Showing posts with label Daniël. Show all posts
Showing posts with label Daniël. Show all posts

Sunday, 31 May 2026

Oomblik van stilte: Dan. 3:25

Kyk ek sien vier manne los binne-in die vuur wandel sonder dat daar 'n letsel aan hulle is; en die voorkoms van die vierde lyk soos 'n godeseun.

Drie manne wat weier om te buig voor 'n ander god as net die Almagtige God.

Hulle is geboei, binne in die uitermate verhitte vuur gegooi, so warm dat die manne wat hulle ingegooi het, verbrand het.

Let op, God neem nie die vuur weg nie, maar stuur sy Seun om hulle genadiglik by te staan en te red.

Die satan wil jou vernietig, hy sal die lewe vir jou hel maak, en selfs erger as wat jy verwag. Maar, Jesus se genade sal jou deurdra, al is jy geboei en magteloos en kan jy niks uitrig om jouself te red nie.

Al weet jy, jy doen reg, sal die vyand jou onverhoeds betrap. Jy sal van die hewigste en velste aanslae moet trotseer, maar God sal jou uitred uit die alles.

Om jou, kan die vyand selfs sterf, maar jy sal vry uitloop, omdat Christus se barmhartigheid vir jou gegee is.

Vers 30: Toe het die koning Sadrag, Mesag en Abednégo voorspoedig laat wees in die provinsie Babel.

My God en my koning, ek verbly my in u Naam! Vir ewig en altyd is U koning van alles wat is, want U is Skepper van als. Hoog en verhewe is u Naam. Selfs in die dal van doodskaduwee sal U my deurlei. Ek buig net voor U, Allerhoogste God en Vader. U sal altyd met my wees en almal sal sien, maar God se Seun is saam met my. Die ergste aanvalle sal my niks kan doen, want U het reeds vir my alles vooruit beplan. Selfs die Vyand sal U erken as die enigste God en U sal my voorspoedig laat wees, selfs in vreemde plekke. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 3 August 2025

Oomblik van stilte: Dan. 3:28

Daarop het Nebukadnésar gespreek en gesê: Geloofd sy die God van Sadrag, Mesag en Abednego, wat sy engel gestuur en sy knegte verlos het wat hulle op Hom verlaat het en die bevel van die koning oortree het, en wat hulle liggame oorgegee het om geen ander god te dien of te aanbid nie, behalwe hulle God.

Sal ons op ons God so vertrou? Dit kan net gebeur as ons in alle nederigheid mekaar dien in geloof aan God. Elkeen probeer hom/haarself verlos, maak nie saak hoe nie.
God word nie meer in huise gedien nie; kinders leer nie meer by hul ouers van God nie.
Ouers laai kinders by Sondagskole af en kom nie eers meer kerk toe nie, maar by die huis word die wêreld gedien en vereer.
"Moenie my vertel hoe ek moet leef nie",
Almal glo in God solank God net nie vir hulle vertel wat en hoe om te leef nie.
"Ek lees die Bybel anders". Allerhande verskonings om net nie "te kerklik" te raak nie.
Alles met 'n "te" aan is verkeerd. Kan ons regtig "te" veel bid, "te" veel Bybel lees, "te" veel glo in God?
Hy loop met die Bybel onder die arm rond.
Wat is onder jou arm? 
Wie is jou God? 
Sal jy bereid wees om jou liggaam oor te gee vir God?
God is 'n God van liefde en sal nooit dit van my verwag nie?? 
Het jy al ooit gedink wat verwag God van jou, nadat Hy sy Seun vir jou opgeoffer het.

Here, help my om nederig te bly; help my om ander op te bou en te help in hulle nood. Ek is so geseënd met u genade en voorsiening. Ek weet ekself is nie altyd die voorbeeld wat ek moet wees nie; ek dra nie altyd die vrug van bekering nie. Heilige Gees, lei my en leer my om meer te wees soos Jesus; om my naaste lief te hê soos wat U my liefgehad het en U te dien met alles wat in my is (verg. Joh. 13:34). Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 24 November 2024

Oomblik van stilte: Dan. 4:2

Dit behaag my om die tekens en wonders wat die allerhoogste God aan my gedoen het, te verkondig.


Begin vandag met die woorde van jou mond en die oordenkinge van jou hart, om God, jou Rots en jou Verlosser, welgevallig te wees voor sy aangesig (verg. Ps. 19:15)
Laat nie net jou woorde, maar ook jou dade, die wonders van God verkondig.
God wil vandag weer wonders vir jou doen, dat waar jy dink jy geen krag of wysheid het, God jou krag en jou sterkte sal wees. God sal sy engel stuur om jou, sy kneg, te verlos van die bose.

Dankie God van vrede, vir u geregtigheid en goedheid wat U my so genadiglik toevoeg daagliks. Hoe groot is u tekens, en hoe magtig u wonders! U koninkryk is 'n ewige koninkryk, en u heerskappy is van geslag tot geslag! (vers 3) Laat u Naam geheilig en geloof word elke dag. Ek prys U en ek roem en eer U, Koning van die hemel: Al u werke is waarheid en u paaie is reg, en U kan verneder die wat in hul trotsheid wandel (vers 37). Ek sal al u tekens en wonders vandag verkondig. U genade is my krag en my sterkte. Amen. 

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]