Tuesday 28 March 2023

Dinsdag-denke: Om goeie mielies te kweek

Daar was lank gelede ’n boer wat wenmielies gekweek het. Elke jaar het hy sy mielies ingeskryf by die landbouskou en soos klokslag wen hy die blou roset vir die beste mielies in die distrik.

Een jaar het die joernalis van die plaaslike dagblad ’n onderhoud met hom gevoer en iets baie interessants geleer rondom die boer se manier van mielieverbouing. Die verslaggewer het te wete gekom dat die boer sy aanplantingsaad deel met sy bure.

“Hoe kan jy dit bekostig om jou mieliesaad te deel met jou bure, terwyl hulle ook elke jaar inskryf vir die beste mieliekompetisie?” vra die verslaggewer aan die boer.

“Maar, Meneer,” sê die boer “het jy nie geweet? Die wind tel stuifmeel op van die rypwordende mieliekoppe en waai dit van saailand na saailand. Indien my bure minderwaardige gehalte mielies verbou sal kruisbestuiwing stadig maar seker die kwaliteit van my mielies nadelig beïnvloed. Indien ek goeie mielies wil hê, moet ek my bure help sodat hulle ook goeie mielies verbou.”

Die boer was terdeë bewus van die mens se interafhanklikheid van mekaar. Sy mielies kan nie verbeter tensy sy bure se mielies nie ook verbeter nie.

So is dit ook gesteld met ons lewens. Die wat in vrede wil lewe moet ook hul bure help om in vrede te lewe. Die wat gelukkig wil wees moet ook ander om hulle help om geluk te vind, aangesien die welstand van elke een verbind is aan die welstand van almal.

Dit is moontlik om weg te gee en steeds ryker te word! Dit is ook moontlik om te styf vas te hou en alles te verloor. Ja, die vrygewige man sal ryk wees! Deurdat hy aan ander water gee, les hy ook sy eie dors.

Spreuke 11:24-25
Daar is een wat ruim uitdeel en nog meer kry, en een wat terughou meer as wat reg is, maar tot sy gebrek. Die siel wat seën, word versadig; en hy wat laaf, word self ook gelaaf.

[Lees nog stories HIER]

The wrong direction


Monday 27 March 2023

Vandag se internetgebed vir jou

Here, daar is geraas in my hart.
Al word dit soms stil rondom my,
is dit of die geraas binne my net nie stil word nie.
As ek besig is, dan pla dit my nie so erg nie,
dan is dit maar soos donderweer in die verte.
Maar as dit stil word rondom my,
daar waar ek in die nag wakker lê en peins,
dan word hierdie veraf gedreun ‘n skrikwekkende storm.
En die klank is nie die majestueuse klank van ‘n simfonie
wat opwerk tot ‘n magtige crescendo nie, nee,
dis soos die oorverdowende gekap van potte en panne.
Wat ‘n lawaai.
En ek voel magteloos om dit stil te maak hier binne-in my.
Here Jesus, U wat eens die wind en die golwe aangespreek het
en dit het stil geword, maak dit stil in my.
Spreek net ‘n woord … en u vrede sal in my hart kom heers.
Ek wag … stil … geduldig.
Tot ek u liefdevolle opdrag hoor en as u vir my sê:
wees stil en weet, ek is die Heer.

(Outeur Richard Foster)

Tuesday 21 March 2023

Dinsdag-denke: Wie verhinder jou groei?

Die werknemers van ‘n groot maatskappy het teruggekeer van hul etebreek en by die ingangsportaal van die kantore is hulle begroet deur ‘n kennisgewing.

Die kennisgewing het gelees: “Die persoon wat jou die meeste verhinder het om te groei in die onderneming is gister oorlede. Ons nooi jou uit na die roudiens en laaste eerbetoon wat in die gimnasium sal plaasvind, vanmiddag om 16:00.” Almal was eers vreeslike hartseer om te hoor dat een van hul kollegas afgesterwe het, maar na ‘n rukkie was almal baie nuuskierig om uit vind wie is die kollega wat oorlede is.

Die afwagting het gegroei soos wat die werknemers by die gimnasium opgedaag het om hul laaste eer te betoon aan die oorledene. Almal het gewonder wie is die persoon wat hulle die meeste verhinder het in hul groei in die onderneming en elke een het gespekuleer wie dit kan wees. Die meeste se gevoel was in elk geval, “Maak nie regtig saak wie dit is nie, ten minste is hy of sy nie meer daar nie!”

