Showing posts with label Potpourri. Show all posts
Showing posts with label Potpourri. Show all posts

Thursday, 19 March 2026

Terugflits: Noem hom op sy naam

'n Heerlike leesstukkie wat vra om 'n tweede keer gelees te word. Proe die woordspeling op die tong. 

Dit was liefde met die eerste oogopslag vir Daniël van Daniëlskuil en Mary van Marydale toe hulle albei toevallig koffie op Koffiefontein bestel het. 

Hy was 'n fiksheidsintrukteur van Ficksburg en sy was 'n jong weduwee van Richmond. Hoewel albei in hul dertigs was, wou Daniël graag op die tradisionele manier ouers vra op Askham.

Hy was angstig dat hulle dalk stry sou kry op Strydenburg, hy hulle dalk sou moes soebat op Soebatsfontein of hulle hom dalk verkeerd sou verstaan op Verkeerdevlei, maar haar ouers het naby Vrede geboer en minder as 'n maand later het hulle die knoop in Welkom deurgehak.

Dit was die troue van die jaar waar geen uitgawe ontsien is nie. Net die beste was goed genoeg vir sy Mary. Rose uit Rosendal, die res van die blomme uit Bloemfontein, hoenderpastei uit Hennenman en springbokpatee uit Springbok.

Die hele familie het die uitnodigings aanvaar. Die Van Wyks van Van Wyksvlei, die Rouxs van Rouxville, die Jacobse van Jacobsdal, die Viljoens van Viljoenskroon, die Groblers van Groblershoop en die Van Zyl's van Van Zylsrus.

Die Wesselse van Wesselsbron het ongelukkig 'n groot krisis gehad en moes die uitnodiging gedweë van die hand wys.

Ds. Boshof van Boshof het die egpaar in die huwelik bevestig. Daar is tot laatnag in die groot saal gekuier en gelangarm. Daniël en Mary was albei stralend gelukkig.

Die meeste gaste het eers in Odendaalsrus en Steynsrus oornag voordat hulle die lang pad terug huis toe aangedurf het.

Daniël het vir Mary 'n spoghuis op Hobhouse gekoop, maar toe Mary hul eerste kleinding verwag, het hulle tweeling toe verhuis.

Albei was verras oor hoe ongelooflik hul lewens verander het. En dit alles het begin met net een koppie koffie op Koffiefontein.  

[Karin Muller: Noordkaap 2014-04-22. Besoek gerus die Noordkaap Bulletin en lees hulle weeklikse rubrieke - daar is baie pitkos in hierdie rubrieke.]

Friday, 19 July 2024

Vrydag-terugflits: Die storie agter 'n mandjie

Die rye is lank.

Jy het vergeet hoe besig dit dié tyd op 'n Saterdagoggend in die supermark is. Jou oë val op die inhoud van die mandjies en waentjies van die ander mense in die ry.

Die een voor jou gaan vleis braai. Daar is pakkies vleis en wors, vuuraanstekers, koeldrank en brikette in sy waentjie. Voor hom is 'n oupa wat pakkies lekkers op die rak by die betaalpunt uitsoek. Eindelik besluit hy op'n pakkie en neem vier van dieselfde soort. Die boodskap is duidelik: Ouma het hom gestuur, want die vier kleinkinders kom kuier. Die lekkers moet presies dieselfde wees om konflik te vermy.

Jy draai effens skuins en die vroutjie agter jou se mandjie tref jou oog: een pakkie katkos, 'n tydskrif, een bakkie lasagne wat opgewarm kan word en 'n groot blok sjokolade. Jy staan ingedagte voor jou. Sy is waarskynlik 'n oujongnooi wat naweke alleen met haar kat deurbring.

Dit is jou beurt om te betaal en soos jy gewoonlik die inhoud van jou mandjie uitpak, wonder jy watter storie dit van jou vertel. Daar is piesangs en skoenpolitoer 'n pakkie papegaaikos, 'n sak hondekos en 'n lekkerny vir die kat. Dit sou seker daarop kon dui dat jy 'n diereliefhebber is. Oor die res is jy nie heeltemal seker nie.

Dan besef jy daar is 'n paar moontlikhede vir alle mandjies se inhoud en dat alles nie net voor die hand liggend verklaar kan word soos jy graag sou wou nie. Die vrou agter jou versorg dalk haar buurvrou se kat en die blok sjokolade is moontlik vir 'n kollega wat verjaar. En jy besef hoe bevooroordeeld 'n mens kan wees as jy nie die storie agter iemand se mandjie ken nie.

[Bron: Noordkaap - Potpurri - Karin Muller]

Friday, 5 July 2024

Vrydag-terugflits: Elkeen is uniek ...

Min of meer alle begrippe in ons taal wat tyd of hoeveelheid aandui of beskrywend is, is relatief van aard.

Wat die modebewustes as elegant bestempel, mag jy as skreeulelik ervaar.

Terwyl een persoon mag dink die werk is onmoontlik baie, mag dit dalk vir iemand anders haalbaar wees.

As jy min geslaap het, mag iemand anders dit as heeltemal voldoende beskou. Wat vir die een persoon baie is, is vir die volgende persoon min. Wat vir die een persoon lank is, mag vir 'n ander persoon kort wees.

Alles hang van jou verwysingsraamwerk af. As jy met die minimum moet klaarkom, kan jy nie verstaan waarom sekere artikels as winskope bemark word nie. Die hoeveelheid kos of slaap of werk of ontspanning waaraan jy gewoond is, is nie noodwendig waaraan ander mense gewoond is nie.

