Showing posts with label Teetyd. Show all posts
Showing posts with label Teetyd. Show all posts

Wednesday, 29 July 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Vir Jou

As God ‘n yskas gehad het, 
was jou foto daarteen.
As Hy ‘n beursie gehad het, 
was jou foto daarin.
As Hy ‘n selfoon gehad het, 
was jy sy “wallpaper”.
Hy gee elke somer vir jou blomme.
Hy gee elke oggend vir jou ‘n pragtige sonsopkoms.
Hy gee elke aand vir jou ‘n pragtige sonsondergang.
Glo dit! 
Hy is mal oor jou!
God beloof nie dae sonder pyn, 
lag sonder seer en 
son sonder reën nie. 
Hy belowe wel sterkte vir elke dag, 
uitkomste vir trane en 
lig aan die einde van elke donker tonnel.
As God vir jou ‘n klip op jou pad plaas, 
sal Hy dit ook vir jou wegrol. 
Glo dit! 
Jy is die appel van Sy Oog!!!

Hartsake oor 'n koppie tee: Die Heer pak ons paadjie uit met die kleurvolste klippies

Klippies van:
Hoop - met jou visie altyd op Hom.
Liefde - ons deel dit graag.
Geluk - want dit is wat Hy vir ons wil hê.
Vreugde - want ons is Sy kinders.
Geduld - Hy leer dit vir ons elke dag.
Moed - om die lewe te leef.
Dankbaarheid - dat ons Hom kan ken.
Stap jou mooiste klippaadjie met die wete jou hand is altyd in Syne!

Wednesday, 22 July 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: 'n Dag gevul met wondergawes

Knielend in die stofpad
sien ek GOD se genadespoor in ons lewe. 
Soos die miertjies se ywer
om vir hul winter te voorsien, 
so voorsien ons VADER vir 
die winterseisoen in ons lewens. 
Al loop 'n mens soms grondpad en alleen, 
is SY spore van genade ALTYD daar! 
'n Mens sien dit net beter wanneer jy kniel!! 
Dis 'n nuwe DAG, 
nuwe BLADSY in jou LEWENSBOEK! 
Mag GOD vandag met SIERSKRIF daarop SKRYF! 
Van 'n DAG gevul met LIEFDE, VREUGDE, BLYDSKAP, GESONDHEID en SUKSES!

Wednesday, 15 July 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Vriendskap

Jy is vir my soos 'n handgemaakte kruik
Vol kosbare olie wat ek nuttig kan gebruik
Olie wat in der ewigheid nie kan opraak
wat ons vriendskap so wonderlik en kosbaar maak
Ek het nooit kon droom daar was 'n sielsgenoot soos jy
en ek het jou op 'n dag sommer pure-verniet gekry!

[Amori Azarel]

Hier in die aftreeoord het ons die geleentheid om tydens die laaste skof van die wedloop vriende te maak wat ons verstaan, wat in dieselfde bootjie as ons is en wat fisies nader aan ons is as ons jeugvriende, oudkollegas familie, kinders en kleinkinders.  

En dalk loop jy 'n handgemaakte kruik in jou gang raak en raak lang dae te kort en die onbekende toekoms draagliker, want daar is iemand wat jy op 'n dag sommer pure-verniet gekry het!

Wednesday, 1 July 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Moenie opgee nie, staan weer op en probeer weer

Met 'n stem vol liefde, 
so sag en so teer,
fluister Jesus Christus:
"My kind, lê jou hoof op My skoot neer.
Vergeet van jou probleme en al jou smart.
Vergeet van satan wat jou uitlok & tart.
Vergeet van die las wat swaar op jou rus.
Vergeet van jou sonde, dis reeds uitgewis.
Maak net jou oë toe en luister na My stem.
Jy is Myne, lank voor tyd het Ek jou geken.
Jy is tot alles instaat deur My krag wat Ek jou gee.
Ek sal jou paaie gelyk maak, as jy My ken in jou weë.
Ek is jou Rots, jou Verlosser, by My kan jy skuil.
Ek wil jou teen My vashou, jou troos as jy huil.
Ek wil vir jou gee meer as wat jy My vra.
Ek wil langs jou wandel en jou laste dra.
Ek wil hê jy moet weet Ek het ook vir jou die prys betaal.
Moenie opgee nie, maak nie saak hoeveel maal jy faal.
Ek vra nie wees perfek nie, Ek vra net dat jy probeer.
Wanneer jy val, moenie bly lê nie, staan op, probeer weer.
My genade is vir jou genoeg.

[Aangestuur deur Rosetta Venter]

Wednesday, 24 June 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Die stoel voor die bed

Langs die bed van 'n bejaarde Christen het 'n stoel gestaan wat so getrek was asof iemand daarop gesit het.

