Showing posts with label Agtergrond. Show all posts
Showing posts with label Agtergrond. Show all posts

Saturday, 3 June 2023

Ons Huis se reis van 80 genadejare in sig

Ons Huis is volgende jaar 80 jaar oud. Dit is 'n hoë en geseënde ouderdom soos baie van ons inwoners kan getuig. Die pad tot hier was nie elke dag maklik nie en met talle op- en afdraandes, teleurstellings, hartseer, vreugdes, toe deure, maar gelukkig ook baie oop deure, kan Ons Huis sy naam gestand doen as tuiste vir senior burgers. Met 'n nederige begin oorkant Dutoitspan Kerk, het die ouetehuis spoedig uit sy nate gebars en moes daar na alternatiewe moontlikhede gekyk word.

Gaan lees gerus die agtergrond van die ouetehuis HIER.

Op hierdie punt liewe leser het ons u hulp nodig. Ons is op soek na staaltjies, stories, resepte, grootwordjarestories, foto's en enige iets wat ons kan gebruik om 'n feeskalender saam te stel.

Stuur alle inligting na aldawelman@gmail.com

Ons sien uit na al die stories en inligting.

Monday, 25 July 2022

Ons Huis - agtergrond

Ons Huis
 is die breinkind van die ACVV-tak in Beaconsfield o.l.v. die destydse presidente, mev. N Powell. Hulle was slegs 'n handjievol lede, maar met ongekende ywer, het hulle die besef dat daar 'n dringende behoefte aan 'n tehuis vir bejaardes is, 'n werklikheid gemaak.

Die deure van Ons Huis, wat op die hoek van Rosestraat en Dyerplek geleë was, word in 1943 oopgesluit. Dutoitspan Kerk was baie nou betrokke by die ouetehuis wat op daardie stadium regoor die kerk geleë was. Die gebou het egter spoedig te klein geword en in 1957 het die inwoners na die gebou in Ariadnelaan verhuis. Volgens inligting was hierdie tehuis die heel eerste van sy soort wat deur bemiddeling van die ACVV tot stand gekom het met die finansiële steun van Departement Volkswelsyn en Pensioene.

Die waglys het bly groei, sodat daar vroeg in die sestigerjare weer 'n vertoë gerig moes word om uit te brei. Hierdie uitbreidings is in 1966 voltooi, Nog later is die vleuel vir die verswakte bejaardes aangebou.

Die ACVV is 'n nie-winsgewende organisasie wat o.a. dienste lewer aan ouer persone. Ten einde volhoubaarheid te verseker is hulle hoofsaaklik afhanklik van goedgunstige donasies. Verskillende kerke, besighede en individue in Kimberley en omstreke is die rede dat Ons Huis se deure ten spyte van bitter moeilike ekonomiese tye, nog oop kan bly. Langs hierdie weg wil die ACVV Ons Huis hulle opregte dank en waardering uitspreek. Dis hierdie donateurs wat die finansiële las van die tehuis ligter maak.

Ons Huis skenk aandag aan die versorging van ouer persone, asook die versorgingsbehoeftes van mense wat leef met Alzheimers en Dementia. 

Ons Huis se gekwalifiseerde personeel is 24 uur beskikbaar om hulp te verleen met daaglikse behoeftes en tydens die Covid-19-tyd is die ekstra myl geloop. Hulle eerste prioriteit is ons inwoners en hul behoeftes. Hulle bied sekuriteit, hoop, lewenskwaliteit en ‘n menswaardigheid aan elke inwoner. 'n Inhuis-biblioteek en -haarsalon is van die geriewe wat beskikbaar is. 

Ons Huis is bekend in die Noord-Kaap en volgende jaar vier dié instansie sy 80ste jaar van diens aan die gemeenskap. In mensjare is dit reeds 'n gevorderde ouderdom, maar saam met die ouderdomspyne, (dit sluit ook die groeipyne in die beginjare in), het wysheid, insig en kennis van die digitale era ook gegroei.

[Klik HIER om verder te lees.]

Wednesday, 15 June 2016

Ons eerste treë...

Ons Huis - Tehuis vir bejaardes 1952
Volgens 'n NG Kerk-ringverslag van Hopetown (1904 - 1905) is daar goedkeuring verleen deur die NG Kerk aan die gedagte wat toe reeds ontstaan het, naamlik dat daar 'n Afrikaanse Christelike Vrouevereniging gestig mag word.

Die doelstelling van so 'n vereniging sou spesifiek wees om nood te lenig en lyding te versag - toestande wat ná die Eerste Wêreldoorlog hoogty gevier het.

Met hierdie edele doel voor oë is die ACVV-tak in Beaconsfield gestig met mev. N Powell as presidente. Die tak alhier het in der waarheid deur die jare veel gedoen om in die nood van behoeftiges te voorsien. Besoeke aan siekes tuis waarheen ook voedsel geneem en barmhartigheidsdienste verrig is, sowel as besoeke aan siekes in die hospitaal, het 'n gereelde instelling geword.

Dienste wat op 'n stadium deur die Departemente Volkswelsyn en Pensioene, Kindersorg en so meer verrig word, was in die vroeë jare die selfopgelegde taak van die ACVV. Finansiële steun soos liefdadigheidsinstansies dit deesdae ondervind, was daar glad nie. Slegs die ywer en liefde vir die saak was vir die klein getal lede waarmee die vereniging gestig was, genoeg aansporing om groot struikelblokke uit die weg te ruim.

Namate die werkkring wyer geword het, het ook die nood van eensame en siek bejaardes na vore gekom - soveel so dat die lede die behoefte aan 'n tehuis vir bejaardes sterk aangevoel het.

(Lees verder...)