Sunday 13 November 2022

Is JY dalk doof?

’n Man was bekommerd dat sy vrou nie meer so goed kon hoor soos voorheen nie en hy het gedink dat sy dalk ’n gehoorapparaat mag benodig. Nie seker hoe om sy vrou te benader oor die netelige kwessie nie, skakel hy die huisdokter om die probleem te bespreek.

Die dokter deel hom mee dat daar ’n maklike informele toets is wat die man kan doen sodat die dokter ’n beter idee kan kry van die omvang van die gehoorprobleem van sy vrou.

“Hier is wat jy doen,” sê die dokter, “staan so 15 meter weg van haar en in ’n normale gesels stem praat met haar en kyk of sy jou kan hoor. Indien nie, gaan nader tot jy so 10 meter van haar af is, daarna 5 meter en so aan totdat jy ’n reaksie van haar kry.

Die aand is sy vrou in die kombuis besig om aandete voor te berei en hy het in die sitkamer gesit. Hy sê toe vir homself, “Ek is nou omtrent 15 meter weg van haar, laat ek kyk wat gebeur.” Toe in ’n normale gesprektoon vra hy: “Liefie, wat is daar vir aandete?”

Geen reaksie nie.

Dus beweeg hy maar bietjie nader aan die kombuis, omtrent 10 meter van sy vrou en herhaal die vraag, “Liefie, wat is daar vir aandete?”

Steeds geen reaksie nie.

Volgende beweeg hy na die eetkamer waar hy so 5 meter van sy vrou af is en vra, “Liefie, wat is daar vir aandete?”

Weereens geen reaksie nie.

Hy stap nader en gaan staan in die kombuisdeur, omtrent 3 meter weg. “Liefie, wat is daar vir aandete?”

Weereens is daar geen reaksie van sy vrou nie.

Hy stap tot reg agter sy vrou en vra, “Liefie, wat is daar vir aandete?”

“Jakobus, vir die VYFDE keer, ek het gesê, HOENDER!”

Die probleem is dalk nie by die ander persoon soos ons soms geneig is om te dink nie. Dit kan baie kere binne onsself wees waar die probleem is.

No comments:

Post a Comment