Jy was ongeneeslik fluks. Tot my
ongeneeslike irritasie, veral toe ek ‘n tiener was wat net wou lees en droom.
Ek sien jou weer in Sutherland se koue verbystoom met opgeskuifde moue. Ek kla
ek kry koud. “Jy moet net werk, my kind!” Jou werksetiek was so onvernietigbaar
dat ek in my lewe nooit, ooit vir ‘n oomblik sal kan lui wees sonder dat my
gewete my bloots ry nie. Jy was ongeneeslik onselfsugtig. Ek wens ek kon net
naastenby so wees. Ek werk al jare lank hard daaraan om hierdie erfenis opsy te
skuif. Ek kan nou al selfs my persoonlike behoeftes voor dié van my gesin stel.
Soms. Vir ‘n klein rukkie.
Jy was die nederigste mens wat ek ooit
geken het. Toe jy oud en swak was en ek dit verskriklik gevind het om jou in
die stort te moet help, het jy met daai twee diepbruin oë na my toe opgekyk en
ek het geen vernedering of seergemaakte trots daarin gesien het. Net vertroue.
En dit het ‘n vreugde geword om jou te help.
Saluut, ouma Sannie! Ek kan nie glo dis al
ses jaar nie. En ja, ek dink nog steeds soms wat ek in daardie laaste tyd
anders sou doen as weer die kans kon kry. En is steeds nederig dankbaar dat ek
die een kon wees wat jou laaste nag met jou kon deel, wat jou hand tot die
einde kon houvas en nou jou eenvoudige trouring met trots en liefde kan dra.
NS. En nee, ek het haar nooit, ooit gejy en
gejou nie.
NS. En ja, ek sit met ‘n glas wyn en tjank
dat dit klap. Ek hoop my lesers ook – dis goed vir die gees.
[Hierdie stukkie pos het anoniem op my tafel geland. Ek weet nie wie dit geskryf het nie en ook nie wie die besondere ouma Sannie was nie. Maar ek deel dit graag met almal wat al hierdie paadjie geloop het. Indien iemand weet, stuur asb. die besonderhede.]
Klik HIER vir nog Moedersdagwense.
No comments:
Post a Comment