Toe 'n besoeker hom daarna vra, het hy gesê: "Jare gelede het ek dit moeilik gevind om te bid. My gedagtes het gedwaal, en soms het ek op my knieë aan die slaap geraak. Toe het ek die stoel voor my bed gesit en my verbeel die Here sit daarop. Van toe af praat ek met Hom soos met 'n vriend. Hy het vir my baie werklik geword. Daarom staan die stoel so by my bed. Ek is bevoorreg om daagliks 'n besoeker te hê wat werklik vir my omgee."

Later daardie week het die ou man gesterf met sy hand op die stoel.'

Ons Heiland het belowe: "Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie." (Heb. 13:5).

[HMS Richards]

Wednesday, 17 June 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Nie Godsdiens nie, maar Christus

Toe 'n prediker by 'n jong man aandring om sy hart vir die Here te gee, was sy antwoord: "Ek het vir die afgelope vyf jaar godsdiens probeer, maar dit werk nie. Ek het dit opgegee" 

"Dis niks," het die prediker gesê, "ek het vir vyftien jaar godsdiens probeer, en ek het dit ook opgegee."

"Nou, maar waarom preek u dan as dit nie werk nie?" wou die jongman weet.

"Ek het toe Christus probeer," was die antwoord, "en Hy het volkome in my behoeftes voorsien. Dis nie godsdiens wat ek aanbeveel nie, maar 'n lewende, liefdevolle Verlosser." 

Wednesday, 3 June 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Hartsmoegheid

Daar is dae wat jy net eenvoudig moeg is - nie net liggaamlik nie, maar in jou hart. Dis 'n moeg wat jy nie vir iemand kan beskryf nie. Dis juis in daardie oomblikke wat God sag fluister: “Ek gee jou nuwe krag.”

Hy sien jou trane, hoor jou gebede en weet waardeur jy gaan. Hy kan sien dat die opdraandes te veel word en dat jy nie altyd vastrapplek kry voor jou volgende tree nie. Hy los jou nie waar jy is nie. Hy lei jou weer op die regte pad, stap saam met jou, en vul jou met moed waar jy moed verloor het.

Jy is nie alleen nie… God is besig om jou hart weer sterk te maak.

Gebed:
Here, dankie dat U my altyd hoor wanneer ek roep.
Dankie dat U my nuwe krag gee wanneer ek nie meer kan nie.
Lei my vandag op U pad van vrede en hoop, en herinner my dat U nooit moeg word om my te dra nie. Amen

Wednesday, 13 May 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Innerlike lig

Mense is soos gebrandskilderde vensters.

Wanneer dit sonnig en helder is, 
skitter en gloei hulle,
maar wanneer die son ondergaan, 
word hulle ware skoonheid
weerspieël deur hulle innerlike lig.

(Skrywer onbekend)

Wednesday, 6 May 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Drie dinge ...

Die lewe van drieë!!
3 dinge in die lewe wat nooit terugkom wanneer dit verby gegaan het nie:
- Tyd
- Woorde
- Geleenthede

3 dinge in die lewe wat jy nooit moet verloor nie:
- Moed
- Hoop
- Humeur

3 dinge in die lewe wat die waardevolste is:
- Geloof
- Gebed
- Liefde

3 dinge wat 'n persoon maak:
- Hardwerkendheid
- Vindingrykheid
- Verantwoordelikheid

3 dinge wat 'n mens kan vernietig:
- Lusteloosheid
- Trots
- Woede

3 dinge in die lewe wat konstant is:
- God
- Veranderinge
- Dood

3 Wese wat jou liefhet en nooit sal verlaat nie:
- Die Vader
- Die Seun en
- Die Heilige Gees

Ek het God vir drie dinge gevra:
- Om jou as leser te seën
- Om jou as leser te lei
- Om jou as leser altyd te beskerm

Wednesday, 29 April 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Geloofsvertroue

Ek wou my tweejarige seuntjie leer wat geloof is. Ek het hom op die tafel getel, 'n entjie teruggestaan en gesê: "Willie, spring! Pappa sal jou vang." Maar die outjie sê: "Pappa, myne bang."

Ek sê toe weer: "Kom nou, Willie, moenie bang wees nie, ek sal jou vang." Hy het reggestaan om te spring, maar toe kyk hy af en sê: "Myne bang."

"Moenie na die vloer kyk nie, Willie," het ek aangehou, "Kyk reguit in my oë en spring - nou!" En toe spring die outjie in my arms.

Toe sê hy vir my: "Myne weer spring." En toe ek hom terugsit op die tafel, spring hy dadelik in my arms.

Daarna wou hy net altyd spring. Dit was asof hy nou te veel vertroue in my gehad het. Maar in God kan 'n mens nooit te veel vertroue stel nie."

