkies vir senior burgers te sit

Geskenksakkies is 'n fantastiese manier om ons waardering en liefde vir die senior burgers in ons lewens te bewys. Soos ons ouer word, verander ons behoeftes en ons voorkeure.

Wanneer dit by geskenksakkies vir senior burgers kom, is dit belangrik om hul unieke behoeftes en belangstellings in ag te neem. Of jy nou 'n geskenksakkie saamstel vir 'n spesiale geleentheid of net om hul dag op te helder, hier is 'n paar idees wat sekerlik 'n glimlag op hul gesigte sal sit.

1. Toiletware (dit is altyd nodig)
Handeroom, lipsalf en seep wat sag op hul vel is. Mondversorgingitems soos tandepasta, tandeborsels en mondspoelmiddel.

2.  Ontspanning en gemak
'n Stresbal of ’n handmasseerder, bordspeletjies, legkaarte, blokkiesraaisels en boeke. 

3. Lekkernye (soet en sout)
Sagte koekies of beskuit, lekkergoed, neute of gedroogde vrugte. Verskillende teegeure of kitssop is ook treffers. 

4. Stokperdjies
Almal het 'n passies - lees, brei, hekel, legkaarte, borduurwerk, skryf, verf - vind uit en blaas vuur in daardie passie.  

5. Ietsie persoonliks
Lekkerruikgoed, naskeerroom, serp, sokkies, hoed of handdoek.

6. Tydskifte
Teken in op 'n koerant of tydskrif vir jou ouer. (Harde kopie of digitaal)







Indien jy op die harde kopie ingeteken het, kan die ontvanger later hierdie leesstof in die sitkamer of biblioteek sit, sodat die vreugde van lees gedeel kan word.

Sunday, 11 February 2024

Wat om in geskenksakkies vir senior burgers te sit

Geskenksakkies is 'n fantastiese manier om ons waardering en liefde vir die senior burgers in ons lewens te bewys. Die ervare wyses se lewe het gekrimp tot die grootte van 'n kamer of 'n baie klein woonstelletjie. Boekrakke met geliefkoosde boeke daarin, foto's op die boonste rak, saam met 'n werkmandjie, 'n stokperdjie en 'n TV-stel is dikwels die somtotaal van 'n eens vol en bedrywige lewe.   

Met Valentynsdag om die draai, is hier 'n paar wenke vir die romantiese siele onder die lesers wat graag Valentynsdag vier. 

Geskenke raak 'n kopkrapprobleem. Of dit nou vir 'n verjaardag, Kersfees of  'n spesiale geleentheid soos Valentynsdag, Moedersdag of Vadersdag of Oupa en Ouma-dag is, die regte geskenk gaan 'n verskil maak aan die ontvanger. 

Daarom kan jy nooit verkeerd gaan deur 'n geskenksakkie te gee nie.

Maar wat moet jy in hierdie geskenksakkies sit om te verseker dat dit bedagsaam en betekenisvol is? 

1. Toiletware (dit is altyd nodig)

2. Geestelike kos (dagstukkies, Christelike tydskrifte, Bybelstudieboeke)

3. Versnapperings (soet en sout)

4. Breinoefeninge (legkaarte, blokkiesraaisels, boeke)

5. Praktiese hulpmiddels (vergrootglas, kierie, loopraam, reëlings teen die muur, batterye)

6. Blomme en potplante (ietsie visueel mooi)







Valentynsdag is die ideale dag vir anonieme geskenke. Laat sommer 'n geskenkie by die kantoor vir die inwoner wat geen familie meer het nie of vir die inwoner of personeellid wat op Valentynsdag verjaar.

Friday, 29 December 2023

Storie: Kersfees, vakansietradisies en verandering.


Daar was 'n versoek of drie om meer stories te plaas. Met die nuwe jaar om die draai en baie van die inwoners wat nie gaan kuier nie, plaas ons so 'n ekstra storie of wat. Geniet die kersfeesstories.  

Kersfees, vakansietradisies en verander - klik HIER om die heerlike herinneringe te lees in Seegogga se Bloggie (sommer woordjies wat waai in die wind en miskien aanklank sal vind).

Monday, 25 December 2023

Kersete onbeperk

Wanneer ons aan Kersfees dink, is dit gewoonlik met 'n glimlag om die mond, en 'n vonkel in die oog: Familie, kinders of vriende rondom ‘n Kersboom en geskenke. 'n Kersete by die werk of die kerk. In hierdie tyd is daar by soveel restaurante, gastehuise en hotelle spesiale aanbiedings. Besprekings is noodsaaklik, want die belangstelling is groot. En wat het al hierdie plekke in gemeen? Dikwels onnodig oorlaaide kostafels.

Dink en doen hierdie jaar iets in die gees van Kersfees. Ons Kersete-tafels staan en kreun gewoonlik onder die gewig van al die kos. Daar is altyd kos wat oorbly. As die ete verby is, en almal is verby hulle versadigingspunt en gelukkig, pak die oorblywende kos in pakkies, en gee dit vir jou gaste soos hulle vertrek. Of ry verby die supermark waar jy inkopies doen en gee dit vir die sekuriteitsman/vrou wat aan diens is, of die hekwag van die kompleks, of die mense in die wagkamer van die staatshospitaal of die wag in die straat, of die man op die hoek wat bedel. 

