Wednesday 30 November 2022

Woensdag-wysheid

Ek wou 'n deel van my seëninge gebruik om 'n positiewe bydrae tot die samelewing te lewer. 
[Harrison Ford]

Saturday 26 November 2022

Saterdaggenotjies: So ietsie om ons dag op te kikker

Waarhede of naarhede?

Hoekom het die iPhone volpunte in die eksamen gekry?
Hy is ʼn slimfoon.

Eendag, lank, lank gelede was daar ’n goeie skoonma.
Maar ook net één dag - en lank, lank gelede ... 

[Nog genotjies HIER]

Wednesday 23 November 2022

Woensdag-wysheid

“Word wakker met vasberadenheid. Gaan bed toe met tevredenheid.”- George Horace Lorimer 

Tuesday 22 November 2022

Dinsdag-denke: Lees elke dag 'n stukkie

Die storie word vertel van ‘n ou man wat op ‘n plaas in die berge gebly het saam met sy jong kleinseun. Elke oggend vroeg was Oupa al op en het by die kombuis tafel gesit en uit sy ou verslete Bybel gelees.

Sy kleinseun, wat net soos sy Oupa wou wees, het hom nageboots in alles wat hy doen.

Een dag toe vra die kleinseun hom: “Oupa, ek probeer elke oggend om die Bybel te lees net soos jy, maar ek verstaan dit nie en dit wat ek verstaan vergeet ek so vinnig soos wat ek die Bybel weer toemaak. Watse goed doen dit om die Bybel te lees?”

Die Oupa draai stadig om terwyl hy besig was om kole in die koolstoof te sit en sê, “Neem die kolemandjie na die rivier en bring vir my ‘n mandjie vol water terug.” Die seun het gedoen soos sy Oupa hom gevra het, alhoewel al die water uitgeloop het deur die mandjie nog voordat hy die huis kon bereik.

Die Oupa lag en sê, “Jy sal volgende keer bietjie vinniger moet wikkel met die mandjie water,” en stuur hom terug rivier toe met die mandjie om weer te probeer.

Die keer hardloop die seuntjie vinniger, maar die mandjie was weer leeg voordat hy by die huis aankom. Uitasem, vertel hy sy Oupa dat dit onmoontlik is om water in ‘n mandjie te dra en hy gaan haal die emmer op die stoep om te gebruik in plaas van die mandjie.

Die Oupa antwoord, “Ek soek nie ‘n emmer water nie, ek soek ‘n mandjie water. Jy kan dit doen. Jy probeer net nie hard genoeg nie,” en hy stap buitentoe om die seun dop te hou terwyl hy weer probeer.

Op die stadium het die seun besef dit is hopeloos om dit reg te kry, maar om aan sy Oupa te bewys al hardloop hy so vinnig as wat hy kan, daar is nie ‘n manier wat die water nie sal uitloop voordat hy by die huis is nie.

Die seun skep die water en hardloop vir al wat hy werd is maar toe hy by sy Oupa uitkom is die mandjie weereens leeg.

Uitasem, hyg hy, “Sien Oupa, dit is hopeloos!”

“So jy dink dit is ‘n hopelose saak?” sê die Oupa, “Kyk na die mandjie.” Die seun kyk na die mandjie en vir die eerste keer besef hy dat die mandjies anders lyk. In plaas van ‘n ou vuil kole mandjie, was dit nou skoon.

“Seun, dis wat gebeur as jy die Bybel lees. Jy mag dalk nie miskien alles verstaan of onthou nie, maar wanneer jy dit lees, sal dit jou van binne verander.”

Dit is die werk van God in ons lewens.

Om ons te verander van binne na buite en om ons stadig te omvorm na die beeld van Sy Seun.

Neem tyd om ‘n stukkie van Vader se Woord elke dag te lees. Bid dat Hy dit sal gebruik om jou hart en verstand na Hom te keer.
oooOOOooo

(Psa 119:9) Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na U woord.

Saturday 19 November 2022

Saterdaggenotjies: So ietsie om ons dag op te kikker

Yslik onmoontlik
’n Man wat by die Noordpool ysbere jag, word deur ’n verwoede ysbeermannetjie is ’n ysspleet vasgekeer.
Omdat hy iewers langs die pad sy geweer se patrone verloor het, kan hy homself nie verdedig nie.
Doodbenoud bars hy in trane uit. Maar dis so koud dat die trane langs sy wange verys.
Gelukkig dink hy daaraan om een van die ystrane as ’n patroon te gebruik; hy laai toe sy geweer en skiet.
Ongelukkig smelt die ystraan binne-in die geweer en slegs ' n straaltjie water spuit by die loop uit.
Gelukkig is dit so koud dat die straaltjie toe onmiddellik weer verys en die spiesvormige stukkie ys sekuur in die rigting van die ysbeer voortsnel.
Ongelukkig smelt die ys toe dit die kop van die ysbeer binnedring ...
Gelukkig vrek die ysbeer toe van water op die brein. 

