Sunday 6 June 2021

Om op water te loop (3)


Petrus het ontdek dat om te sink nie beteken dat jy al verdrink het nie. Hier volg twee redes vir die stelling. Eerstens, om nie te slaag nie, maak nie van jou 'n mislukking nie, tou opgooi wel. Misluk is deel van die leerproses.

Sir Edmund Hillary het vele mislukte pogings aangewend voordat hy uiteindelik daarin geslaag het om Berg Everest uit te klim. Na een mislukte poging het hy volgens oorlewering aan die voet van die berg sy vuis uitdagend gebal en geskreeu, 'Ek sal jou uiteindelik oorwin! Jy kan nie groter word nie, maar ek groei steeds!' Hy het uit elke mislukte poging geleer totdat hy suksesvol was.

Winston Churchill se mening was: 'Ek het nog nooit met enigiets misluk nie. Ek het eenvoudig nog 'n kans gekry om dit reg te kry.' Dit is 'n oorwinnaarsgees!

Tweedens, die eintlike mislukkings was diegene wat in die skuit agtergebly het. Hulle mislukking is nie raakgesien of gekritiseer nie. Hoewel Petrus openlik gefaal het, het hy ook die euforie om op die water te loop, ervaar. Slegs hy kon weet hoe dit voel om deur God se bemagtiging iets te doen wat jy nooit op jou eie sou regkry nie. As jy een maal op die water geloop het, is jy nooit weer dieselfde nie.

Petrus het die vreugde gesmaak om in 'n wanhoopsoomblik deur Jesus gegryp te word. Petrus het geweet dat Jesus hom sou red, sou hy sink. Hy het 'n oomblik gedeel, 'n verbintenis, 'n vertroue wat die ander nie beskore was nie - hulle het in die skuit gebly! Sink is nie gelyk aan mislukking nie, jou vrees toelaat om jou te kelder, is wel.

No comments:

Post a Comment