Wednesday, 22 May 2024

Terugflits: Elke nuwe dag bring hoop

My swaer is in die hospitaal. Baie mense word in die hospitaal opgeneem: dit is nie vreemd nie.

Wat egter vreemd is, is dat ons daarop voorberei was dat hy ná 'n groot operasie 'n week of twee in die hospitaal sou wees, maar dat dit nou al etlike maande later is. Daar is boonop nie 'n definitiewe ontslagdatum in die vooruitsig nie.

Baie mense sal getuig hoe moeilik dit is om iemand oor 'n afstand te ondersteun. As jy naby is, kan jy dié wie se hart seer is, vir 'n koppie koffie of 'n fliek uitneem. Weinig woorde is werklik nodig. Jy kan die pasiënt se kussings oppof en langs sy bed sit en boek lees. Daarvoor is ook min woorde nodig.

As jy ver is, is woorde amper die enigste metode van ondersteuning tot jou beskikking. Wat moet jy sê? In die eerste paar weke is dit maklik. Ná 'n paar maande word dit moeiliker. Jy soek na die regte woorde vir die pasiënt. Jy soek na die regte woorde vir die naaste familie en vriende. Jy soek selfs naarstiglik na die regte woorde vir jouself.

Een ding wat ek uit die afgelope paar maande geleer het, is dat die mens wonderlik aanmekaar gesit is. Van tyd tot tyd raak my swaer moedeloos, selfs verbitterd. Onder omstandighede is dit heeltemal normaal. Heeltemal verstaanbaar. Praat jy op so 'n dag met hom getuig sy gemoed van min hoop.

Praat jy egter die volgende dag met hom is sy gemoedstoestand heelwat beter. Hy getuig van weke wat hy in dae opbreek om dit net meer hanteerbaar te maak. Hy praat van mense wat sieker as hy is, vir wie hy bemoedig. Hy vertel van oproepe van oorses vriende wat hom ondersteun.

Ná alles is dit wat ons het - hoop dat die dag van môre beter sal wees. 

Elke nuwe dag begin met nuwe hoop.  

[Bron: Noordkaap - Potpourri - Karin Muller - gaan lees gerus hierdie rubrieke HIER en ondersteun die media waarsonder die man in die straat nie kan nie.]

Dankie, Anoniem, dat jy hierdie Potpourri met ons deel, nadat hierdie stukkie jou bemoediging was.

No comments:

Post a Comment