[Nog genotjies HIER]

Wednesday 16 November 2022

Woensdag-wysheid

“En uiteindelik tel dit nie die jare in u lewe nie. Dit is die lewe in u jare.” - Abraham Lincoln
 

Monday 14 November 2022

'n Biblioteek van kennis, ervaring en wysheid

Saam met elke bejaarde wat sterf, gaan daar 'n biblioteek dood.
'n Biblioteek van kennis, ervaring en wysheid.

Hoe is dit dat TWEE ouers (soms EEN) na 'n klomp kinders kon kyk,
maar dat 'n klomp kinders nie na twee ouers kan kyk nie?

Besef ons dat ons met ongeduld, geïrriteerdheid en frustrasie
ons eie ou dag miskyk.
Ons sal ook daar kom.
Ons sal dalk ook ons ou, gebruikte plastiesakke saamneem om 'n belangrike geldjie te spaar.

Iemand sal op 'n dag ook agter ons in die ry staan terwyl ons met ons koepons wil betaal.
So, hier is my hart.
Ek eer die bejaardes wat steeds probeer.
Ek besef daar stap 'n storie voor my - 'n mens wat ook maar net afhanklik is.
Iemand wat jare lank 'n land help bou het,
en dalk nou aan die agterspeen suig met hulle karige pensioen.
Mans en vroue wat eens trotse voorlopers was,
en nou bakhand moet staan en sien hoe 'n jonger generasie nie altyd respek het nie.
Kan ons hierdie week weer werk aan ons deernis, geduld
en sommer net waardering vir die oom wat dalk stadig voor ons ry,
die bejaarde tannie wat in jou pad staan as jy haastig is,
die mens met die koepon of die klein geldjie in die hand,
wat langer vat om te betaal as jy met jou goue kredietkaart.
Kan ons dalk kies om só 'n mens se kruideniers te betaal as die Here
ons geseën het met méér.
Kan ons weer besef dat wie ookal ons is,
wat ookal ons het 
- dit alles is net genade!

Wat 'n lewe

In die begin het die Skepper die donkie geskape en vir hom gesê: 'Jy sal sonder ophou werk, vir 50 jaar leef en 'n donkie genoem word.' Die donkie antwoord toe: 'Ek sal 'n donkie wees, maar 50 jaar is te lank. Gee my net 20 jaar.' Toe kry hy 20.

Daarna het die Skepper die hond geskape en vir hom gesê: 'Jy sal die mens se huise oppas, sy beste vriend wees, alles eet wat hy vir jou gee, 25 jaar leef en 'n hond wees. 'Toe antwoord die hond: ' Om 25 jaar te leef is te veel, gee my net 10 jaar.

Toe word die bobbejaan geskape en vir hom gesê: 'Jy sal van tak tot tak spring, snaakse goed doen, mense vermaak, vir 20 jaar leef en 'n bobbejaan wees.' Die bobbejaan antwoord: 'Om 20 jaar te leef is te veel. Gee my net 10 jaar.

Laastens is die mens gemaak en vir hom gesê: 'Jy sal 'n mens wees, die heelal se enigste regdenkende wese. Jy sal jou intellek gebruik om alle diere te oorheers, die wêreld regeer, en vir 20 jaar leef. Die mens antwoord toe: 'Ek sal 'n mens wees, maar om net 20 jaar te leef is te kort, hoekom gee U my nie die 30 jaar wat die donkie nie wil hê nie, die 15 jaar van die hond plus die 10 jaar van die bobbejaan nie?' Toe doen die Skepper dit. Van toe af leef die mens vir 20 jaar soos 'n mens. Daarna trou hy en werk vir 30 jaar soos 'n donkie. Noudat sy kinders uit die huis is, spandeer hy 15 jaar soos 'n hond deur - die huis op te pas en te eet wat hy kry. En nadat hy afgetree het, leef hy 10 jaar soos 'n bobbejaan deur van kind tot kind te trek en allerhande snaakse dinge te doen om sy kleinkinders te vermaak. Dit is 'n lewe wat 'n mens nie eers vir 'n donkie, hond of bobbejaan sal toewens nie!