Een vir een het die werknemers nader gestaan aan die oop kis en wanneer hulle in die kis kyk was almal sprakeloos. Hulle was geskok, so asof iemand hul diepste wese aangeraak het.

Daar was ‘n spieël binne die kis en elkeen wat inkyk kon sy eie refleksie in die kisbodem sien.

‘n Nota was langs die spieël aangebring wat as volg gelees het:

“Daar is slegs een persoon wat in staat is om beperkinge op jou groei te plaas: dit is JYSELF.”

Jy is die enigste een wat in staat is om jou lewe te verander. Die enigste persoon wat kan bepaal hoe gelukkig jy vandag gaan wees of hoe suksesvol. Jy is die enigste persoon wat jouself kan help of jouself belemmer om te groei.

Jou lewe verander nie as jou werkgewer verander, of jou vriende verander, of jou ouers verander, of jou lewensmaat verander of jou kinders verander nie.

Jou lewe verander slegs wanneer JY verander, wanneer jy verder strek as wat jy dink jy in staat is om te strek.

Wanneer jy glo dat jy tot alles in staat is, slegs dan eers sal jy werklik tot alles in staat wees.
Jy moet lief wees vir jouself en in jouself glo, want hoe anders sal jy jou naaste kan liefhê of in jou naaste glo as jy nie in jouself glo nie

[Nog stories HIER]

Monday 20 March 2023

Vandag se internetgebed vir die Oekraïne

Vader, ons het U nodig - soos nog altyd.
U is ons bron van krag en U sê vir ons om al ons bekommernisse aan U te gee.
Bring beskerming en genesing aan die mense in die Oekraïne.
Wys hulle dat U by hulle is en dat U hul gebede verhoor.
Versterk asseblief enigiemand wat seergemaak, alleen of gebroke voel.
Vervang enige gevoelens van angs, vrees en onsekerheid met U vrede en hoop.
Nader tot God, en Hy sal tot jou nader.
In die Naam van Jesus.

Amen.

Tuesday 14 March 2023

Dinsdag-denke: Die Teekoppie

Hierdie verhaaltjie is gebaseer op Jeremia 18:6b: “Sal Ek nie soos hierdie pottebakker met julle kan maak nie, o Huis van Israel? Spreek die Here. Kyk, soos klei in die hand van die pottebakker, so is julle in my hand, o Huis van Israel.”

Daar was ‘n paartjie wat gereeld na Engeland gereis het, en daar het hulle in die mooiste winkels inkopies gedoen. Albei het baie van oudhede en ‘pottery’ gehou, veral teekoppies.

Tydens hulle 25ste huweliksherdenking het hulle weer na Engeland gereis en in ‘n pragtige winkeltjie op die besonderste teekoppie afgekom. Hulle het die eienaar van die winkel gevra of hulle na hierdie besonderse teekoppie mag kyk, want hulle het nog nooit so ‘n besonderse een raakgeloop nie.

Soos die eienaar van die winkel die teekoppie aan hulle gee, het die teekoppie skielik begin praat ...

“Julle verstaan nie, ek was nie altyd ‘n teekoppie gewees nie. Daar was ‘n tyd toe ek net ‘n bondel rooi klei was. My meester het my gevat, my gerol en my oor en oor gedruk, aan my getrek, en my gebrei, ek het uitgeroep: “LOS MY UIT!”, maar Hy het net vir my geglimlag en gesê: “Nog nie.”

Daarna het Hy my op ‘n pottebakkerswiel gesit, en skielik het ek al in die rondte begin spin, om en om en om. Weer het ek uitgeroep: “STOP EK IS DUISLIG”, maar my Meester het net Sy kop geskud en weer gesê: “Nog nie.”

Hierna het Hy my in ‘n baie warm oond gesit. Ek het nog nooit sulke hitte gevoel nie. Ek het heeltyd gewonder hoekom Hy my wou brand. Ek het weer geskree en aan die deur van die oond geklop. Ek kon hom deur die opening sien, en ek kon sy lippe lees toe Hy sy kop skud en sê: “Nog nie.”

