Die dissipels was een nag besig om vis te vang toe
'n storm opsteek. Teen drie-uur het hulle 'n figuur op die water na hulle sien
aankom. '...Jesus het dadelik...gesê: "Toemaar, moet julle nie ontstel
nie. Dit is Ek." Petrus sê toe..."Here, as dit regtig U is, laat my
dan op die water na U toe kom." "Kom dan," het Jesus gesê."
Petrus klim toe oor die kant van die skuit en begin op die water na Jesus toe loop.'
(verse 27-29). Hierdie verhaal leer ons eerstens dat as die opdrag nie van God
kom nie, ons dit nie moet doen nie.
Daar is 'n verhaaltjie van 'n man by die poorte van die
hemel. Petrus sê: 'Noem een groot daad van jou.' Die man antwoord, 'Wel, ek het
'n vrou gehelp wat deur 'n groep skobbejakke aangeval is.' Hoogs beïndruk vra
Petrus: 'Wanneer het dit gebeur?' Die man antwoord: 'Ongeveer 30 sekondes
gelede!' Ten einde op die water te kan loop, moet jy onderskei tussen God se
stem en jou eie impulse.
Tweedens, dit leer dat om wonderwerke te belewe, dit
nodig is om uit ons gemaksone te beweeg. Verbeel jou jy is Petrus. Die storm
woed en jy is bang. Die skuit is veilig en gemaklik. Jy sou ook net daar wou
bly. Jy mag egter nie, want God het jou geskape om meer te bereik; Hy roep jou
om in vertroue te waag en wonders te laat gebeur. Wat is jou skuit?' Enigiets
waarop jy vertrou wanneer die storm woed, enigiets wat jou in jou gemaksone
hou. Die vreesaanjaendste, maar mees lonende stap wat jy ooit sal neem, is om
uit te klim.
Bron: Radiokansel
No comments:
Post a Comment