(NND/Kitsnuus 22/09/2000)

Vandag se internetgebed vir jou

O God, as ek vandag kos het,
help my om die hongeres te onthou.
As ek werk het,
help my om die werkloses nie te vergeet nie.
As ek ’n warm huis het,
herinner my aan die haweloses.
As ek sonder pyn kan lewe,
gee my deernis met dié wat ly.
En as ek húlle onthou wat nie het wat ék het nie,
verlos my van my selfvoldaanheid,
sodat ek uit my gemaksone sal kom
en met woorde en dade diegene sal help
wat met hul oë roep na alles
wat ek as vanselfsprekend aanvaar.

Moeder Teresa van Kalkutta
(Uit: Die groot gebedeboek, Piet Naudé, 2014) 

Sunday 13 November 2022

Is JY dalk doof?

’n Man was bekommerd dat sy vrou nie meer so goed kon hoor soos voorheen nie en hy het gedink dat sy dalk ’n gehoorapparaat mag benodig. Nie seker hoe om sy vrou te benader oor die netelige kwessie nie, skakel hy die huisdokter om die probleem te bespreek.

Die dokter deel hom mee dat daar ’n maklike informele toets is wat die man kan doen sodat die dokter ’n beter idee kan kry van die omvang van die gehoorprobleem van sy vrou.

“Hier is wat jy doen,” sê die dokter, “staan so 15 meter weg van haar en in ’n normale gesels stem praat met haar en kyk of sy jou kan hoor. Indien nie, gaan nader tot jy so 10 meter van haar af is, daarna 5 meter en so aan totdat jy ’n reaksie van haar kry.

Die aand is sy vrou in die kombuis besig om aandete voor te berei en hy het in die sitkamer gesit. Hy sê toe vir homself, “Ek is nou omtrent 15 meter weg van haar, laat ek kyk wat gebeur.” Toe in ’n normale gesprektoon vra hy: “Liefie, wat is daar vir aandete?”

Geen reaksie nie.

Dus beweeg hy maar bietjie nader aan die kombuis, omtrent 10 meter van sy vrou en herhaal die vraag, “Liefie, wat is daar vir aandete?”

Steeds geen reaksie nie.

Volgende beweeg hy na die eetkamer waar hy so 5 meter van sy vrou af is en vra, “Liefie, wat is daar vir aandete?”

Weereens geen reaksie nie.

Hy stap nader en gaan staan in die kombuisdeur, omtrent 3 meter weg. “Liefie, wat is daar vir aandete?”

Weereens is daar geen reaksie van sy vrou nie.

Hy stap tot reg agter sy vrou en vra, “Liefie, wat is daar vir aandete?”

“Jakobus, vir die VYFDE keer, ek het gesê, HOENDER!”

Die probleem is dalk nie by die ander persoon soos ons soms geneig is om te dink nie. Dit kan baie kere binne onsself wees waar die probleem is.

Saturday 12 November 2022

Die ouderdom is `n blikslater ... dit bekruip jou ...

Hy bekruip jou.
Soos droogte in die Boesmanland.
Stadig.
Maar seker.
Hy maak jou krom.
Hy maak jou stom.
Hy maak jou vergeet.
Hy knibbel stomp-tand aan eergister se onthou.
Hy stroop die bas van jou onthouboom.
Hy los jou alleen.
Met net gedagtes.
Ver gedagtes.
Wat jou terugvat na jou jonkweesdae.
Jou eerste Daan Desimaal-jare.
Springbokradiodae.
Pip Freedman en Four Jacks and a Jill-jare.
Charles Jacoby en Jim Reeves-jare.
Draadloosjare met oom Jan Cronjé en tannie Esmé Euvrard.
"So maak mens!"
Stories soos die Du Toit`s van Soetmelksvlei, Geluksdal, Dans van die Flamink, Wolwedans in die Skemer, As die Naguil roep en Patrollie 33 Charlie.
Maar die ouderdom maak jou ook astrant.
Soms neuk hy stroom-op met jou.
Na daar waar jy weet jy nie eintlik moet gaan krap nie.
Want dis die plek van die Groot Nostalgie.
Wanneer jy sonder dat jy wou, skielik daai ou droë Heimweeboom begin klim.
Ja, hoog in die takke is jy.
Jy raak dik gedrink.
Van die verlange se waters.
Jy boor diep.
Slukkie vir slukkie drink jy uit blou jare terug se vars boorgate.
Jou kinderjare.
Skoolgaanjare.
Vingerbordjare.
Bok-bok-staan-styf-jare.
Jonk-verlief-wees-jare...

Soms praat jy met jouself.
Saggies.
Of so dink jy.
Want jou ore hoor nie meer soos destyds nie.
Al is hulle nou groter ...
Ja, jou gesig krimp, maar jou neus en ore word groter.
Jou tande raak stomp.
Jy word lomp.

