Showing posts with label Kleinkinders. Show all posts
Showing posts with label Kleinkinders. Show all posts

Thursday, 15 January 2026

Ouma se wenke: Begin 2026 op 'n goeie voet met jou kleinkinders

Die eerste en grootste geskenk, na my mening, wat 'n ouma (en/of oupa) 'n kleinkind kan gee, is liefde. 
* Baie daarvan. 
* Soveel as jy kan. 
* Kinders suig dit op soos 'n spons
* Hulle baai daarin en dit gee hulle selfvertroue 'n hupstoot.

So dikwels wonder grootouers wat kan ons doen en beteken vir ons kleinkinders, sonder om die ouergrense te oortree.

Lees gerus Johan en Nina Smit se boek "Loshande die beste oupa en ouma: om die wêreld vir jou kleinkinders te beteken."

In hierdie boek word belangrike onderwerpe aangeraak. 
* Aspekte soos die voorbeeld wat grootouers stel. 
* Die kleinkind se godsdiens en hoe daaraan gebou kan word. 
* Die effek wat egskeiding op die kleinkind kan hê. 
* Hoe die kleinkind begelei kan word om dood en afskeid te kan hanteer. 
* Selfs die dood van 'n kleinkind en die verwerking van die seer deur die grootouers. 

Die outeurs probeer om sentimentele gesprekke rondom kleinkinders te vermy en om dieper te grawe in die verhoudings waarin grootouers met hulle kinders en kleinkinders staan. Die boek bevat kostelike verhaaltjies van kleinkinders se sêgoed en hulle kinderlike opregtheid teenoor hulle oupas en oumas. Een van die hoofstukke van die boek beskryf 'n hele aantal getuienisse van laerskoolkinders oor hulle oupas en oumas.

Klik HIER vir meer inligting.

Onthou, wees die beste oupa en ouma wat jy kan wees. 
Dit beteken nie materiële geskenke nie, 
maar onthou-geskenke, omgee-drukkies en 
ore wat aandagtig luister sonder kritiek. 
Geniet jou kleinkinders!

Thursday, 16 January 2025

Ouma se wenke: Raad vir oupas en oumas

* Ondersteun jou kleinkinders en wees ‘n veilige hawe waar die kinders hulself kan uitdruk. Dis belangrik dat 'n kind voel hy word gehoor. As jy nie saamstem nie, los die teregwysing en "preek" tot later - bou eers aan daardie verhouding.

* Probeer die lewe van jou kleinkinders deur hulle oë sien, ervaar die wêreld op hul vlak, of dit ‘n jong kind is wat vra dat jul goggas in die tuin moet gaan soek, of ‘n tiener wat die nuutste modegier wil verduidelik.

* Luister na jou kleinkinders se ontevredenheid, se klagtes en ook hulle bekommernisse. Jy is dalk die enigste een wat die TYD het om daarna te luister. Vra gerus hulle voorstelle vir oplossings vir hul probleme. Op hierdie manier leer jy hul uitkyk op die lewe, hulle manier van dink en kan jy deur subtiele leiding hulle dalk beïnvloed om meer objektief na 'n probleem te kyk. 

* Ondersteun jou kinders. Al sê hulle dit nie, het hulle soms nodig om by ma of pa af te pak (sonder om te hoor: ‘ek het jou mos gesê ...’).

* Hou die kommunikasiekanale vir albei geslagte oop. Onthou: Hulle moet te alle tye geliefd voel. En oupa en ouma, as julle bekommerd is en magteloos voel om te help, julle weet mos waar julle Bron van krag lê. Gebruik dit!

(Daar sal later weer na hierdie saak gekyk word.)

Thursday, 9 January 2025

Ouma se wenke: Raad vir oupas en oumas

* Ter wille van familievrede: Moet liefs nie by die ouers se opvoedings- en dissiplinestyl inmeng nie.

* Bied hulp aan aan jou kinders as jy sien dat hulle vasdraai, veral as julle in dieselfde dorp bly. Lê egter die voorstel in hulle midde en wag vir hulle reaksie.