Uiteindelik het Hy die deur van die oond oopgemaak en my op ‘n rak gesit om af te koel. Dis beter, het ek gedink, en toe het Hy weer begin, hierdie keer om hele lyf met goed te smeer wat my wou laat versmoor. Terwyl ek na my asem smag het ek gehuil: “Stop dit, stop dit!” Weer het Hy net Sy kop geskud en gesê: “Nog nie.”

Skielik het ek WEER in die vreeslike warm oond beland, maar hierdie keer was die oond twee keer so warm soos tevore, en ek het geweet dis klaar met my. Ek het gesmeek, ek het gepleit, ek het geskree, ek het gehuil. Die hele tyd kon ek Hom deur die oond se deur sy kop sien skud en sê: “Nog nie.”

Toe het ek geweet dat daar geen hoop meer vir my was nie, dit was klaar met my gewees! Ek sou dit nie maak nie! Ek was reg om op te gee. Maar Hy het die oond se deur oopgemaak en my weer op die rak gesit. ‘n Uur later het Hy vir my ‘n spieël gegee en gesê dat ek na myself moes kyk. Dis nie ek nie, dit kan nie ek wees nie! Dis pragtig! Ek is pragtig!

Ek wil hê jy moet die volgende onthou, het my Meester aan my begin verduidelik. Ek weet dit het jou seergemaak toe ek jou gerol, gerek en gebrei het, maar as ek jou gelos het, het jy uitgedroog en hard geword.

Ek weet dit het jou duislig en naar gemaak toe jy op die wiel gespin het, maar as ek jou gelos het, het jy verkrummel.

Ek weet die oond was warm en nie lekker gewees nie, maar as ek jou nie daarin gesit het nie, sou jy gekraak het.

Ek weet die walms van die verf het jou laat voel asof jy wou versmoor toe ek jou daarmee geverf het, maar as ek dit nie gedoen het nie, sou jy nooit hard geraak het nie, jy sou nie gehou het nie.

Nou is jy ‘n afgewerkte, finale produk. Presies wat ek in gedagte gehad het toe ek aan jou begin werk het.

God weet wat Hy vir en aan ons almal doen. Hy is die Pottebakker, en ons is Sy klei. Hy sal ons vorm en ons brei totdat ons die volmaakte stuk werk is om Sy wil uit te voer.

Monday 13 March 2023

Vandag se internetgebed vir jou

Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom?
My hulp is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het.
Hy kan jou voet nie laat wankel nie; jou Bewaarder kan nie sluimer nie.
Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie.
Die HERE is jou Bewaarder; die HERE is jou skaduwee aan jou regterhand.
Die son sal jou bedags nie steek nie, die maan ook nie by nag nie.
Die HERE sal jou bewaar vir elke onheil; jou siel sal Hy bewaar.
Die HERE sal jou uitgang en jou ingang bewaar, van nou af tot in ewigheid.

Psalm 121 - ’n BEDEVAARTSLIED

Tuesday 7 March 2023

Dinsdag-denke: Die koei en sy gewete


In Noord-Korea, het Chung Ju Yung (toe 17 jaar oud) een van sy pa se koeie verkoop, die geld gesteel en na Suid-Korea gevlug.

Hy het 'n besigheid begin, naamlik HYUNDAI, Suid-Korea se grootste konglomeraat, met meer as 50 maatskappye, wat alles van karre en rekenaarskyfies tot skepe en staal vervaardig het.

Chung het gesê dat hy in Suid-Korea "sy hele lewe geleef het met die opregtheid en ywer van 'n koei". Die koei wat hy van sy pa gesteel het, het egter altyd op sy gewete gelê. Alhoewel sy pa gesterf het, het hy steeds bly wonder hoe hy kan opmaak vir die stelery.

Noord-Korea het op daardie stadium 'n verskriklike hongersnood ervaar, maar 'n wrede Kommunistiese regering is in beheer. Die grens tussen Suid- en Noord-Korea is die strengste ter wêreld bewaak, met byna twee miljoen troepe aan beide kante.
Selfs die vorige predsident van die VSA, Jimmy Carter, moes Noord-Korea via Beijing binnegaan toe hy gereis het om die gewese president van Noord-Korea te ontmoet.