[Timo Kriel - 1985] 

Wednesday, 15 April 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Hoe sê mens dankie ...

󾬕-- Vir dit wat 'n mens het?
󾬕-- Vir soveel liefde ...
󾬕-- 'n Huisie, 'n blyplek, 'n kamer in die aftreeoord ...
󾬕-- 'n Bed!
󾬕-- Heer, ek het nie veel nie ...
󾬕-- Maar dit weet U klaar!
󾬕-- Die bietjie wat ek het ...
󾬕-- Is vir my so kosbaar!
󾬕-- Heer, ek tel elke dag my seëninge ...
󾬕-- Een vir een!
󾬕-- Want ek weet ...
󾬕-- Wat ek het, is net vir my geleen!
󾬕-- Heer, soms kan my lewenstorms ook maar woes slaan ...
󾬕-- Maar steeds laat U my blyplek vasstaan!
󾬕-- Heer, U beskerm my en ...
󾬕-- My familie al ons hele lewe lank!
󾬕-- En soms weet mens nie ...
󾬕-- Hoe om U te bedank nie!
󾬕-- Heer, my geld is min ...
󾬕-- My blyplek is klein ...
󾬕-- Maar dit is so asof daar meer ...
󾬕-- Sonlig in my lewe skyn!
󾬕-- Heer, ek kyk vas in glimlagte ...
󾬕-- En kry drukkies elke dag!
󾬕-- My God ...
󾬕-- Ek kan dit weer teruggee!
󾬕-- Want U is my Krag!
󾬕-- Heer, soms laat die lewe my ook ...
󾬕-- Opdraande loop!
󾬕-- Ek het geleer waar daar lewe is ...
󾬕-- Is daar Hoop!
󾬕-- Heer, ek het leer swem toe ...
󾬕-- Die lewensbranders op hul woesste geslaan het!
󾬕-- Toe ek struikel en afdwaal ...
󾬕-- Was U die een wat verstaan het!
󾬕-- Heer, U het hartseer ...
󾬕-- Pyn en ook soms ...
󾬕-- Twyfel op my pad gebring!
󾬕-- U het weer 'n melodie in my lewe gegee toe ...
󾬕-- My hart nie meer die lied van die lewe wou sing nie!
󾬕-- U het soveel keer my uit die donker dieptes van die lewe kom haal ...
󾬕-- Juis wanneer ek dink als het my gefaal!
󾬕-- Heer, U het my totaal verstom ...
󾬕-- Toe ek heel by die wenpaal anderkant uitkom!
󾬕-- Daarom buig ek vandag my knieë in gebed en sê:
󾬕-- Dankie Heer ...
󾬕- Vir dit wat ek het.

Wednesday, 8 April 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Die tydige traktaatjie

'n Toegewyde sakeman het die gewoonte gehad om Sondaemiddae traktaatjies op straat uit te deel. Een Sondagmiddag het hy egter moeg gevoel en besluit om tuis te bly. Buitendien het dit buite begin reën.

"Gaan Pappa dan nie vandag traktaatjies uitdeel nie?' het sy elfjarige seun verbaas gevra.
"Nie vandag nie, my kind; dit reën te veel en ek voel ook te moeg om uit te gaan."
"Dan sal ek in Pappa se plek gaan," het die seun gretig aangebied.
Sy pa het eers allerlei besware geopper, maar toe sy seun by hom aanhou om te gaan, het hy nie kans gesien om te weier nie.

Hoogs in sy skik is die seun daar weg met die traktaatjies. Die strate was verlate weens die reën, maar vasberade het hy volhard, en geleidelik het die traktaatjies minder geword totdat daar nog net een oor was.

Met lang treë het hy na die naaste huis gestap en aangeklop.
"Wie's daar? Wie klop daar?" het 'n stem van binne herhaaldelik gevra; maar sonder om te antwoord, het hy aangehou met klop totdat die deur eindelik oopgegaan het.

'n Middeljarige vrou met 'n bekommerde gesig het in die deur verskyn en hom vraend aangestaar.

"Ek het net hierdie traktaatjie vir u gebring," het die seun hoflik en met 'n glimlag op sy gesig gesê. Daarop stop hy die traktaatjie in haar hand, en verdwyn haastig weer, terwyl die wind sy: "Tot siens, mevrou," na haar toe terugwaai.

'n Week daarna het die vrou by geleentheid soos volg getuig:
"Verlede Sondag was ek in wanhoop en ná 'n lang worsteling, op die punt om myself op te hang, toe daar skielik aan die deur geklop word. Ek wou nie oopmaak nie, maar die geklop het aangehou, totdat ek later verplig was om die deur oop te maak. En daar vind ek toe 'n klein engel met 'n stralende gesig, en hy gee my 'n geestelike blaadjie om te lees. Ek het meteens besef dat God my nog nie vergeet het nie, en in trane het ek op my knieë neergeval, my sondes bely en om vergifnis gevra. En die Here het my siel gered. God het op die regte oomblik Sy engel gestuur om 'n verlore skaap deur middel van 'n traktaatjie te vind."    

