Sunday, 5 July 2026

Oomblik van stilte: 'n Wag voor my mond

"Here, stel 'n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe.
" Psalm 141:3

Praterigheid is uiters noodlottig vir geestelike diepte. Die wesenlike lewe van ons gees vloei uit in ons spraak, en gevolglik is alle onnodige gepraat 'n verspilling van die lewenskragtigheid van die siel.

In vrugtekwekerye gebeur dit dikwels dat te veel bloeisels 'n goeie oes belemmer en selfs vrugte heeltemal uitskakel. Op dieselfde wyse maak praterigheid 'n siel vol bloeisels wat geen vrugte voortbring nie. Die ware aksie van die hart, in 'n paar goed gekose woorde in die Gees van God, sal in die gedagtes insink om vir altyd daar te bly; maar as dit verkwis word in 'n voortrammelende gesprek, lewer dit geen wins op nie. Dit is een van die grootste struikelblokke op weg na 'n dieper blywende gemeenskap met God.

Let op hoe mense dieselfde ding oor en oor kan vertel:
* hoe nietige gevalle vergroot en opgehelder word deur 'n wêreld van woord; 
* hoe dinge wat begrawe behoort te bly, uitgesleep word vir skinderdoeleindes;  
* hoe 'n waardelose onbenulligheid beredeneer en betwis word;
* hoe oor plegtige, diep dinge van die Heilige Gees op lughartige en oppervlakkige wyse gepraat word;
totdat iemand wat die doop van ware stilte in sy hart ontvang het, voel dat hy na 'n eensame hoekie moet vlug om die flarde van sy gemoed weer bymekaar te maak en sy rus in God terug te vind.

As ons al die tyd wat ons aan nuttelose geselskap bestee, liewer gebuik om Bybelstudie te doen of aan afgesonderde gebed te wy, sal ons spoedig 'n diepe sielerus en innerlike vrede ondervind.

Ons het nie net 'n reiniging van sonde nodig nie, maar 'n radikale sterwe aan ons eie lawaai, grootpraterigheid en praatsug.

Die genesing van praatsug kom van binne. Bid dat God 'n wag voor jou mond sal plaas en ervaar 'n geestelike verdieping in die stilte rondom jou.

[Die Kruisgesant]   

No comments:

Post a Comment