* Gebruik die oupa- en oumakuiertyd om positief te wees en saamwees-aktiwiteite te doen. Moenie gedurig vir jou kleinkinders vertel hoe sleg, lui en disrespekvol die jeug is nie. Hierdie foutvinderige optrede gaan hulle eerder kopsku maak om weer te kom kuier.

* Wees deel van jou kleinkinders se lewe en geniet hul geselskap. Lees hulle lyftaal - soms wil hulle nie hul oupa en ouma by die sportdag hê nie - moenie dan daarop aandring nie.

*  En as oupa en ouma 'n uitnodiging kry, waardeer dit, probeer ten alle koste om dit by te woon - hulle word baie gou groot.

(Word vervolg)

Tuesday, 12 September 2023

Wat is 'n oupa?

Oupa is mans-oumas.
'n Oupa is iemant nes jyself, net 'n biekie slimmer
want hy kan jou help met goed waarmee jy nie self
kan regkom nie.
Oupas gaan stap met klein sienkies en gesels net oor
visvang en trekkers.
'n Oupa werk nie en daarom het hy tyt vir jou
behalwe wanner hy wil slaap, want oupas slaap graag.
'n Oupa kan ook nie mooi sien nie,
daarom wil hy altyt weet wat jy doen.
Oupas het baaaie geld, want hulle koop elke dag die koerant.
'n Oupa is iemand wat altyd bly is om jou te sien,
want hoekom het hy altyt swiets in sy sak?
Elkeen moet tog probeer om 'n oupa te kry.
Hulle is beter as telewiesie.

Sunday, 10 September 2023

Oupa se hande

Oupa, negentig jaar oud, het op die stoepbankie gesit. Hy het nie beweeg nie, sit net daar met sy hoof geboë en hy staar na sy hande.

Toe ek langs hom gaan sit het hy niks gesê of aangetoon dat hy van my weet nie en hoe langer ek gesit het, hoe meer het ek gewonder of alles reg is. Na 'n lang tyd se sit, vra ek hom toe of hy sleg voel en of ek vir hom iets kan doen.

Hy lig sy hand op, kyk na my en glimlag: "Nee," sê hy, "ek voel heel goed, maar dankie dat jy vra," sê hy in sy sterk basstem.

"Ek wou Oupa nie steur nie, maar oupa sit hier so doodstile en staar na jou hande en ek wou net seker maak alles is reg," verduidelik ek aan hom.

"Het jy al ooit na jou hande gekyk?" vra hy. "Ek vra of jy al regtig gekyk het?"

Ek maak my hande stadig oop en kyk stip na hulle. Ek draai hulle om, palms na boontoe.

"Nee," sê ek. "Ek het nog nooit so ernstig na my hande gekyk nie en ek weet ook nie wat Oupa bedoel nie."   

Oupa het geglimlag en toe vertel hy my 'n storie: "Gaan sit 'n oomblik stil en dink oor die paar hande wat jy het, hoe hulle jou deur die jare bedien het! Hierdie hande, redelik vol plooie, gekrimp en swak, was al gereedskap wat ek gehad het deur my lewe om daaraan vas te hou, te gryp en te omarm.

*Hulle het kos in my mond gesit en klere aan my lyf!
*Hulle het my veters vasgemaak en my skoene aangetrek.
*Hulle was baie dae vuil, gebars en rou, geswel en vol bloed, vingers seer.
*Met hulle het ek my eerste kind by die hospitaal kon vashou.
*Aan my vinger was my troupand wat gewys het dat ek getroud was met 'n vrou vir wie ek lief is.
*Hulle het gebewe en geskud toe ek my oorlede pa uitgedra het na die begraafplaas.
*Hulle het gebewe van trots toe ek my dogter afgegee en haar sluier afgehaal het met haar troue.
*Met hulle kon ek my gesig verberg, my hare kam, my was en skoongemaak het.
*Hulle was baie dae taai, vuil, nat, vol vuil olie en sement, droog en rou.
*Baie dae, wanneer baie dinge regtig nie gewerk nie, hou hierdie hande my op, sodat ek stadig op die bed kan gaan lê en hou ek hulle bymekaar as ek bid.
*Hierdie hande was die waarborg wat ek gehad het teen die genadeloosheid van die lewe.
*Maar die belangrikste is: Dit sal hierdie hande wees wat die Here sal vat en my in Sy koninkryk inlei.
*En met my hande sal Hy my optel aan Sy sy en dan sal ek hierdie hande gebruik om Christus se gesig aan te raak. 