Ouderdom is soos `n steeks donkie.
Hy briek jou.
Jý wil, maar jou bene steek vas.
Viervoet vat hy jou vloer toe.
Loopraam toe.
Soos `n kind.
Só stroop hy jou selfvertroue.
Gister se bravade maak plek vir vandag se bang.

Ouderdom steel.
Jou onafhanklikheid.
Jou karsleutels.
Jou lisensie ...
Hy lewer jou oor.
Aan ander se genade.
Hy maak jou sag.
Weerloos.
En eensaam.
Hy laat jou huil.
Sommer oor niks.
Sommer oor alles.

Die ouderdom is `n wetter.
Met `n hoofletter!
Hy ruk jou uit jou huis uit.
Ontvoer jou.
Teen jou wil.
Huis Herfsblaar toe.
Waar Matrone jou baas is.
Huisreëls jou bind.
Styf.
Vas.
Met oumenstoue.
Waarvoor jy `n helse prys betaal.
Letterlik.
Terwyl jy Genadebrood moet eet ...
En perdesalf op ou spiere se seer smeer.
Ouderdom druk jou smaakkliere toe.
Jy verloor jou proe.
Hy vat jou eetlus weg.
Jou energie.
Hy breek jou spoed.

Maar ouderdom leer jou ook geduld,
want die kinders kom kuier op húlle tyd.
Ouderdom laat jou spog.
Te veel.
Oor die kleinkinders.
Wat jou siel lawe!
Saam met die jare se grysheid, kom daar darem ook `n bietjie wysheid.
En diepe dankbaarheid.
Vir gespaarde jare uit Sy hand uit.

Maar dan.
Later.
Raak jý stadig maar seker weer kind.
Moet jy gewoond raak aan die alewige verkleinwoordjies ...
En om na jou kinders te luister!

Geskryf: Barney Louw

[Dankie, Valerie Kilian, vir jou gereelde bydraes aan hierdie blog.]

Saterdaggenotjies: So ietsie om ons dag op te kikker

Die kinders moes op skool ’n opstel skryf oor "die snaaksste ding wat ek nog ooit gesien het".
Die klas se dromer het die hele periode sy tyd sit en verspeel - toe die klok lui en hy sy boek moet inlewer, het hy nog nie 'n dooie woord geskryf nie.
Bitter haastig krap hy toe die volgende sin in sy boek: "Die snaaksste ding wat ek nog ooit gesien het, is te snaaks vir woorde!" 

[Nog genotjies HIER]

Friday 11 November 2022

Die mynspook

As 'n halflyf-spook jou beveel om iets te doen, dóén jy dit. Veral as hy die belofte van 'n kissie vol goue ponde soos 'n wortel voor jou neus hou. Maar wie sou kon raai dat die ware skat uiteindelik nie in die kissie sou wees nie ...?

Oupa het sy beste spookstorie só begin: "Nog voor die tyd van  Casino's, het ek al die jackpot geslaan ..."

Dit was lank, lank gelede. Ek was nog jonk en sterk, maar brandarm, soos almal van daardie tyd. Bedags was ek 'n grofsmid en snags 'n vroeënagskof-werker by die Nigel-myn, ten spyte van die stories wat geloop het dat dit daar spook.

Een donker wintersnag sukkel ek met my fiets oor die growwe mynsand. 'n Skielike, ysige wind waai sand in my oë en ek gaan staan. Voor my op die grond sit 'n man sonder bene. Hy draai op sy stomp lyf en kyk vir my. Hy het 'n wilde baard en is gewapen met geweer en bandelier. 'n Oudkryger! Nee, sien ek, hy is jonk, maar met 'n leeftyd se smart op sy gesig. My hare staan penorent toe ek skielik besef: ek kan dwarsdeur hom sien ... Dit is die mynspook!

Ek wil weghardloop, maar die halwe man se brandende oë hou my vasgenael. Daar is iets dringends in sy blik. Ek onthou skielik dat 'n mens 'n spook moet aanspreek; skraap my moed bymekaar en vra: "Waarom rus jy nie?"

"Daar is ongedane sake wat my hinder," antwoord die spook in 'n hol stem. "Doen wat ek sê en jy sal ryklik beloon word."

Toe ek hoor die spook praat van 'n beloning, onderdruk ek my vrees en staan 'n bietjie nader om mooi te hoor.

"Net hier, waar ek nou al vir sewentien jaar wag, lê die res van my bene begrawe. Dis afgeskiet deur 'n Kakie-kanon tydens die oorlog. Grawe dit op en herbegrawe dit saam met die res van my beendere in die kerkhof in Heidelberg, onder die houtkruis wat gemerk is, Geliefde broer. Jou beloning sal jy kry, maar jy moet dit deel met my broerskind, of die ongeluk sal jou ry." 

