Showing posts with label Kos. Show all posts
Showing posts with label Kos. Show all posts

Thursday, 11 June 2026

Jogurt: Die wondervoedsel

[Dink hieroor: Kossoorte wat jare by mense se lewe toevoeg, verander net soos die modes.] 

Jogurt het geen magiese kragte wat jou 'n langer lewe kan besorg nie, maar dit is heilsaam genoeg en heerlik daarby!

Dit is vanweë die uitsprake wat 'n Russiese wetenskaplike, Mechnikoff, aan die begin van die eeu gemaak het dat daar soms magiese kragte aan jogurt toegeskryf word.   

Hy het die geheim van 'n lang, gesonde lewe in die Bulgaarse Alpe gaan soek, omdat baie mense van dié streek tot 100 jaar of ouer geword het. Tot sy verbasing het hy ontdek dat dié mense groot hoeveelhede van 'n sekere gefermenteerde melkdrank drink. Hy het dadelik - sonder enige verdere navorsing - bekend gemaak dat dit die geheim was.

Só het jogurt as wondervoedsel bekend geword en die ongegeurde soort word selfs vandag nog as Bulgaarse jogurt verkoop.

Ongelukkig was Mechnikoff se uitspraak nie geldig nie en die mense se lang lewens word nou ook eerder aan genetiese redes toegeskryf as aan die gereelde inname van jogurt.

Tog bevat jogurt voedingstowwe wat van groot belang is. Die gesondheidsvoordele van jogurt is dat dit baie proteïene, kalsium, vitamiene A en 'n bietjie van die vitamien B-kompleks bevat. Dit is besonder voordelig vir mense wat jogurt mag eet, maar nie ander produkte wat vitamien B-kompleks bevat nie soos volkoringbrood en vleis.

Mense met 'n laktose-onverdraagsaamheid - wat nie suiwelprodukte kan gebruik nie - se spysverteringstelsel kan wel jogurt verteer. Diarreelyers kan ook maar jogurt by hul dieet insluit aangesien dit lyk asof die mikro-organismes wat in die spysverteringstelsel nodig is, vermeerder met die inname van jogurt.

[Bron: Rooi Rose 27 Februarie 1991 - Sonja Jordt]

Thursday, 19 March 2026

Ouma se wenke: Eet versigtig

* Beperk kitskos, koekies, sjokolade, skyfies, vetterige en verwerkte vleis, lekkers en gebakte produkte.

* Vermy soet drankies. Dit versadig nie, maar kan gewigstoename veroorsaak.

* Kies minder souterige voedsel en gebruik minder sout by die huis ten einde hoë bloeddruk te verhoed.

* Vrugte en groente is gesonder opsies. 

[Idioom: Alles wat lekker is, is nie altyd gesond nie! Lekker eet!]

Thursday, 12 March 2026

Ouma se wenke: Geniet jou kos, maar probeer om 'n bietjie minder te eet

Ek gaan vandag 'n netelige onderwerp aanroer. Die enigste rede is omdat ek onlangs daarmee gekonfronteer is. Ek gaan dit oor die volgende paar weke versprei.

* Eet gaan daaroor om ervarings en goeie kos te deel.

* Te veel eet kan tot gewigstoename, diabetes en hartsiekte lei.

* Verminder die porsiegrootte van vetterige, styselagtige en soet voedsel as jy oorgewig is.

* Mik vir 'n gebalanseerde bord: 'n kwart proteïne, 'n kwart stysel en die helfte groente en vrugte.  

Thursday, 2 January 2025

Ouma se wenke: Algemene kombuiswenke

* Koek sonder krake
Voeg 'n ekstra teelepel margarien by jou kooksjokolade as jy 'n koek versier. Dit sal voorkom dat die sjokoladelaag kraak wanneer jy die koek sny. 

* Kikker jou gewone rys op met kleur en geur deur 2 teelepels kerriepoeier by die kookwater te voeg. Dit lyk en smaak heerlik anders.

* Maak 2 piesangs fyn in 'n voedselverwerker saam met melk en voeg dan vanielje-roomys by vir 'n heerlik melkskommel.

* Tee- en koffievlekke kan maklik van koppies en bekers verwyder word deur die merke met tandepasta te vryf en dan deeglik uit te spoel.

* Om ontslae te raak van 'n visreuk aan skottelgoed, voeg 'n halwe teelepel mosterd by jou skottelgoedwater.