Sunday 30 May 2021

Om op water te loop (2)


Toe Petrus seker was dit is Jesus wat hom roep, het hy die veiligheid van die skuit verlaat en homself aan die krag van God toevertrou. 'Maar toe hy die hoë golwe rondom hom sien, het hy paniekerig geword en begin sink. Hy skree toe vir Jesus: "Here, red my!" (Matteus 14:30).

Fokus tydens jou storms eerder op die Here, en nie die storm nie.

Ons weet almal hoe dit voel om 'die hoë golwe te sien'.

Jy pak 'n nuwe uitdaging - 'n ander betrekking, verhouding, geestelike groeipad - vol moed aan, net om deur storms en terugslae gestuit te word. Jesus het gesê: 'In die wêreld sal julle swaarkry beleef ...' (Johannes 16:33). Wees bedag daarop; dis deel van die geloofsreis. Jy moet ten spyte van jou vrees voortgaan. Groei vereis dat jy nuwe uitdagings aanpak. Jy sal elke keer bang wees, want groei en vrees loop hand aan hand. Elke keer wat jy dit egter waag om uit die skuit te klim, sal jy 'n groter kans hê om dit weer te doen. Elke keer wat jy dit op die water waag sonder om te sink, sal jy besef dat vrees jou nie langer gevange hou nie.

Bowendien, om in die skuit te bly, kan ook nie jou veiligheid verseker nie. Die teenvoeter vir vrees is om elke dag bietjie meer uit die skuit te kom, totdat vrees uiteindelik geen houvas op jou meer het nie.

Bron: Radiokansel (Inhoud aangepas)

No comments:

Post a Comment