Showing posts with label Predikant. Show all posts
Showing posts with label Predikant. Show all posts

Wednesday, 5 March 2025

Gebed voor ete

Die nuwe dominee op die dorp word uitgenooi na 'n manne-ontbyt saam met 'n groep boere. Hulle vra een van die ouer boere om die seën vir die ete te vra.
"Here," begin hy.
"U weet hoe ek karringmelk haat?"
Die dominee is geskok. Hy loer onderlangs na die boer. Hy is ongemaklik, hy weet nie wat om te dink nie.
"Here ek haat varkvet," bid die boer voort.
Die dominee is geskok. Hy loer weer onderlangs na die boer. Hy is ongemaklik, hy weet nie wat om te dink nie.
"En Here, U weet dat ek rou koekmeel nie kan vat nie," bid die boer voort.
Die dominee loer weer en sien dat van die ander boere ook ongemaklik raak.
Die boer bid voort: "Maar Here, wanneer ons dit alles saamgooi, dit meng en bak, kry ons die lekkerste beskuit.
So, Here, wanneer dinge gebeur waarvan ons nie hou nie, wanneer die lewe druk en ons sukkel om te verstaan wat U vir ons wil sê, help ons om te ontspan en op U te wag, terwyl U die bestanddele meng en die beskuit bak.
Ons kan nie wag vir die beskuit nie.
Daar is baie dinge waarvan ons nie hou nie en die mengproses is nie altyd lekker nie, maar kom ons ontspan en fokus op die eindproduk. Kom ons sien met verwagting uit na dit wat God vir ons wil gee.
My "beskuit" is in die Here se oond!! Ek kan nie wag nie . . !
Amen!!"

[Dankie, Valerie, vir hierdie ongelooflike les.]

Saturday, 1 October 2022

Die stoel voor die bed ...

‘n Man se dogter het die plaaslike predikant gevra om vir haar pa te kom bid. Toe die dominee opdaag, kry hy die man in die bed met twee kussings onder sy kop. Langs hom het 'n leë stoel gestaan. Die besoeker aanvaar toe dat die pasiënt hom reeds al verwag het.
"Ek sien u het my verwag," sê hy.
"Nee, wie is jy? - vra die bejaarde man.
Die dominee stel homself voor en merk op:
"Ek het die leë stoel gesien en toe aanvaar dat u dit vir my laat regsit het."
" O ja, daardie stoel,” sê die ouer man. "Sal jy asseblief die deur vir my toemaak?”
Die besoeker maak toe so.

Die ouerman begin toe praat :
“Ek het dit nog nooit vir enige iemand vertel nie, nie eens vir my dogter nie, maar in my hele lewe het ek nog nooit geleer om te bid nie. By die kerk het ons leraar oor gebed gepreek, maar dit was alles bo my vuurmaakplek, maar een dag, omtrent vier jaar gelede, het my beste vriend vir my gesê - Jannie, gebed is maar net eenvoudig 'n gesprek met Jesus, ek stel dus voor dat jy 'n stoel neem en dit voor jou bed sit, dan stel jy jouself voor dat Jesus op daardie stoel sit. Dis nie verkeerd nie, want Hy is tog orals, praat dan net met Hom soos wat jy nou met my praat. Ek het dit dus gedoen en ek hou so baie daarvan dat ek dit 'n paar uur lank elke dag doen, maar ek is versigtig, as my dogter sou sien hoe ek met 'n leë stoel gesels, stuur sy my sowaar na 'n gestig toe.”

Die leraar is diep geroer deur hierdie vertelling en het die pasiënt aangemoedig om so aan te gaan soos hy doen. Hy het toe saam met die ou man gebid en huis toe gegaan. Twee aande later bel die dogter om vir hom om te sê dat haar pappie daardie middag oorlede is.

"Het hy in vrede gesterf ?" vra hy.

"Ja, toe ek die middag twee-uur uit is, het hy my geroep, my vertel dat hy vir my lief is en my gesoen. Toe ek 'n uur later van die winkel af terugkom, het ek hom gekry, maar daar was iets snaaks, blykbaar het hy net voor hy gesterf het, oorgeleun na die stoel se kant toe en sy kop op die stoel neergelê, so as of hy sy kop op iemand se skoot sou neer lê, wat sou dit nou beteken? "

Die predikant vee 'n traan af en sê: "Ek weet nie, maar ek wens ons kon almal so heen gaan met ons kop op JESUS se skoot"

Ons behoort nie te bid sodat mense ons gebede kan hoor nie, ons gebede is bedoel vir God. Gebed is intieme geesteskommunikasie tussen jou gees en die Gees van God wat in jou woon. Dit is Jesus se begeerte om jou met Sy liefde te oorweldig, Hy is die volmaakte Vader en Hy wag vir jou gesprek met Hom.

[Oorgeneem]