Hannes skryf van die man wat duim gegooi het en wat hy in die truspieëltjie dopgehou het. Indien 'n motor van daardie kant af kom, staan hy daardie kant en duimgooi en as daar 'n motor van die ander kant af kom, gaan staan hy weer daardie kant. Jy kan tog nie in al twee rigtings op pad wees nie.
So, toe hy weer sy duim uithou vir die aankomende voertuig na regs en ek links in die pad indraai, vra ek hom: "Watter kant toe gaan jy nou eintlik?"
Hy antwoord ewe plegtig""Dit maak nie eintlik saak waarheen nie, Meneer, solank ek net hier wegkom."
Hy kon seker my verbasing sien, want voordat ek nog iets kan vra, antwoord hy self verder: "As die karre dié kant kom, gaan ek dié kant toe, as die karre daai kant kom, gaan ek daai kant toe, maar Meneer sien, as ek net dié kant toe of net daai kant toe gaan, staan ek vanaand nog hier."
Hy het geleer om iewers te kom, moet hy net eers wegkom van waar hy nou is. Dit kan beteken dat hy soms na twee kante toe moet kyk en duimry. Kyk hy net een kant toe, sit hy vanaand nog daar.
Nogal 'n interessante uitkyk hierdie van hom. Soms is 'n mens spesifiek op pad iewers heen, dan het jou lewe sin en loop jy doelgerig. Ander kere is die rigting soms 'n bietjie vaag en jy so 'n bietjie onseker. Dan is dit dalk 'n goeie ding om nie net te sit nie, maar net te begin beweeg. Soms weet 'n mens nie watter kant toe nie, moenie sit en wag nie, begin net iets doen.
Begin net.
No comments:
Post a Comment