Showing posts with label Dissipels. Show all posts
Showing posts with label Dissipels. Show all posts

Thursday, 21 July 2022

Hoe lyk die lewe van ’n ware dissipel van Jesus?

Theo Geyser gee die beste samevatting van wat 'n ware dissipel is. Maak hierdie samevatting jou eie in jou lewe as dissipel van Jesus.

– Dissipels laat toe dat ander hulle blinde kolle aan die lig bring.

– Dissipels weet wie hulle vandag liefgehad het.

– Dissipels leef met die regte vrae, nie met die regte antwoorde nie.

– Dissipels ken stilte voor woorde.

– Dissipels weet die koninkryk van God is binne-in hulle.

– Dissipels weet hoe om elke dag dood te gaan.

– Dissipels is gedurig besig om balke te saag sodat die splinters hulle nie pla nie.

– Dissipels kies transformasie bo informasie.

– Dissipels offer nie net gebede aan God nie, maar wórd die gebede.

– Dissipels weet dat elke goeie somer deur ’n goeie winter moontlik gemaak word.

– Dissipels leef vanuit die oorvloed van eenvoud.

Here Jesus, dankie dat ek u dissipel kan wees. Maak my gewillig in my diens aan U, sodat ander ook u liefde en genade deur my kan ervaar. Dankie dat ek voluit kan leef omdat ek weet U is altyd by my. Amen. 

Sunday, 23 May 2021

Om op water te loop (1)


Die dissipels was een nag besig om vis te vang toe 'n storm opsteek. Teen drie-uur het hulle 'n figuur op die water na hulle sien aankom. '...Jesus het dadelik...gesê: "Toemaar, moet julle nie ontstel nie. Dit is Ek." Petrus sê toe..."Here, as dit regtig U is, laat my dan op die water na U toe kom." "Kom dan," het Jesus gesê." Petrus klim toe oor die kant van die skuit en begin op die water na Jesus toe loop.' (verse 27-29). Hierdie verhaal leer ons eerstens dat as die opdrag nie van God kom nie, ons dit nie moet doen nie.

Daar is 'n verhaaltjie van 'n man by die poorte van die hemel. Petrus sê: 'Noem een groot daad van jou.' Die man antwoord, 'Wel, ek het 'n vrou gehelp wat deur 'n groep skobbejakke aangeval is.' Hoogs beïndruk vra Petrus: 'Wanneer het dit gebeur?' Die man antwoord: 'Ongeveer 30 sekondes gelede!' Ten einde op die water te kan loop, moet jy onderskei tussen God se stem en jou eie impulse.

Tweedens, dit leer dat om wonderwerke te belewe, dit nodig is om uit ons gemaksone te beweeg. Verbeel jou jy is Petrus. Die storm woed en jy is bang. Die skuit is veilig en gemaklik. Jy sou ook net daar wou bly. Jy mag egter nie, want God het jou geskape om meer te bereik; Hy roep jou om in vertroue te waag en wonders te laat gebeur. Wat is jou skuit?' Enigiets waarop jy vertrou wanneer die storm woed, enigiets wat jou in jou gemaksone hou. Die vreesaanjaendste, maar mees lonende stap wat jy ooit sal neem, is om uit te klim.