Ek was verstom oor oupa se storie. As ek nou na my hande kyk, weet ek dat God oupa se hande sal streel en hom sal toelaat dat hy Sy gesig mag aanraak.

Leef dan so dat Hy jou hande ook in Syne kan vat.

Robert van Wyk

[Dankie, André]    

Tuesday, 10 January 2023

'n Geseënde nuwe skooljaar


Baie sterkte aan ons kleinkinders en agterkleinkinders wat môre met skool begin. 'n Vol en besige jaar lê vir julle en wag en daarmee wil ons vir julle sterkte toewens. Onthou altyd dat die skool se primêre doel is om vir julle geleenthede te skep om julle Godgegewe talente op elke terrein ten volle te kan ontwikkel. Ons weet dis nie altyd lekker nie, maar die beloning vir harde werk, is oor en oor die moeite werd. Ons kan darem onthou hoe dit was, al was dit donkiejare terug. 

Die skool bou aan al sy leerders sodat hulle ná skool as selfstandige mense die grootmenswêreld  kan aandurf ... 'n Volwassene met selfvertroue wat sy taak suksesvol kan verrig.

Ons weet dat die wêreld en veral die skoolwêreld nie meer lyk soos toe ons julle ouderdom gehad het nie, maar ons het intussen nie net gryser geraak nie, maar ook wyser geword. Ons verstaan ...

Geniet julle skooljaar en as julle 'n tydjie in julle besige program kan afknyp, kom drink 'n koppie koffie en kom eet 'n heerlike stukkie tuisgebakte beskuit.

Monday, 11 April 2022

Vandag se internetgebed vir jou

Gebed vir ons kleinkinders

Ons grootouers vra U vandag om ons kleinkinders te bewaar
Teen elke dag se monsters, donker en gevaar
Jesus, hou hul hartjies en handjies styf vas
Maak hul lag, en elke dag se takies nie ‘n las

Dra hulle deur elke dag se alleen en siekte
Maak hul bewus van U Vaderlike liefde
Ongeag of hul val, struikel of sukses behaal
Hul weet U Koninkryk is die eindpaal

Maak hul ogies oop om regte besluite te neem
Leer hul om hul nie van die goeie te vervreem
Laat hul hartjies die wonder van vriendskap beleef
Gee hul die moed en krag om U Naam uit te leef.

[Geleen]

Saturday, 25 April 2020

Net 'n oproep ver van jou

Jou ouers is net 'n oproep ver van jou en jou familie. Bederf hulle met 'n ekstra oproep in hierdie grendeltyd. Bring 'n bietjie nuus van buite die mure van die ouetehuis. Vertel hoe dit met die familie gaan - hulle wil graag weet hoe dit gaan. 

Hulle wag vir jou oproep!

Saturday, 18 April 2020

Liewe Kinders

Onthou om, veral in hierdie grendeltyd, so 'n ekstra oproep of twee na Ons Huis te maak en met jou ma of pa te praat. 'n Telefoonkuier is net so 'n lekker kuier. Verbreed die vier mure van die kamer en bring so 'n stukkie van die buitewêreld na die klein kamertjie.

Sosiale kontak is afwesig -  kinders, vriende en kerklimate wat gewoonlik by die inwoners kom kuier het, kan nie meer nie.

Ouers is ook bekommerd oor die gesondheid van hulle kinders en kleinkinders. Kontak hulle en stel hulle gerus.

Geniet 'n foonkuier en sit 'n bietjie kleur in 'n vaal dag. 

Foongroete! 

Thursday, 8 November 2018

Tuesday, 7 August 2018

Tuesday, 3 April 2018

Dankie!

'n Langnaweek hou ook heerlike voordele vir 'n senior burger in. Onverwagte kuiers van die kinders en kleinkinders is altyd 'n bonus!

Friday, 5 January 2018

Aan al ons kleinkinders...

Die oupas en oumas van "Ons Huis" is baie trots op hulle matriek-kleinkinders wat ook hierdie mylpaal suksesvol behaal het.

Sterkte op julle lewenspad vorentoe.