Wednesday, 1 April 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Hallelujalied 234

'
n Bekende Hallelujalied wat ons gereeld gesing het toe ons nog kinders was.
Lees gerus die lied deur, sing dit en oordink dit!

1. MOET EK GAAN MET LEë HANDE,
MOET EK SO MY HEER ONTMOET?
NIE EEN DAG AAN HOM GEWY NIE,
NIKS TE OFFER AAN SY VOET? 

KOOR:
MOET EK GAAN MET LEë HANDE,
MOET EK SO MY HEER ONTMOET?
NIE EEN SIEL GELEI NA JESUS,
NIKS TE OFFER AAN SY VOET?

2. DAAR'S G'N VREES VIR DOODSE BANDE,
WANT DIE HEILAND IS GETROU;
MAAR TE GAAN MET LEë HANDE
BAAR MY BITTERE BEROU.

3. O DIE JARE VAN VERKWISTING!
KON EK HULLE WEER DEURLEEF,
EK SOU HUL MY HEILAND TOEWY,
NA SY EER GEDURIG STREEF!
 
4. O GODS KINDERS, WEES TOG WAKKER,
HAAS U, WERK, DIT IS NOG DAG!
SMEEK EN STRY VIR KOSB'RE SIELE,
EERLANK IS DIT EWIG NAG!

Wednesday, 25 March 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Wonderlike genade

God het elkeen van ons só lief, dat Hy Sy eie Seun gestuur het om in ons plek vir ons sondes te sterwe, sodat elkeen wat gewillig is om Hom as Verlosser aan te neem, dadelik vergifnis mag ontvang en die ewige lewe kan beërwe. En wat meer is, aan almal wat Hom aangeneem het, gee Hy die reg om kinders van Hom genoem te word. En as Sy kinders ontvang ons hier reeds die vreugde, vrede, blydskap en hulp wat ons nodig het vir elke dag en elke uur.

Wat 'n vreugde om soveel genade uit ons Vader se hand te ontvang.

Wednesday, 18 March 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: My hande

Vandag kyk ek na my hande en ek besef ek is lief vir my hande ...
👏 My hande het my trane afgevee as ek gehuil het.
👏 My hande het my deur my skoolloopbaan geneem.
👏 My hande het my kinders vertroos en met liefde vasgehou. 
👏 My hande het hard gewerk om my gesin te voed en te sorg vir 'n skoon huis en klere.
👏 My hande hou my Bybel vas terwyl ek daagliks pitkos daaruit kry.
👏 Nou sit ek my hande saam en bid dat die Here my en almal vir wie ek omgee sal vashou en beskerm...
👏Eendag gaan ek my hande in die Here se hand sit wanneer Hy my na die Ewige Woning neem.
👏 Here, dankie vir my twee hande!!!

Wednesday, 4 February 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Jou talente is daar vir 'n rede

Moenie jou talente wegsteek nie!
Jy is daarmee geseën om ander te dien,
om vir ander ‘n lig te wees, 
om ander te bemoedig.
Gebruik altyd jou talente
na die beste van jou vermoë.
Moet dit nooit onder die maatemmer wegsteek nie.

Wednesday, 21 January 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Hy wil jou suksesvol maak

Wanneer God jou suksesvol wil maak,
sal Hy eers jou gemaksone wegneem,
Hy sal jou geduld toets,
Hy sal jou isoleer,
Hy sal jou geloof uitdaag.
Want voordat Hy jou die lewe gee waarvan jy droom,
bou Hy die weergawe van jou wat dit kan hanteer.

Wednesday, 14 January 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Waaroms verander in daaroms

Is daar geluk - bewaar dit.
Is daar 'n kruis - aanvaar dit.
Is daar onreg - stel dit reg.
Is daar teenslae - hou aan veg.
Is daar vreugde - deel dit.
Is daar 'n breuk - heel dit.
Skenk iemand jou liefde - beleef dit.
Doen iemand jou leed - vergeef dit.
Het jy geloof - wys dit.
Is daar moed - prys dit.
En laat die wêreld daarvan weet.
As jy glo sal al die waaroms 
eenmaal verander in daaroms!

Wednesday, 7 January 2026

Hartsake oor 'n koppie tee: Bly gefokus

Dis nie altyd maklik nie,
MAAR
* Moenie jou lewe met ander mense vergelyk nie.
* Hardloop jou wedloop.
* God se doel vir jou lewe is nie dieselfde as ander mense se doel nie.
* Moenie na links of regs kyk nie.
* Bly gefokus op jou roeping.