Chung Ju Yung, 82, die stigter van die reuse Hyundai-groep, was die eerste Suid-Koreaanse burger wat toegelaat is om die grens na Noord-Korea oor te steek, met geen regeringsamptenare wat hom vergesel het nie. Suid-Korea se rykste man is toegelaat om 500 beeste op vragmotors in Noord-Korea in te neem om die verhongerde mense te help.

"Ek keer nou terug om die skuld te vergoed wat ek my pa aangedoen het," het hy gesê. "Ek hoop hierdie besoek sal 'n hoeksteen van vrede en versoening tussen ons twee strydende Koreaanse nasies lê."

[Japansending: Januarie/Februarie 2012]

Monday 6 March 2023

Vandag se internetgebed vir jou

Mag die Here jou seën met ongemak oor maklike antwoorde,
halwe waarhede en oppervlakkige verhoudings
sodat jy uit die diepte van jou hart kan leef.

Mag die Here jou seën met woede oor onreg,
onderdrukking en die uitbuiting van mense
sodat jy kan werk vir geregtigheid, vryheid en vrede.

Mag die Here jou seën met trane om te stort vir mense
wat pyn, verwerping, honger en oorlog ervaar
sodat jy ’n hand kan uitreik en hulle pyn in blydskap verander.

En mag God jou seën met genoeg dwaasheid om te glo
dat jy ’n verskil in die wêreld kan maak
sodat jy dinge sal kan doen wat ander mense dink nie gedoen kan word nie

(’n ou Fransiskaanse seën)

Sunday 5 March 2023

WATERDRUPPEL vir die WEEK = Sanna met die hart wat pronk

Groete en Vrede!!!

So met die laaste stukkie geloop in die voetpaadjie na Sanna se plekkie toe, besef ek opnuut waarom soveel voorwêreld mensegoed beduie dat hierdie deel van die Kalahari hulle se hartsplek is. Hulle reken hier kan meer as net jou dink rondloop - selfs jou menswees ook. Veral as jy dapper genoeg is om met sonop of sonsak saam, jou oë stadigaan te laat wandel tot daar waar die verste sien ophou.

Ek en die Mooiste Mooi is moeg vandag. Diep moeg. Selfs die murg van ons gebeendere is moeg. Met ‘n goudkleurige sonsak wat die westelike kim omsoom, wil ons veel eerder omdraai en langbeen gaan sit by die Kuierplek op die vlak. Nie een van ons het vandag enigsins lus om by Sanna te gaan oorstaan nie, maar ons weet ons moet. 

‘n Skril gelag op die winkelstoep ruk my binneste terug tot die rou werklikheid van menswees hier in die Kalahari. So onthou ek weer vele kere wat Sanna hier op dieselfde winkelstoep haarself oorgegee het aan die benewelde en verslawende wêreld van te veel soetwyn. 

Sanna - vanweë vroeër jare se vreeslike losbandige leefstyl - is deesdae bloot net ‘n stukkie asem. Sy is spreekwoordelik vasgevang op haar geroeste enkelbed wat in ‘n piepklein een vertrek sinkhuisie op klipperige grond staan. Die voormalige voordanser wat meer as die murg van ‘n partytjie was, is deesdae heeltemal uitgelewer aan ander mensegoed se genade. Sanna se lewensvlam is byna geblus want sy kan niks meer vir haarself doen nie ... sy kan skaars praat, skaars eet en kan glad nie meer loop nie.   

Ons was nog so ‘n entjie van Sanna se plekkie af toe haar broer (wat ook ‘n losse leefstyl het en ‘n klipgooi van Sanna af bly) my nader wink. Hy het gesien ons loop in hulle rigting nou wou hy opslag gesels. Later daardie selfde aand, het ek verstaan waarom die Mooiste Mooi alleen by Sanna oorgestaan het. 

Met die enigste deur van die een vertrek sinkhuisie wat wawyd oopstaan, het die Mooiste Mooi sommer half ongenooid ingestap en gegroet.  Daarna het die twee vrouens - net soos vroue kan - in vrouetaal met mekaar begin gesels. Eers oor ditjies en datjies en toe oor koeitjies en kalfies en uiteindelik oor die moeiliker sake van die lewe. Dit is tóé dat daar hoofsaaklik net oor Sanna se enigste meisiemens gepraat is. ‘n Meisiemens van amper 10 jaar oud wat die afgelope maand of twee, elke aand moeite doen om by haar ma se doodsbed te kom oorstaan. Dan word daar met kinderlike opregtheid ‘n teksversie gelees en ‘n kinderlike gebed gebid. En net voor die nag se donkerte hierdie meisiemens finaal omvou voor sy loop, word Sanna gegroet met “Hoor mooi my ma, hoor mooi. Ma-goed moet net vertrou. Alles sal regkom my ma ... jy moet net vir Jesus vertrou.” Groetwoorde wat elke nag lank in Sanna se ore refrein. 

