Monday 7 November 2022

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Sy glorie soeke

Dit bly maar net onverklaarbare saak hoe vinnig die gemoedere in enige huis - wel ten minste in my en die Mooiste Mooi se huis - kan verander as goeters soek raak. Sien, ek was laaste Vrydag reeds kort voor sonop al buite by die Kuierplek-op-die-vlak, met my Bybel en my oranje koffiebeker. Dit is nou daar waar die klanke van ‘n tiental bosduiwe op die Boerekerk se dak, ‘n klomp versamelvoëltjies en vroeg opstaan Kalahari hoenderhane leidrade van ons Skeppergod se liefde en genade los.

Dié oggend wou ek gou-gou na ontbyt die Genadewa se erge dors gaan les by die koöperasie. Die laaste paar dae se rondry het gemaak dat die ou bittereinder nie meer genoeg vog in sy lyf vir ‘n Swartkopdam besoek het nie. Ons bordjies was skaars in die wasbak toe ek wou ry, maar die Genadewa se sleutel is weg. Weg soos die nagmaalbroodjies wat twee maande gelede voorgesit is. Heel vergete is my vroegoggend belewenis van vrede en kalmte saam met Hom buite by die Kuierplek-op-die-vlak, want die atmosfeer in ons huis is eensklaps botterdik.

In een oomblik verander alles en outomaties verander ons prioriteite. Die Genadewa se sleutel is al wat belangrik is. Almal op die werf moet dadelik ophou waarmee hulle besig is en eers help soek. Sonder die sleutel staan meer as net die Genadewa stil. Alles staan stil ... botstil. Almal wat op daardie oomblik op die werf is, soek. Daantjie en Klein Apie loop oral oor op die erf met hulle oë op die grond terwyl Proppie die wasgoedmandjie deursoek. Die Mooiste Mooi betrek die slaapkamer, badkamer en spens en ek soek oral waar hulle nie soek nie. Maar helaas ... die Genadewa bly dors, want sy sleutel is soek.

Ons is moedeloos, radeloos en moeg gesoek. Sonder die Genadewa se sleutel staan ons saak hier in die vergeetkant van die land stil. Derhalwe word ons soektog eers onderbreek sodat ons in die skaduwee van die Apiesdorings langs die kantoor iets kan drink. Die Mooiste Mooi drink haar tee uit 'n koppie, terwyl Proppie soet koffie in 'n beker verkies. Daantjie, Klein Apie en ek, het elk ‘n groot glas koeldrank in die hand.

Terwyl die stilte in ons ore suis dink ek weer terug aan my vroegoggend gesit buite by die Kuierplek-op-die-vlak en veral Jeremia se profetiese brief aan diegene wat deur Nebukadneser in ballingskap weggevoer is. Hy het ondermeer geskryf: "Julle sal My soek en vind as julle My met julle hele hart raadpleeg." Ek onthou ook van ‘n ander soektog blou jare gelede. Daardie soektog wat Mattheus beskryf het toe manne uit die ooste na die Kêrelkind van God en Waarheid op soek was.

Hierdie nie-Jode was waarlik gefokus in hulle soeke na die Kripkind. Hulle wóú Hom kry. Niks of niemand (wat selfs 'n opdrag van koning Herodes insluit) sou hulle verhoed om Hom - wie se geboorte selfs deur die natuur aangekondig was - te vind nie. Hulle vra vrae ... allerhande vrae en maak seker hulle aandag word nie van hul lewensveranderende soektog afgetrek nie.

Daarmee saam loop hulle oor die spreekwoordelike ekstra sandduin in hulle soeke. Hulle het geen vooropgestelde idees of agendas nie en weier om te bespiegel of te argumenteer oor die Waarheid en oor die Kêrelkind van God. Nee wat, hierdie manne vanuit die ooste was sekerlik wys, omrede hulle moeite gedoen het om Jesus te vind. Hulle was pligsgetrou, gefokus, konsekwent, doelgerig en nougeset in hulle soeke na Hom en al Sy glorie.

En so begin ek wonder oor ons as mensegoed se soeke na Hom. Ek wonder oor Hom - die Skepper van hemelgoed en stofaarde, Sy Kêrelkind en natuurlik die Veilige Gees. Hy wat elke dag genoeg leidrade vir ons as mensegoed los om Hom en in al Sy glorie raak te sien en te vind.

En ek wonder oor jou en my en al die ander mensegoed op hierdie stofaarde. Ek wonder of ons (net soos die manne destyds uit die ooste) wys en slim genoeg is om Hom pligsgetrou, gefokus, konsekwent, doelgerig en nougeset te soek. Onthou, Hy is en bly die Alomteenwoordige Almagtige wat begerig is dat ons Hom in al Sy glorie sal vind. Dit moet ons sonder enige vooropgestelde idees, agendas, argumente of bespiegelinge doen.

En laastens ... laastens wonder ek waarom daar mensegoed is wat doodgelukkig en tevrede is met die omstandighede waarin hulle opgevang is. Mensegoed wat nie moeite wil doen in hulle soeke na Hom en al Sy glorie nie.

Naskrif: Die Mooiste Mooi het die sleutel in my gereedskaptrommeltjie gekry. Ek het dit per ongeluk die vorige dag daar “gebêre”.

Jer 29 vers 13 (Afr 2020) = "Julle sal My soek en vind as julle My met julle hele hart raadpleeg."

Sandkorrel baie seëninge

Los jou 👣 as jy wil by:

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192 WhatsApp: 081 568 7549

[Dankie, Valerie, vir jou voetspore wat jy hier los!] 

No comments:

Post a Comment