Met dié woorde verdwyn die spook.

Dieselfde nag nog het ek die oorblyfsels van die spook se beendere uitgegrawe, net daar waar hy gedraai het. Dit was maar 'n paar beenskerwe en twee verslete, halfverrotte leerstewels. By die kerkhof in Heidelberg het ek gou die houtkruis gevind en begin grawe. Ek was baie bang - ek was immers besig om grafskending te pleeg, maar die belofte van 'n beloning het my aangespoor. Nee, eintlik was dit nie die enigste rede nie. Die bondeltjie bene het my hartseer gemaak - oor die oorlog en oor my mense. Dit het 'n saak van eer geword om die spook se wens uit te voer.

Ek het die kis gevind en die deksel oopforseer. Binne het hy gelê, 'n halwe geraamte en die oorblyfsels van 'n tabaksak. Ek het die spook se bene versigtig in die kis neergelê. Toe ek die tabaksak skuif, sien ek 'n brief uitsteek. My hart het skielik vinniger geklop terwyl ek dit versigtig oopgevou het - dit was al geel en bros van die ouderdom.

My naam is Christiaan van der Heever. Ek en my broer, Pieter, is op pad om by die Heidelberg-kommando aan te sluit. Ek het my kissie goue ponde begrawe onder die middelste bloekom van die drie wat by die Nigel-stasie staan. As ek die oorlos nie oorleef nie, laat ek die kissie ponde na aan my broer, Pieter, se babadogtertjie, Miemie. God behoed ons en ons dierbare Vaderland.

Ek het die brief versigtig toegevou en teruggesit, die kis toegemaak en die graf toegegooi. Toe het ek 'n paar veldblomme vir die graf gaan pluk.

Ek het vir 'n paar dae lank gehuiwer, diep gedink voordat ek die kissie met goue ponde gaan soek het. Iemand het van die anderkant die graf met my gepraat en teen dié tyd het Christiaan van der Heever vir my gevoel soos 'n ou bekende, 'n vriend. Uiteindelik kon ek genoeg moed bymekaar skraap om die kissie te gaan soek, en ek het dit gekry presies op die plek wat in die brief aangedui is. Die inhoud daarvan het my asem weggeslaan: daar was genoeg goue ponde om my lewenspad vir altyd te verander. Tot vandag toe versorg ek die graf, en die woorde op die kruis het ek verander om te lees:

Christiaan van der Heever
Geliefde broer
Gesneuwelde vriend en weldoener           

Die mynspook het nooit weer geloop nie.

"Oupa," het ons gevra, "Wat het geword van die broerskind, Miemie? Het jy ooit die skat met haar gedeel?" Oupa het aan sy pyp gesuig en sag na ouma gekyk.
"Vra vir ouma Miems."

Kristina Krohn

[Taalgenoot- September 2002]

Wednesday 9 November 2022

Die Kersgeskenk

Dis die dag voor Kersfees.

Ek en my wederhelf is oppad na die plaaslike ouetehuis. Sedert my pa, wat ‘n inwoner daar was en presies drie jaar gelede oorlede is, neem ons elke jaar Kersgeskies vir die inwoners.

Ons hou stil voor die gebou en elkeen haal ‘n groot sak vol geskenke uit die kattebak. Binne gekom, stap sy na die vroue vleuel en ek loop die blinkgepoleerde gang af na die mansafdeling.

By elke kamer gaan ek in en gee ‘n geskenkie af. Die inwoners is uitgehonger vir geselskap en dis eers laatoggend toe ek by die laaste kamer instap. Oom Nathan se kamer.

Oom Nathan en my pa was vriende en ek kuier altyd lekker by hom.

Sy oë blink toe ek sy pakkie oorhandig.

“Ek hoop dis tjoklits,” sê hy terwyl hy dit in die laai van sy bedkassie wegbêre.

Ek sit nog ‘n rukkie by hom en gesels.

Hy is weer op sy gunsteling onderwerp, sy wedervaringe gedurende die Tweede Wêreldoorlog toe hy in Noord Afrika diens gedoen het. Dan vertel hy weereens van sy verloofde, Beth, wat hom vir ‘n ander man gelos het terwyl hy weg was. Hulle het albei in Londen gewoon en het ‘n maand voor die oorlog uitgebreek het, verloof geraak. Sy was ‘n winkelassistent en hy ‘n soldaat in die weermag

Soos alle verliefdes, het hulle ewige trou aan mekaar gesweer. In die begin was daar gereeld briewe, maar toe tref ‘n ramp hom. Sy tenk word deur ‘n mortier getref en hy is met ernstige beserings afgevoer na ‘n veldhospitaal toe, daarna na ‘n plaaslike hospitaal waar hy vir meer as drie maande aangesterk het. Namate sy gesondheid verbeter het, het hy begin navraag doen oor enige pos van Beth, altyd was die antwoord dieselfde. Briewe wat hy geskryf het was nooit beantwoord nie.