Tyd spoed soos ‘n reisiesperd verby. ‘n Uur of wat later sukkel Sanna met haar benerige hande om die dankbaarheid uit haar natblink oë te vee toe die Mooiste Mooi haar groet. Dankbaarheid omrede die Kêrelkind van God vanaand ook haar hart soos ‘n springbok laat pronk. Sanna het Hom gevind. Sy het Jesus gevind en Hom begin vertrou - net soos haar meisiemens gevra het.

En deesdae ... deesdae vertel sy vir almal wat kom oë wys van haar hart wat pronk, want Sanna besef elke dag hoe waardevol en kosbaar sy regtig vir Hom is. Dit is nou ongeag al haar foute en al haar tekortkominge wat tog so duidelik in haar vermaarde liggaampie sigbaar is. As ontvanger van onverdiende genade besef Sanna dat niks hiervan moontlik sou wees as dit nie vir Hom was nie.   

Jer 17 vers 7 (Afr 20) = "Geseënd is die man wat op die Here vertrou, wie se vertroue die Here is."

Sandkorrel baie seëninge. 

Los jou 👣 as jy wil by:

Divine Life Bediening (HJ & Dalene Cronjé)
Selnr: 082 772 2192
WhatsApp: 081 568 7549 

[Dankie, Valerie, vir jou gereelde bydraes tot hierdie blog. Ons waardeer dit.]

Liefdesbrief aan Suid-Afrika

Liefdesbrief aan Suid-Afrika van 'n luisteraar ... (geplaas deur Amore Bekker van RSG)

Suid-Afrika, ek sit vanoggend langs jou hospitaalbed terwyl my trane vlak lê ... Ek byt op my tande dat die sluise van my oë nie moet oopgaan nie. Ek probeer om nie vir die wêreld te wys presies hóe seer my hart is nie. Ek klou krampagtig vas aan jou (nou nog) warm hand wat voel soos ‘n soel Karoonag. Waar jy met toe oë lê, wil ek jou vertel van die mooiste tye daar op die Letaba-brug, hoe die koue seewater my kleintyd op Bloubergstrand gekielie het as die son oor Tafelberg ondergaan, daar in jou moederstad.

Suid-Afrika, maak asb. jou oë oop, ons wíl jou nie verloor nie. Moenie dat hierdie virus jou onderkry nie ...  Jou koors is hoog, ek kan sien jy kry swaar.

Waar kan ek die dokter gaan roep, die medikasie het tans geen effek nie. Jou mense is moedeloos, hulle is bang ...

Suid-Afrika, waar ek hier neffens jou sit, sien ek hoe moeilik jy asemhaal. Ek wens vir Struisbaai se wind, net om jou weer te laat lag soos ‘n kind.

Suid-Afrika, ek bid vir jou, klou vas aan hierdie lewe asseblief.

Ek wil ‘n nat lappie op jou voorkop sit, enige iets om jou te verfris soos die see se sproei op Seepunt se promenade.

Ek is KWAAD dat jy hierso beland het, jou geld is gesteel, jou mense vermoor hulle geliefdes. Ek kan verstaan dat dit nou sy tol eis.

Suid-Afrika, ek soebat jou. Klou vas aan hierdie lewe. Moenie nóu moed opgee nie. Dink aan Roete 62, die masjestueuse Drakensberge. Jy is mos al baie heuwels oor, ek wil só graag weer hê dat jy ‘n visarend hoor!

Ek wil weer saam met jou melktert eet, om ‘n kampvuur die hitte geniet.

Kom ek maak jou toe met hierdie kombers van hoop, net soos jy my altyd omvou het met ‘n gevoel dat ek aan jou behoort.

Byt vas Suid-Afrika, ons sal by jou staan met geloof, hoop en ‘n reënboog vol liefde.

Karina van die Kaap.