Saturday 15 May 2021

Mooiste gebed wat iemand op facebook deel ...

"... haar oë het in my hart gaan klim, Here. 
Stukkende, verwarde oë wat sukkel om verder
as die foon in haar hand te kyk. 
Sy wil vir haar hart se mens gaan kuier,
dalk vir oulaas groet daar in die staatshospitaal. 
Maar sy sukkel om 'n permit te kry. 
En sy weet nie of die virus haar by die hospitaal se deur gaan inlaat nie.
 
Dit is asof die wind hierdie jaar oornag stormsterkte deur ons harte begin waai het, Here. 
Ons verlang na onse hart se mense wat net anderkant ons dorpie se grens bly. 
Die oom oorkant die pad se hart is stukkend oor sy bejaarde, siek vrou wat nou al vir maande in die aftree-oord se frailcare lê. 
Hy mag haar nie sien nie ... want dit is die nuwe reëls, Here. 
En sy verstaan dit nie. 
En hy ook nie. 
Hy is bang sy gaan van hom vergeet.

My buurman het vir 'n paar maande nou al net 'n stukkie van sy salaris gekry ...
en hierdie maand is daar skielik niks. 
Hoe verduidelik mens vir 'n vierjarige dat daar nie meer geld is nie ... ook nie vir kos nie? 
Hoe doen 'n mens dit, Here?

Die een na die ander winkels sluit hulle deure teen die storm daar buite ...
en binne-in hulle huise, huil hulle oor hul drome wat sommer net weggewaai het.
Binne-in hulle huise, maak hulle beangs planne om brood te kry en 'n kospakkie vir die wat vir hulle gewerk het te kan gee.
Binne-in hulle huise word die laaste geld in hopies gemaak om te kyk vir hoeveel weke daar nog ietsie oor is. 
Die storm in ons land maak merke op ons hart ... Here.
Dit steek mense se gesels en lag en saamwees weg onder 'n masker. 
Dit gaan sit in mense se oë.
Hierdie storm is besig om tot diep in ons harte te gaan kruip, Here.
En baie dae voel U so ver weg. 
Terwyl ons weet dat U eintlik naby is.
Die aanlyn-kerk sê U Woord sê so, Here. 
Maar dit maak nie ons baklei om bo te bly, makliker nie. 
Dalk is dit hoe die dissipels ook destyds gevoel het, daar alleen in hulle skuitjie,
met net die wind en die blitse en die verskriklike groot golwe om hulle. 
En toe U naderkom, het hulle gedink U is 'n spook, Here.
En toe klim U in hulle skuitjie, en maak die storm stil ... Sommer net so.
En hulle raak rustig.

Die land se storm het in ons harte gaan lê, Here. 
Ons weet nie meer wat en hoe ons moet bid nie.
Partykeer bid ons nie meer nie, ons probeer net oorleef.
Wil U genadiglik bo-oor ons land se storm kom loop en in ons harte kom inklim ... Asseblief, Here. 
Ons het nie beheer oor die storm nie.
Het nog nooit gehad nie.
Maar U het. Here ...
Dankie!! ... dat U nie vir 'n oomblik wegkyk van ons nie. 
Nie vir 'n oomblik nie.
-   Dankie dat U weet presies hoe sterk die wind in elkeen van ons se harte waai.
-   Dankie dat U presies weet hoeveel elkeen van U kinders kan dra. 
-   Dankie dat U stil in ons hart se storm instap, U arms om ons vou en saggies vir ons U vrede gee. 
U vrede wat heers oor elke storm, elke siekte, elke grens, elke hospitaalkamer, elke Frailcare ...
U vrede wat saggies om ons vou en ons help om verby die wind te kyk, en die liefde en deernis en omgee in U oë raak te sien. 
Dankie Vader dat U steeds na my hart toe stap, al sien ek net die wind en die weer om my raak. 
Dankie dat ook my bootjie in hierdie storm vir U saak maak. 
Dankie dat ook ek U stem mag hoor wat saggies vir my sê: 
Moenie bang wees nie ... Dit is Ek.
En as die GROOT "EK IS" deur my hart se storm stap, buig die blitse en die wind en die reën eerbiedig voor U neer ... Elke keer en altyd.
Daarom sal ek nie bang wees nie, want ... 
In U hande is ek veilig".

No comments:

Post a Comment