Hy het toe maar aanvaar dat sy liewe Beth moed opgegee het nadat sy vir so lank nie van hom gehoor het nie.

Hy is later ontslaan en in Londen aangekom, was hy geskok om te sien dat die buurt waar Beth gewoon het verpletter was deur die Duitsers se bomaanvalle. Ook die winkel waar sy werksaam was, is heeltemal vernietig. Na maande se vrugtelose gesoek het hy aanvaar dat Beth moes omgekom het in die aanvalle wat Londen nag na nag geteister het. Kort daarnan het hy verhuis Suid Afrika toe om ‘n nuwe lewe te begin. Ons kuier lekker vir nog ‘n uur of so toe my vrou saggies aan die deur klop en aandui dat ons moet aanstaltes maak.

Oppad huis toe gaan die gesprek oor die spesifieke twee oumensies, Tannie Liz en Oom Nathan. Ons stem saam dat dit so tragies is dat die oorlog soveel mooi verhoudings tot niet laat gaan het. Ek vra uit oor Tannie Liz se omstandighede. My vrou vertel dat sy in Londen woonagtig was en pas verloof geraak het toe die oorlog uitbreek en haar verloofde, Jonathan weg is Noord Afrika toe.

Ek voel hoe kry ek hoendervleis en gaan parkeer in die eerste en beste parkeerplek.

“En nou?,” vra my vrou, “is daar iets verkeerd?”

“Ek weet nie, maar sê nou net….” prewel ek.

“Hoe bedoel jy nou?” vra sy so half opgewonde, sy kan sien dat iets my geweldig pla.

“Tant Liz en Oom Nathan, kan jy dit nie sien nie? Dink jy dit kan moontlik wees?” ek is nou heel opgewonde, oortuig dat ek iets hier beet het.

“Hoe bedoel jy nou?” sy snap nog nie wat ek probeer sê nie.

“Dink net, Jonathan en Nathan, Beth en Liz, verloof, oorlog,” rammel ek my gedagtes af.

Sy staar my met groot oë aan, “Dis ongelooflik, maar ek dink jy kan reg wees, draai om, ons moet gaan seker maak.”

By die ouetehuis aangekom is ek dadelik na Oom Nathan toe en my vrou na Tannie Liz se kamer.

Ons plan is om soveel moontlik van die twee se verloofdes uit te vind en dan ons bevindinge te vergelyk. ‘n Halfuur later is ons in die sitkamer met ons “bewyse”.

“Ek dink ons is reg,” my vrou is nou heel opgewonde, “Tannie Liz het haar verloofde Jonathan genoem!”

“En Oom Nathan het sy verloofde Beth genoem!” ek kan my opgewondenheid nie beteuel nie.

“En hier is die finale bewys,” kom dit triomfantelik van my vrou, “Liz het vir my ‘n foto van Nathan gegee.”

Met bewende hande vat ek die foto by haar, die foto van ‘n jong soldaat, onmiskenbaar Oom Nathan.

Ons kyk mekaar aan, “Weet jy wat dit beteken?”

Ek voel skoon aangedaan en die trane loop by my vrou se wange af.

Sonder om verder te praat drafstap ons in die gang af na Oom Nathan se kamer.

“My maggies, is jy alweer hier, ou seun?” glimlag hy ons toe.

“Ja, Oom, kom saam, ek wil Oom aan iemand gaan voorstel,” Ek help hom uit sy gemakstoel uit.

Stadig beweeg ons in die gang af na die aangrensende vleuel van die tehuis.

Ons sien Tannie Liz in die sitkamer in die sonnetjie op ‘n rusbank sit. In die sitkamer heers ‘n Kersatmosfeer. Die vertrek is versier met dle allermooiste versiersels met ‘n groot Kersboom met liggies wat flikkerin die een hoek. Ons stap na haar toe. Sy kyk vraend op van haar hekelwerk.

“Kan ek Tannie aan iemand voorstel?” Haar gesig verstar as sy na Oom Nathan kyk, dit lyk of sy ‘n spook gesien het.

“Jonathan?” kom dit huiwerig van haar.

“Beth?” antwoord hy, die ongeloof duidelik in sy stem.

Huiwerig gaan sit hy langs haar. Met ‘n bewerige hand streel hy oor haar wang en neem haar dan in sy arms. Sy snik saggies.

My wederhelf pluk aan my mou en dui aan dat ons moet spore maak.

