Showing posts with label Ministriesworldwide. Show all posts
Showing posts with label Ministriesworldwide. Show all posts

Sunday, 6 June 2021

Om op water te loop (3)


Petrus het ontdek dat om te sink nie beteken dat jy al verdrink het nie. Hier volg twee redes vir die stelling. Eerstens, om nie te slaag nie, maak nie van jou 'n mislukking nie, tou opgooi wel. Misluk is deel van die leerproses.

Sir Edmund Hillary het vele mislukte pogings aangewend voordat hy uiteindelik daarin geslaag het om Berg Everest uit te klim. Na een mislukte poging het hy volgens oorlewering aan die voet van die berg sy vuis uitdagend gebal en geskreeu, 'Ek sal jou uiteindelik oorwin! Jy kan nie groter word nie, maar ek groei steeds!' Hy het uit elke mislukte poging geleer totdat hy suksesvol was.

Winston Churchill se mening was: 'Ek het nog nooit met enigiets misluk nie. Ek het eenvoudig nog 'n kans gekry om dit reg te kry.' Dit is 'n oorwinnaarsgees!

Tweedens, die eintlike mislukkings was diegene wat in die skuit agtergebly het. Hulle mislukking is nie raakgesien of gekritiseer nie. Hoewel Petrus openlik gefaal het, het hy ook die euforie om op die water te loop, ervaar. Slegs hy kon weet hoe dit voel om deur God se bemagtiging iets te doen wat jy nooit op jou eie sou regkry nie. As jy een maal op die water geloop het, is jy nooit weer dieselfde nie.

Petrus het die vreugde gesmaak om in 'n wanhoopsoomblik deur Jesus gegryp te word. Petrus het geweet dat Jesus hom sou red, sou hy sink. Hy het 'n oomblik gedeel, 'n verbintenis, 'n vertroue wat die ander nie beskore was nie - hulle het in die skuit gebly! Sink is nie gelyk aan mislukking nie, jou vrees toelaat om jou te kelder, is wel.

Sunday, 30 May 2021

Om op water te loop (2)


Toe Petrus seker was dit is Jesus wat hom roep, het hy die veiligheid van die skuit verlaat en homself aan die krag van God toevertrou. 'Maar toe hy die hoë golwe rondom hom sien, het hy paniekerig geword en begin sink. Hy skree toe vir Jesus: "Here, red my!" (Matteus 14:30).

Fokus tydens jou storms eerder op die Here, en nie die storm nie.

Ons weet almal hoe dit voel om 'die hoë golwe te sien'.

Jy pak 'n nuwe uitdaging - 'n ander betrekking, verhouding, geestelike groeipad - vol moed aan, net om deur storms en terugslae gestuit te word. Jesus het gesê: 'In die wêreld sal julle swaarkry beleef ...' (Johannes 16:33). Wees bedag daarop; dis deel van die geloofsreis. Jy moet ten spyte van jou vrees voortgaan. Groei vereis dat jy nuwe uitdagings aanpak. Jy sal elke keer bang wees, want groei en vrees loop hand aan hand. Elke keer wat jy dit egter waag om uit die skuit te klim, sal jy 'n groter kans hê om dit weer te doen. Elke keer wat jy dit op die water waag sonder om te sink, sal jy besef dat vrees jou nie langer gevange hou nie.

Bowendien, om in die skuit te bly, kan ook nie jou veiligheid verseker nie. Die teenvoeter vir vrees is om elke dag bietjie meer uit die skuit te kom, totdat vrees uiteindelik geen houvas op jou meer het nie.

Bron: Radiokansel (Inhoud aangepas)

Sunday, 27 September 2020

'n Lofoffer!


As jy vandag vasgedruk voel deur jou omstandighede, lees hier: "Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Skielik kom daar 'n groot aardbewing sodat die fondamente van die tronk geskud het. Al die tronkdeure het oopgevlieg en die gevangenes se kettings het losgekom!" (Hand 16:25-26 NLV) Lof maak die deure oop en breek die kettings! Telkens wanneer jy bereid is om God te loof ten spyte van jou omstandighede, sal die hemele jou te hulp snel. Jy mag dalk voel: "Maar ek is nie nou lus om God te loof nie." Bring dan vir God 'n "lofoffer." Dis maklik om Hom te loof wanneer dit goed gaan, maar wanneer jy bo jou omstandighede moet uitstyg om dit te doen, is wanneer dit regtig tel.

Die geveg van Jerigo leer ons dat ons soms moet uitroep wanneer:

(a) ons teen 'n muur te staan kom;

(b) ons voel asof ons in sirkels beweeg;

(c) die vyand oor ons staan en spot;

(d) ons rede vir ons sê: "Hierdie is nie die manier om oorlog te voer nie";

(e) dit die laaste ding op aarde is waarvoor ons kans sien.

Nehemia skryf: "Want die blydskap wat die Here gee, sal julle krag wees." (Neh 8:10 NLV) As jou omstandighede jou geluk bepaal, sal jy emosioneel wipplank ry. Maar as jy na die Here van jou omstandighede kyk, en jou in Sy nimmereindigende goedheid verbly, sal jy keer op keer van swakheid na krag gaan!

Saturday, 25 July 2020

Vuurwarm vir stukkendes

Handwerk: Meisie de Koker
Jesus se genadehart het vuurwarm geklop vir die verloorders van sy dag. Diegene wat by die godsdienstige leiers 'n yslike rooi kaart gekry het, was heelbo aan sy genadelys. Dink maar aan die vrou wat daai beroep beoefen het waaroor mens nie in goeie geselskap praat nie, van wie ons lees in Lukas 7. Sy het haar trane van Jesus se voete met haar hare afgevee nadat sy ongenooid by 'n ete ingebars het waar Hy die eregas was. Terwyl die godsdienstiges gestik het van verontwaardiging oor die feit dat Jesus haar sondes net daar afgeskryf het, het sy die mooiste woorde ooit uit Jesus se mond gehoor: "Gaan in vrede. Jou geloof het jou gered!" G'n wonder nie dat die godsdienstiges Hom later doodgemaak het. Hulle kon dit net nie vat dat Jesus God se goedheid verniet weggegee het aan sulke mense nie.

Nee, Jesus se genade was nie eens goedkoop nie; dit was sommer heeltemal verniet! Maar dis presies hoe Jesus is, nou nog! By Hom is jy altyd welkom, maak nie saak hoe diep of ver jy geval het nie. By Hom is daar altyd 'n ekstra porsie hemelse genade te kry! Vra Hom net.