Wonder jy waarom mense wat jy dink 'n groot inkomste verdien steeds skuld het, sal daar iemand anders wees wat dieselfde oor jou wonder aangesien hulle minder as jy verdien.

Inwoners van Hartswater of Hopetown mag Kimberley as 'n stad beskou. As jy in Kimberley woon, voel jy waarskynlik dat Bloemfontein 'n stad is. As Bloemfonteiner sal jy heel moontlik Pretoria, Kaapstad of Durban as 'n stad bestempel. Daar sal altyd iemand wees wat meer of minder het en daar sal altyd iemand wees wat meer of minder doen.

Ons verwysingsraamwerk is so uniek soos ons menswees. Soos 'n vingerafdruk of DNS waarvan geen mens s'n dieselfde is nie. Al veroorsaak dit soms konflik is dit ook wat interessantheid en verskeidenheid aan die lewe verleen.

[Bron: Noordkaap - Potpurri - Karin Muller] 

Friday, 21 June 2024

Vrydag-terugflits: Kersies van dank vir reën

Daar is iets in elke gemeente wat dit uniek maak.

In ons gemeente kry gemeentelede een keer per maand die geleentheid om 'n kersie te laat aansteek.

Die lang ry kersies op die preekstoel is daar om voorbidding te doen of dankie te sê. Oor die jare heen is daar kersies vir 'n verskeidenheid beproewinge aangesteek. Tussen al die kersies is daar een wat herhaaldelik aangesteek word - 'n gebed vir reën.

Aangesien reën in ons streek skaars is, is daar meer geleentheid om daarvoor te bid as om dankie te sê vir dit wat wel geval het.

Nog 'n gebruik wat ons gemeente kenmerk, is die dankofferdiens wat die eerste Sondag in November gehou word.

Die meeste motors word tuis gelos en lidmate stap kerk toe, koevertjie in die hand.

Die oggenddiens word in die ope lug op die gras gehou. Gemeentelede kuier gesellig saam en die dankbaarheid in die atmosfeer kan oor 'n afstand aangevoel word.

Die koevertjies en stapskoene vir dié jaar se dankofferdiens is betyds reggesit.

Maar die oggend van die dankofferfees kon die meeste lidmate nie kerk toe stap nie.

Nie omdat hulle siek of swak of laat was nie, maar omdat dit die vorige twee dae gereën het en die belofte van meer reën swaar in die lug gehang het.

Die dankofferfees is vanjaar in die kerkgebou gehou, maar met 'n gevoel van groter dankbaarheid as voorheen. Al die gebede wat vir reën opgegaan het, is verhoor. En daar is geen groter dankbaarheid as vir dié ongelooflike seën nie.  

[Dankie vir Anoniem wat die uitknipsel gestuur het. Besoek gerus Netwerk24 (Noordkaap Bulletin) se gereelde rubrieke - daar is baie stof tot nadenke in hierdie rubrieke.]

Wednesday, 22 May 2024

Terugflits: Elke nuwe dag bring hoop

My swaer is in die hospitaal. Baie mense word in die hospitaal opgeneem: dit is nie vreemd nie.

Wat egter vreemd is, is dat ons daarop voorberei was dat hy ná 'n groot operasie 'n week of twee in die hospitaal sou wees, maar dat dit nou al etlike maande later is. Daar is boonop nie 'n definitiewe ontslagdatum in die vooruitsig nie.

Baie mense sal getuig hoe moeilik dit is om iemand oor 'n afstand te ondersteun. As jy naby is, kan jy dié wie se hart seer is, vir 'n koppie koffie of 'n fliek uitneem. Weinig woorde is werklik nodig. Jy kan die pasiënt se kussings oppof en langs sy bed sit en boek lees. Daarvoor is ook min woorde nodig.

As jy ver is, is woorde amper die enigste metode van ondersteuning tot jou beskikking. Wat moet jy sê? In die eerste paar weke is dit maklik. Ná 'n paar maande word dit moeiliker. Jy soek na die regte woorde vir die pasiënt. Jy soek na die regte woorde vir die naaste familie en vriende. Jy soek selfs naarstiglik na die regte woorde vir jouself.

Een ding wat ek uit die afgelope paar maande geleer het, is dat die mens wonderlik aanmekaar gesit is. Van tyd tot tyd raak my swaer moedeloos, selfs verbitterd. Onder omstandighede is dit heeltemal normaal. Heeltemal verstaanbaar. Praat jy op so 'n dag met hom getuig sy gemoed van min hoop.

Praat jy egter die volgende dag met hom is sy gemoedstoestand heelwat beter. Hy getuig van weke wat hy in dae opbreek om dit net meer hanteerbaar te maak. Hy praat van mense wat sieker as hy is, vir wie hy bemoedig. Hy vertel van oproepe van oorses vriende wat hom ondersteun.

Ná alles is dit wat ons het - hoop dat die dag van môre beter sal wees. 

Elke nuwe dag begin met nuwe hoop.  

[Bron: Noordkaap - Potpourri - Karin Muller - gaan lees gerus hierdie rubrieke HIER en ondersteun die media waarsonder die man in die straat nie kan nie.]

Dankie, Anoniem, dat jy hierdie Potpourri met ons deel, nadat hierdie stukkie jou bemoediging was.