Net toe ons omdraai sê Tannie Liz met ‘n betraande gesig, “Dankie julle, vir die beste Kersgeskenk ooit.”

Presies ‘n week later is ons eregaste op die grootste troue wat nog by die ouetehuis plaasgevind het.

[Peter Thomas - dankie! Klik
HIER]

Woensdag-wysheid

"As u uiteindelik u eie waarde leer ... hou u op om ander afslag te gee." - Unknown
 

Monday 7 November 2022

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Sy glorie soeke

Dit bly maar net onverklaarbare saak hoe vinnig die gemoedere in enige huis - wel ten minste in my en die Mooiste Mooi se huis - kan verander as goeters soek raak. Sien, ek was laaste Vrydag reeds kort voor sonop al buite by die Kuierplek-op-die-vlak, met my Bybel en my oranje koffiebeker. Dit is nou daar waar die klanke van ‘n tiental bosduiwe op die Boerekerk se dak, ‘n klomp versamelvoëltjies en vroeg opstaan Kalahari hoenderhane leidrade van ons Skeppergod se liefde en genade los.

Dié oggend wou ek gou-gou na ontbyt die Genadewa se erge dors gaan les by die koöperasie. Die laaste paar dae se rondry het gemaak dat die ou bittereinder nie meer genoeg vog in sy lyf vir ‘n Swartkopdam besoek het nie. Ons bordjies was skaars in die wasbak toe ek wou ry, maar die Genadewa se sleutel is weg. Weg soos die nagmaalbroodjies wat twee maande gelede voorgesit is. Heel vergete is my vroegoggend belewenis van vrede en kalmte saam met Hom buite by die Kuierplek-op-die-vlak, want die atmosfeer in ons huis is eensklaps botterdik.

In een oomblik verander alles en outomaties verander ons prioriteite. Die Genadewa se sleutel is al wat belangrik is. Almal op die werf moet dadelik ophou waarmee hulle besig is en eers help soek. Sonder die sleutel staan meer as net die Genadewa stil. Alles staan stil ... botstil. Almal wat op daardie oomblik op die werf is, soek. Daantjie en Klein Apie loop oral oor op die erf met hulle oë op die grond terwyl Proppie die wasgoedmandjie deursoek. Die Mooiste Mooi betrek die slaapkamer, badkamer en spens en ek soek oral waar hulle nie soek nie. Maar helaas ... die Genadewa bly dors, want sy sleutel is soek.

Ons is moedeloos, radeloos en moeg gesoek. Sonder die Genadewa se sleutel staan ons saak hier in die vergeetkant van die land stil. Derhalwe word ons soektog eers onderbreek sodat ons in die skaduwee van die Apiesdorings langs die kantoor iets kan drink. Die Mooiste Mooi drink haar tee uit 'n koppie, terwyl Proppie soet koffie in 'n beker verkies. Daantjie, Klein Apie en ek, het elk ‘n groot glas koeldrank in die hand.

Terwyl die stilte in ons ore suis dink ek weer terug aan my vroegoggend gesit buite by die Kuierplek-op-die-vlak en veral Jeremia se profetiese brief aan diegene wat deur Nebukadneser in ballingskap weggevoer is. Hy het ondermeer geskryf: "Julle sal My soek en vind as julle My met julle hele hart raadpleeg." Ek onthou ook van ‘n ander soektog blou jare gelede. Daardie soektog wat Mattheus beskryf het toe manne uit die ooste na die Kêrelkind van God en Waarheid op soek was.

Hierdie nie-Jode was waarlik gefokus in hulle soeke na die Kripkind. Hulle wóú Hom kry. Niks of niemand (wat selfs 'n opdrag van koning Herodes insluit) sou hulle verhoed om Hom - wie se geboorte selfs deur die natuur aangekondig was - te vind nie. Hulle vra vrae ... allerhande vrae en maak seker hulle aandag word nie van hul lewensveranderende soektog afgetrek nie.

Daarmee saam loop hulle oor die spreekwoordelike ekstra sandduin in hulle soeke. Hulle het geen vooropgestelde idees of agendas nie en weier om te bespiegel of te argumenteer oor die Waarheid en oor die Kêrelkind van God. Nee wat, hierdie manne vanuit die ooste was sekerlik wys, omrede hulle moeite gedoen het om Jesus te vind. Hulle was pligsgetrou, gefokus, konsekwent, doelgerig en nougeset in hulle soeke na Hom en al Sy glorie.

En so begin ek wonder oor ons as mensegoed se soeke na Hom. Ek wonder oor Hom - die Skepper van hemelgoed en stofaarde, Sy Kêrelkind en natuurlik die Veilige Gees. Hy wat elke dag genoeg leidrade vir ons as mensegoed los om Hom en in al Sy glorie raak te sien en te vind.