As hierdie versoek te laat is vir vanjaar, onthou dit vir volgende jaar en deel dit met hulle in jou vriendekring!

[Dankie, Estelle, vir die omgee-voorstel.]

Vandag se internetgebed vir jou: KAALVOET KERSGEBED

Heer, so met ons kaalvoetsiele
staan ons voor ‘n krip en ‘n kruis;
sommer so, nes ons is … 
Dit is dan juis in hierdie tyd van die jaar 
dat ons so naby aan U voel
Miskien omdat U ons herinner
aan hoe naby U aan ons gekom het ...
Eers in die stal in Bethlehem,
En later, aan die Kruis op Golgota ...
en nou, in hierdie stowwerige harte van ons Heer, 
sommer so met ons kaalvoetsiele 
Sien ons soos die wyse manne destyds, 
U in doeke, sommer so nes ons is 
Dis dan juis in hierdie tyd van die jaar 
Dat ons hoor hoe U met kaalvoet-mense praat

Omdat U genade ook vir ons genoeg is ... 
omdat U so liefhet dat U bloei en ly vir ons ...
Heer, sommer so met kaalvoetsiele 
vier ons Kersfees hierdie jaar 
Sommer so, nes ons is 
En hier, raak ons stil en klein voor U Grote Majesteit 
Selfs die Engele in die Hemel bedek met vlerke hul engel–aangesig ...
Heer, so met ons kaalvoetsiele; neem tog aan ons kersgedig. 
Amen
ooOOoo

'n Baie spesiale geseënde Kersfees wens ek elkeen toe, 
geniet jou Kersdag en mag niemand vergeet
 oor Wie die dag eintlik gaan nie. 
Mag julle geseën word hierdie Kersfeestyd.

[Geleen - HIER]

Kerswense


Mag 2023 se Kerstyd en 2024 se koms ‘n besondere tydperk van liefde en danksegging in jou lewe wees. En wanneer oupa en ouma die kersboom met al die liggies wegpak tot die kleinkinders volgende jaar weer kom kuier, weet dat Jesus nie saam gebêre wil word nie, want waar Sy liefde is, is daar altyd kosbare wonderwerke.

Friday, 22 December 2023

Storie: In oupa en ouma se huis


Daar was 'n versoek of drie om meer stories te plaas. Met kersfees om die draai en baie van die inwoners wat nie gaan kuier nie, plaas ons so 'n ekstra storie of wat. Geniet die kersfeesstories.  

In oupa en ouma se huis - klik HIER om die storie te lees. Dit het in die Rooi Rose verskyn van 27 Desember 2013.

Sunday, 17 December 2023

Idees wat om in 'n geskenksakkie vir 'n senior burger te sit

Mense vra dikwels wat hulle vir senior burgers kan gee, veral nou oor die kersseisoen. Die redaksie het 'n bietjie rondgevra en hier is 'n paar van die voorstelle.

Die opsies is eindeloos. Gebruik hierdie voorstelle om aan die gang te kom.

1. Aktiwiteitsboeke:

Hierdie boeke is oral beskikbaar en bied nie net uitstekende breinoefeninge nie, maar kan ook ure se genot verskaf. Voorbeelde is blokkiesraaisels, Sudoku, soek die verskille en selfs inkleurboeke vir volwassenes.

2. Handeroom:

Ons vel is geneig om droër te word soos 'n mens ouer raak. ’n Voedende handedroom is 'n heerlike bederf.

3. Eetgoed:

Almal hou daarvan om so af en toe aan 'n lekkernytjie te kou! Moontlikhede is legio - soet en sout. Diabete se eetgoed moet met sorg uitgekies word. 

4. Vrolike sokkies:

Warm vrolike sokkies is 'n perfekte toevoeging tot enige geskenksak. 'n Handige paar sokkies is diéwat nie kan gly nie.

5. Sleutelhouer:

'n Sleutelhouer is altyd welkom. Veral 'n lekker groot sleutelhouer wat 'n persoon nie maklik sal verlê nie. Deesdae kry 'n mens sleutelhouers met die mooiste boodskappe op.

6. Mini-potplante:

Die meeste senior burgers se lewensruimte het gekrimp tot 'n kamer. Bring 'n tikkie natuur in die ontvanger se lewe met 'n mini-potplant. Plante helder enige ruimte op, maar so ook die gemoed van die inwoner.

7. Digitale fotoraam:

Verras hulle met 'n digitale fotoraam wat vooraf gelaai is met hul gesins-, familie- en vakansiefoto's. Dit is 'n moderne manier om gekoesterde herinneringe te bewaar sonder dat dit te veel spasie op neem.







Kersfees is 'n tyd van gee. As jy van 'n mede-inwoner weet wat nie meer familie het nie, maak gerus 'n anonieme geskenksakkie op en vra iemand in die kantoor om dit te gaan aflewer.