Showing posts with label Schalk Pienaar. Show all posts
Showing posts with label Schalk Pienaar. Show all posts

Sunday, 13 January 2019

1944 - 2004: 60 genadejare ...

'n Boekmerk wat deur mnr. Schalk Pienaar vir die ouetehuis geskenk is wat hulle ontvang het met die 60-jarige vieringe van Ons Huis in 2004.

Sulke aandenkings dra by tot die bou van die geskiedenis van Ons Huis. Enige een met foto's, staaltjies en stories stuur dit gerus aan die e-posadres op die blog.

Ons sien uit daarna om van u te hoor!

Tuesday, 10 April 2018

Skryf: Stories van gister...

Terwyl daar so heerlik om 'n koppie tee gekuier word en baie  "gister-stories" vertel word, bestaan daar 'n behoefte om daardie stories op papier neer te pen. Dis stories en gebeure waarvan vandag se jongmense niks weet nie.
Neem asb. die pen op en skryf daardie stories neer. E-pos dit aan aldawelman@gmail.com of stuur dit na Schalk Pienaar, Posbus 10258, Beaconsfield, 8301

Tuesday, 9 January 2018

Twee geslagte was al inwoners...

Ronell en Alda Pienaar wat ook graag hoede van
Miem Jacobs gedra het.
Baie dekades terug was mnr. en mev. Van der Bank inwoners van Ons Huis. Hulle was van Douglas, waar mnr. Van der Bank 'n plaasbestuurder was. Hulle een dogter, Miem Jacobs, was baie jare later ook 'n inwoner van Ons Huis.

Miem Jacobs het al die jare in Freemanplek 3A gebly en almal in Kimberley het die kort, klein kunstige vroutjie geken. Sy was kreatief en die kunstalent het sommer in sulke dik strome deur haar are geloop. Sy kon in verskeie mediums werk. Dit was net deel van wie sy was.

Sy het in die sestiger en sewentiger jare o.a. hoede gemaak. In daardie jare het almal hoede kerk toe gedra, biduur toe en na spesiale geleenthede. Sy het nie net hoede vir belangrike geleenthede gemaak nie, sy het ook hoede gemaak wat by jou persoonlikheid en jou hartsbegeertes pas.

Dit was nie ongewoon vir mense om met hulle rok of pakkie by haar aan te kom en dan moes sy 'n unieke hoed ontwerp om die uitrusting af te rond nie. Mense wat nie van winkelhoede gehou het nie, kon verseker wees dat dit wat jy gekry het, is dit wat jy graag wou hê. 

Sy het ook gereeld kursusse in hoedemakery aangebied, wat baie gewild was.

[Inligting: Mnr. Schalk Pienaar - kassier van gemeente vanaf 1961 - 2016]

Friday, 5 January 2018

Die ouderling met die waterwysvermoë...

Van ouderling Hawie gepraat, hy was 'n man van vele talente...

Die magnetiese veld van die aarde werk op baie mense en oom Hawie was een van hulle -  hy kon water wys! Kort nadat ds. JH Siebert in 1968 in die gemeente begin werk het, het die kerkraad besluit om te boor vir water.

Oom Hawie het die betrokke dag eers met 'n stok en daarna met 'n bottel water geloop... Voetjie vir voetjie het hy agter die kerksaal geloop... die ene konsentrasie in die maer lyf. Ondergrondse water werk op hom, dis 'n gawe wat hy het en wat hy tot voordeel van die kerk gaan aanwend... 'n hele klompie toeskouers hou die petalje dop - die wat glo dat dit werk en natuurlik is daar die skeptici wat in hulle hart hoop dit werk nie - die plek waar hulle kan boor, word gemerk.

Mev. Siebert het ook geloop en alhoewel sy ligte tekens van water gekry het, was dit nie naastenby so sterk soos oom Hawie s'n nie. 

Tot almal se groot vreugde word sterk water gekry en die boorgat voorsien vandag nog die kerkgronde van water!

[Inligting: Mnr. Schalk Pienaar - kassier van gemeente vanaf 1961 - 2016]

Thursday, 4 January 2018

Ons Huis se ouderling met 'n roeping!

DIE BESTUUR VAN DIE MSB
Voor: Mnre. PS Venter (sekretaris), AJ van
der Merwe (voorsitter), JP Havenga (o/voorsitter)
Agter: Ds. JH Siebert, FR Maré (tesourier)
Bron: Dutoitspan Kimberley
Mnr. JP Havenga of beter bekend as oom Hawie van Freemanplek, was definitief die aktiefste en getrouste ouderling in die bestaan van die NG Gemeente, Dutoitspan Kimberley. Hy was die ouetehuis, wat binne die gemeente se grense val, se ouderling... tot hulle groot voordeel.

Oom Hawie was iemand met 'n passie vir dit wat hy gedoen het en iemand wat nie te bang was om die ekstra myl te loop nie.

Hy was reeds in ds. WJ Steenkamp se tyd (https://dutoitspan.blogspot.co.za/p/predikante.html) in die vroeë sestigerjare, hulle ouderling.

Wat het oom Hawie so besonders gemaak?

Hy was elke dag dáár - hy het dienste vir die inwoners gehou, bidure, aandgodsdiens, saam met hulle tee gedrink, soms sommer vir aandete gebly, miskien die nuus saam met hulle gekyk, maar hy het altyd die belange van die inwoners op sy hart gedra. Elke Sondag in die konsistorie het hy verslag gedoen en was die predikant en die kerkraad op hoogte van elke sieke, elkeen wat 'n familielid aan die dood moes afstaan, vreugdes van kinders en kleinkinders, maar hulle het ook geweet wie 'n behoefte aan 'n predikantsbesoek gehad het.

Hy het altyd ouetehuis toe gestap en praatjies langs die pad met mense en gemeentelede aangeknoop. Nooit weer was daar 'n ouderling van sy kaliber nie. Met sy afsterwe het die ouetehuis hulle ambassadeur verloor.  

Elke aftree-oord het eintlik 'n ouderling soos oom Hawie nodig!!

[Inligting: Mnr. Schalk Pienaar - kassier van gemeente vanaf 1961 - 2016]