En ek wonder oor jou en my en al die ander mensegoed op hierdie stofaarde. Ek wonder of ons (net soos die manne destyds uit die ooste) wys en slim genoeg is om Hom pligsgetrou, gefokus, konsekwent, doelgerig en nougeset te soek. Onthou, Hy is en bly die Alomteenwoordige Almagtige wat begerig is dat ons Hom in al Sy glorie sal vind. Dit moet ons sonder enige vooropgestelde idees, agendas, argumente of bespiegelinge doen.

En laastens ... laastens wonder ek waarom daar mensegoed is wat doodgelukkig en tevrede is met die omstandighede waarin hulle opgevang is. Mensegoed wat nie moeite wil doen in hulle soeke na Hom en al Sy glorie nie.

Naskrif: Die Mooiste Mooi het die sleutel in my gereedskaptrommeltjie gekry. Ek het dit per ongeluk die vorige dag daar “gebêre”.

Jer 29 vers 13 (Afr 2020) = "Julle sal My soek en vind as julle My met julle hele hart raadpleeg."

Sandkorrel baie seëninge

Los jou 👣 as jy wil by:

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192 WhatsApp: 081 568 7549

[Dankie, Valerie, vir jou voetspore wat jy hier los!] 

Vandag se internetgebed vir jou

Sunday 6 November 2022

Die Rooi Sambreel


Partykeer in die lewe kom daar baie moeilike dae en dit voel asof die reën net nie ophou val nie.

Soms het jy net iemand nodig om jou nuwe sole aan jou skoene te sit, iemand wat bietjie beheer kan vat en jou op hulle rug sit en vir 'n rukkie dra.

Partykeer het jy iemand nodig om met naald en gare die gate in jou vlerke toe te stop, om jou daaraan te herinner hoe waardevol jy eintlik is!!

Soms het jy iemand nodig om saam met jou in stilte te bid en weet dat liefde net kan bestaan as God die Leidsman is. Partykeer moet jy iemand se rooi sambreel wees sodat jy die reën kan voel en weet dat storms verby sal gaan.

[Geleen HIER]

Saturday 5 November 2022

Saterdaggenotjies: So ietsie om ons dag op te kikker

Vir die ou hoesie in die kerk
Op 'n plattelandse dorp, waar die inwoners hoofsaaklilk Afrikaans magtig is en gedurende 'n wintermaand toe verkoue erg in die omloop was, was die predikant baie omgekrap dat sy aandag gedurende eredienste onderbreek word deur gemeentelede se hoesbuie.
Hy bespreek toe die probleem om 'n oplossing te vind met sy koster wat Engelssprekend is ... seker die enigste in die dorp. 
Die koster gaan koop toe 'n groot bottel hoesstroop by die apteek.
Die volgende Sondag as iemand hoes, staan die koster op en gaan gee vir die persoon 'n lepel hoesstroop in en sê vir hom iets in sy oor waarna die persoon opstaan en uitloop. 
So hou dit aan en die kerk is later byna leeg.
Na die diens vra die dominee vir die koster wat hy dan vir die mense gesê het dat hy later vir 'n byna leë kerk moes preek.
Nee sê die koster, ek het net vir hulle gesê, "For cough".

[Nog genotjies HIER

Wednesday 2 November 2022

Woensdag-wysheid

"Wie 'n rede het om te lewe, kan byna enige laste dra." - Friedrich Nietzsche 

Tuesday 1 November 2022

Dinsdag-denke: Advies

Twee mans was op reis deur die woud toe hulle hul vasloop teen ’n yslike beer in die voetpad. Die een reisiger druk vinnig die ander een uit die pad en klim in die naaste hoë boom en verberg hom tussen die takke. Die ander reisiger sien dat daar nie genoeg tyd sal wees vir hom om ook in die boom te klim nie omdat sy medereisiger hom uit die pad gedruk het. Terwyl die beer op hom afstorm val hy plat op die grond, hou sy asem in en maak of hy dood is. Terwyl die beer hom met sy snoet bevoel en oraloor beruik, hoop en bid hy maar net dat die legende waar is dat bere nie dooie goed eet nie.

Nie lank nie of die beer los die reisiger en stap weg in die woud. Toe die beer vir ’n hele wyle al weg is, kom die ander reisiger uit die boom uit en vra grappenderwys aan sy medereisiger, wat het die beer in sy oor gefluister.

“Hy het my advies gegee,” sê sy medereisiger. “Moet nooit saam met ’n vriend reis wat jou in die steek laat wanneer die eerste teken van gevaar verskyn nie.”

-Oorgeneem-