Showing posts with label Stilte. Show all posts
Showing posts with label Stilte. Show all posts

Monday, 9 February 2026

Vandag se internetgebed vir jou: Leer my om te wag sonder om te twyfel ...

Here, leer my om te wag sonder om te twyfel, 
en om aan te hou glo
wanneer niks verander nie. 
Versterk my hart - 
nie net vir die eindpunt nie, 
maar vir die pad daarheen. 
Help my om te sien dat U naby is, 
selfs in die stilte. 
Laat my geduld getuig 
van my vertroue in u tydsberekening. 
Amen  

Sunday, 18 January 2026

Oomblik van stilte: Lev. 17:11b NLV

Ek het vir julle die bloed gegee om daarmee versoening te doen vir julle sondes. Bloed verteenwoordig lewe en dit bring versoening ... Julle mag nooit bloed eet of drink nie.

Die Ou Testament, is 'n skadubeeld van die Nuwe Testament; soos die bloed van diere jaarliks, versoening tussen mens en God gebring het, het God, se eie Seun, eenmalig versoening tussen die mens en God gebring.
God het duidelik aan die Israeliete gesê wat die bloed verteenwoordig - lewe en versoening. 
Jesus het vir jou lewe gebring en versoening. 
Die lewe is in die bloed (vers 14).
Jou nuwe lewe is in die bloed van Jesus.
Daarom die gebruik van die nagmaal, om ons te herinner aan die bloed van Jesus, wat ons gereinig het.

Dankie Jesus, ewige Priester en Koning in my lewe. Ek sal nie in die ewige dood ingaan nie, want Jesus, U, het vir my die ewige lewe met u bloed gegee. My redding is in Christus wat in my is, en ek loof U tot in ewigheid. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 11 January 2026

Oomblik van stilte: Jer. 17:7 (NLV)

Maar gelukkig is die mense wat op die Here vetrou en hulle verwagting op Hom stel.

Hou jou verwagting op die Here, want Hy wil jou sterk maak.
In elke situasie in jou lewe vertrou op die Here,  sou jy ongelukkig, hartseer, woedend, bevrees, gelukkig, voortvarend, vreugdevol, suksesvol, tevrede, ens. wees, hou altyd die Here eerste in jou lewe.
Die Here bly getrou en sal jou teleurstel nie; Hy is altyd by jou en sal vir jou voorsien.

Jeremia se gebed Jer. 16:19a
Here, U gee krag. U beskerm my. Ek kan veilig by U skuil as gevaar dreig. (Jer. 17:14) Here, U alleen kan my gesond maak. U alleen kan my red. U alleen prys ek! Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Sunday, 4 January 2026

Oomblik van stilte: Ps. 148:5

Laat hulle die Naam van die Here prys, want Hy het beveel en dit het ontstaan. 

In alles wat jy vandag doen, prys die Here. 
Alles wat geskape is, prys die Here, die engele, die heelal, en alles wat op aarde is, elke stilte en elke storm, diepte en hoogte.
Prys die Here solank jy lewe en bring Hom lof terwyl jy nog daar is. (Ps. 14:2)
Vind jou genesing, krag en vreugde in die lof wat jy aan God bring.

Here, ek loof U vir wie U is. Heilige Gees bly by my en lei my in aanbidding en lofprysing aan die Vader. Jesus, U is my krag en my sterkte. Laat u Naam groot gemaak word onder die lofsange van u skepping, in die hemele en op aarde. Laat my die lof en aanbidding hoor van U skepping. Amen.

[Aangestuur deur Pieter Swanepoel]

Friday, 10 October 2025

Vrydag-flits: 4 dinge om te onthou wanneer mense sleg van jou praat

1. Hul woorde sê meer van hulle as van jou!
Mense praat dikwels uit hul eie seer, jaloesie of onsekerheid. Wat hulle sê, weerspieël hul hart, nie jou waarde nie. 
“Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.” - Matteus 12:34

2. God ken die waarheid!
Jy hoef nie elke valse woord te probeer regverdig nie. God sien jou hart en Hy sal jou karakter beskerm. Laat Hom jou verdediger wees.
“Geen wapen wat teen jou gevorm word, sal voorspoedig wees nie, en elke tong wat teen jou opstaan in die gereg, sal jy veroordeel.” - Jesaja 54:17

3. Stilte is soms krag! 
Jy hoef nie op elke kritiek te reageer nie. Stilbly beteken nie jy is swak nie, dit wys dikwels wysheid en dat jy seker is van wie jy is.
“Die Here sal vir julle stry, en julle moet stil wees.” - Eksodus 14:14
⸻
4. Hou aan loop in liefde!
Moenie toelaat dat bitterheid jou hart besmet nie. Vergewe, wees ’n seën en gaan aan met jou lewe. Jou reaksie is jou getuienis.
“Moenie jou deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.” - Romeine 12:21

Laat jou lewe harder praat as hul woorde. 

[Geleen]

Sunday, 7 April 2024

Gedig: Lidi de Waal

ek weet hierdie is dalk vir jou 'n mondvol tjol
maar nou dat ek tot hier gekom het
nou is ek tot boordenstoe gatvol
tot oorlopenstoe keelvol
tot near to the brim toe oorvol
vir al die gerondhol
vir die dolle ge-om en ge-om en ge-omtol
voor ek weer sal kan rondjol
en met nuwe moed weer kan voortrol
wil ek nou net eers heeltemal inmol
in die luukse van rus en stilte
en wyn by die glasvol
en sommer net van tjoklits en gesels
en lees en lê en slaap
hoograak soos met ń goeie zol
so niemand moet nou enigsins
verder met my kom lol
... want hierdie klink vir my mos nou
so heeltemal in die kol
so gans en al deernisvol
so uitermate sinvol

Deur: Lidi de Waal

[Gaan besoek hierdie merkwaardige en bekende kunstenaar HIER. Dankie, Estelle, vir hierdie deel van hierdie gedig.]