Showing posts with label Oumawenke. Show all posts
Showing posts with label Oumawenke. Show all posts

Thursday, 11 June 2026

Jogurt: Die wondervoedsel

[Dink hieroor: Kossoorte wat jare by mense se lewe toevoeg, verander net soos die modes.] 

Jogurt het geen magiese kragte wat jou 'n langer lewe kan besorg nie, maar dit is heilsaam genoeg en heerlik daarby!

Dit is vanweë die uitsprake wat 'n Russiese wetenskaplike, Mechnikoff, aan die begin van die eeu gemaak het dat daar soms magiese kragte aan jogurt toegeskryf word.   

Hy het die geheim van 'n lang, gesonde lewe in die Bulgaarse Alpe gaan soek, omdat baie mense van dié streek tot 100 jaar of ouer geword het. Tot sy verbasing het hy ontdek dat dié mense groot hoeveelhede van 'n sekere gefermenteerde melkdrank drink. Hy het dadelik - sonder enige verdere navorsing - bekend gemaak dat dit die geheim was.

Só het jogurt as wondervoedsel bekend geword en die ongegeurde soort word selfs vandag nog as Bulgaarse jogurt verkoop.

Ongelukkig was Mechnikoff se uitspraak nie geldig nie en die mense se lang lewens word nou ook eerder aan genetiese redes toegeskryf as aan die gereelde inname van jogurt.

Tog bevat jogurt voedingstowwe wat van groot belang is. Die gesondheidsvoordele van jogurt is dat dit baie proteïene, kalsium, vitamiene A en 'n bietjie van die vitamien B-kompleks bevat. Dit is besonder voordelig vir mense wat jogurt mag eet, maar nie ander produkte wat vitamien B-kompleks bevat nie soos volkoringbrood en vleis.

Mense met 'n laktose-onverdraagsaamheid - wat nie suiwelprodukte kan gebruik nie - se spysverteringstelsel kan wel jogurt verteer. Diarreelyers kan ook maar jogurt by hul dieet insluit aangesien dit lyk asof die mikro-organismes wat in die spysverteringstelsel nodig is, vermeerder met die inname van jogurt.

[Bron: Rooi Rose 27 Februarie 1991 - Sonja Jordt]

Thursday, 15 January 2026

Ouma se wenke: Begin 2026 op 'n goeie voet met jou kleinkinders

Die eerste en grootste geskenk, na my mening, wat 'n ouma (en/of oupa) 'n kleinkind kan gee, is liefde. 
* Baie daarvan. 
* Soveel as jy kan. 
* Kinders suig dit op soos 'n spons
* Hulle baai daarin en dit gee hulle selfvertroue 'n hupstoot.

So dikwels wonder grootouers wat kan ons doen en beteken vir ons kleinkinders, sonder om die ouergrense te oortree.

Lees gerus Johan en Nina Smit se boek "Loshande die beste oupa en ouma: om die wêreld vir jou kleinkinders te beteken."

In hierdie boek word belangrike onderwerpe aangeraak. 
* Aspekte soos die voorbeeld wat grootouers stel. 
* Die kleinkind se godsdiens en hoe daaraan gebou kan word. 
* Die effek wat egskeiding op die kleinkind kan hê. 
* Hoe die kleinkind begelei kan word om dood en afskeid te kan hanteer. 
* Selfs die dood van 'n kleinkind en die verwerking van die seer deur die grootouers. 

Die outeurs probeer om sentimentele gesprekke rondom kleinkinders te vermy en om dieper te grawe in die verhoudings waarin grootouers met hulle kinders en kleinkinders staan. Die boek bevat kostelike verhaaltjies van kleinkinders se sêgoed en hulle kinderlike opregtheid teenoor hulle oupas en oumas. Een van die hoofstukke van die boek beskryf 'n hele aantal getuienisse van laerskoolkinders oor hulle oupas en oumas.

Klik HIER vir meer inligting.

Onthou, wees die beste oupa en ouma wat jy kan wees. 
Dit beteken nie materiële geskenke nie, 
maar onthou-geskenke, omgee-drukkies en 
ore wat aandagtig luister sonder kritiek. 
Geniet jou kleinkinders!